Sommer ongelukkig en omgekrap

Van Vrydagaand af wou ek al begin oplees en skryf aan ‘n inskrywing, maar een of ander rede is ek net nie lus daarvoor nie en half geïrreteerd daarmee.  Die krapperigheid wil maar net nie weg gaan nie.  Daarom sit ek nou hier en skryf, met geen interessante inligting nie, met eintlik weinig positief om by te dra, en met die wete dat die arme mense wat hulle tyd mors om hier ‘n draai te maak,  met net ‘n gemors van tyd weg gaan stap.  Maar dit is dit.  Ek het nou op my pad met my sitvlak in hierdie modderpoel beland, en nou moet ek dit deel, want anders draai ek mos net die blink kant na bo, en blink en aangenaam is my reis nie altyd nie. 

Ek dink my ongelukkigheid het in die week begin toe ‘n gesprek tussen my en ‘n vriendin ‘n draai by godsdiens gemaak het.  Alhoewel ek probeer om die onderwerp te vermy, beland ek dikwels pens en pootjies in so ‘n gesprek, ek het gewoonlik geen idee hoe die gesprek daarby uit gekom het nie.  Sy is ‘n christen (soos al my vriendinne), en nadat ek probeer het om net te luister, is ek tog ingetrek, en het vir haar probeer verduidelik hoe ek op die oomblik spiritualiteit beleef. Onthou, ek het nou weg beweeg van die glimlag en instemmende kopknik-fase.  Ek moet sê, dit was ‘n baie makliker manier om geestelike episodes en gesprekke te hanteer. 

Dit is soos baie keer moeilik om in woorde vas te vang wat deur my kop gemaal het vanaf daardie eintlik heel gewone gesprek af, so ver as wat godsdienstige gesprekke aan gaan.

Soos ek al hoe meer agter kom, neig my ervaringe en dit waarmee ek myself kan vereenselwig, wat vir my betekenis het en wat my positief laat voel op die oomblik waarskynlik om “new age” te wees.  Ek het nie regtig ‘n goeie idee wat “new age” is nie, en miskien het ek maar net onwetend in die aanloklikheid daarvan getrap voordat ek dit eers kan definieer, of eens ‘n Afrikaanse woord daarvoor ken.  Al wat ek weet is dat dit vir my ‘n baie positiewe ervaring is.  Dit is werklik vir my aangenaam om my, my lewe en almal om my te omhels met liefde en positiewe energie.  Om net te wees, en om na die beste in alles te soek en om dankbaar te wees.  Om die natuur raak te sien, na mooi musiek te luister, en my daarin te verloor.  Om wetenskap te beoefen en met verwondering oor nuwe uitvindings te wete te kom, en te lees en luister na nuwe idees en ander oortuiginge, sonder om dit te veroordeel.  Ek is seker maar ook ‘n volstruis, want ek verkies ook om ‘n dowe oor en blinde oog te draai in my daaglikse spirituele lewe op die negatiewe wat my nie aanstaan nie, soos so dikwels byvoorbeeld politiek en geweld.  Ek hou nog daarvan om oor lewe en dood te dink, oor niks en oor iets, en oor hoe min ons weet, en selfs dat ons maar vervlietend is, en wanneer ons doodgaan daar net niks oorbly nie.  Dit is nie lekker nie, maar dit is ook nie vreesaanjaend nie, dit is maar net.  Dit keer my nie om die beste wat ek kan uit die lewe te haal nie, beide met my verstand en my gevoel.

My vriendin is ‘n pragtige mens.  Sy het my vertel van haar positiewe ervaring en vertroosting om ‘n christen te wees, en hoe al die vrae nie meer saak maak vandat sy haar hart vir die Here en vir Jesus gegee het nie.  Sy weet daar is net een manier om verlos te word, en dit is om te glo dat Jesus Christus vir ons sonde gesterf het.  Sy weet daar is baie dinge waaroor ‘n  mens vrae kan vra, maar sy weet sy is reg, en eendag sal ons alles weet.  Sy het my verseker dat sy my nie veroordeel nie, sy kry my net jammer.  Sy gaan toe voort, om soos wat ek baie van alle kante af hoor, te vertel dat die wederkoms baie, baie naby is.  En sonder dat ek eers die woord “new age” genoem het (ek sê mos ek is “new age” sonder dat ek eers weet ek is “new age”), sê sy sy is bekommerd dat dit so vinnig toeneem, maar sy is ook bly, want sodra dit die wêreld behoorlik oorheers, kom christus weer.  Maar, probeer sy my troos, dalk sal God in sy genade vir mense soos ek ‘n tweede kans gee voor die groot oordeelsdag, selfs al sou ons nie hier op aarde tot bekering kom nie.  Sy het met my gedeel hoe sy tot bekering gekom het, en soos altyd was dit so opreg, ek kan nie anders om te glo dat dit die ervaring is wat sy beleef het nie.  Sy het nog baie ander dinge gesê, onder andere ook hoe slinks en slim die duiwel is.

En so is ek weet gelaat met die vae gevoel dat al vind ek die liefde en spiritualiteit wat ek ontdek so positief, is ek eintlik deur satan verlei, en is ek nou op pad hel toe.  My lewensgeluk en voorspoed is te verduidelik, want ek sal nie beproef word en aangeval word deur die duiwel nie, want ek is nie een van God se kinders nie.  Ek kry ook die gevoel dat ek waarskynlik deur beproewing moet gaan om my tot God te keer, en dat dit dalk die manier is waarop God my na hom toe terug sal lei.  Na alle kante toe, lyk my toekoms nie rooskleurig nie, veral nie wanneer ek die ewigheid ingaan nie.  Maar dalk sal alles ten goede uitwerk, want sy bid ook nou vir my.  (En hierdie sê ek opreg nie sonder respek nie.  Dit is vir my net so bitter frustrerend dat ek maar elke keer weer in die vrees en twyfel verval … maar dit is seker omdat ek nie gered is en die sekerheid in die geloof het nie.)

Ek vra groot om verskoning vir die negatiwiteit, met al my liefde!

(Naskrif: In my soektog vir ‘n mooi prentjie of foto om onsekerheid of verwardheid uit te beeld, om hierdie inskrywing ‘n bietjie kleur te gee en om die negatiwiteit ‘n bietjie te lig, het ek op hierdie prentjie afgekom op ‘n web blad oor “When is a Braitenberg architecture all you really need?” in inligtingskunde (“informatics”).  Ek weet nie eens of inligtingskunde ‘n goeie vertaling vir “informatics” is nie, en van die inhoud van die bladsy weet ek minder as nul, maar so op die oppervlak geskandeer, miskien kan ek my onsekerheid op ‘n manier wiskundig oplos?  Dalk as ek minder keuses gegun word?)

27 Responses

  1. Moet nie wees nie! Jy’s ‘n diep denker! Die Christene verkies om nie te dink nie en net te glo soos ‘n kind. Wat natuurlik oukei is, maar gelukkig oe ja!!! Is daar…
    DIE ANDER.
    So lat ons dink… en lees en lees en lees en praat en sing en als wat mens laat LEWE … en daaroor skryf!!

    Slàinte! (dit meen CHEERS!!! in GALLIES hehe)

    Love
    Anne

  2. […] « Sommer ongelukkig en omgekrap  en  Nie die einde oor die terme spiritualiteit en christen nie  deur  […]

  3. Annerkant, ek kan uit wat jy skryf so ietsie ervaar van die emosies waardeur jy gaan. Weereens is ek verwonderd oor hoe eerlik jy is oor jou ervarings. Ek glo tog dat die reis waardeur jy gaan wel ‘n lig aan die einde daarvan het. Dis goed dat jy diep oor dinge dink en soveel as moontlik probeer verstaan. Nogtans moet mens aanvaar dat mens dalk nie alles sal kan verstaan nie. Moenie moedeloos word as dit die geval is nie.

  4. Hallo Annora (Anne 🙂 ). Ek voel darem vanaand al beter en meer in beheer. Elke keer wanneer ‘n christen so ernstig met my praat, raak ek so angstig. Ek hoop ek sal sekerder oor myself raak, na watter kant toe ook al. Ek wens ek kon myself ‘n “diep denker” noem, en nie net lekker deurmekaar nie. 😉 Maar dankie vir die kompliment.
    Darem het jy hier by my wroeginge aangevloei gekom, en jou rivier se water bietjie oor my voete laat spoel, en dit het gehelp om my weer gelukkiger en rustiger te laat voel. Dit is regtig aangenaam! Dankie ook vir jou inskrywing na aanleiding hiervan. Ek waardeer dit!!! Het daar ook sommer ‘n laaaaang “comment” gelos!
    Gallies? Skies my onkunde, maar is dit nie die “ou” taal daar in Wallis nie? Hoe pas dit by jou? Ek glo nie ek sal ooit die woord kan onthou nie!!!! Te vreemd! 🙂

  5. Hi Flippiefanus. Dankie dat jy selfs kans sien om deur die “vroulike” 😉 emosies te lees. Ek is eerlik, so eerlik as wat ek myself kan dwing om te wees, want ek het besluit om te wees, anders sal die blog nie regtig iets vir myself of dalk vir iemand anders wat deur dieselfde dinge gaan, beteken nie. Dit is nogal vir my vreemd en angswekkend om so oop te maak!!! Maar dit help darem ‘n klein bietjie dat dit onder ‘n skuilnaam is! Gelukkig voel ek my nie genoop om my sondes te belei nie!!!

    Ek weet nie, jong, ek “dring aan” om te kan verstaan!

    Ek is nou op pad om daar by jou jou waarheidinskrywing te lees. Sien uit daarna.

  6. Mans het eintlik net soveel emosies as vrouens. Dis maar net die samelewing wat van ons verwag om dit weg te steek. 🙂 Ek kom nou net van die kerk af en daar het ek liedere gesing wat my so emosioneel laat voel het dat ek op ‘n stadium gevoel het ek bars net daar en dan uit in trane. Maar ek kan mos nie, so nou onderdruk ek dit maar. 🙂

    Nou wat nou as dit net eenvoudig nie moontlik is om te verstaan nie? Is dit ‘n vereiste dat mens slim moet wees om saligheid te kan ervaar?

  7. @ Annora – ek dink nie alle Christene verkies om nie te dink en net te glo soos ‘n kind nie. So, as ek glo soos ‘n kind, as ek my geloof in die Onsienlike plaas, beteken dit ek dink nie? Met alle respek, jy maak ‘n fout.

    Selfs ons wat in God glo soos ‘n kind, het ook vrae. Waar het jy al ooit ‘n kind gesien wat nie vrae vra nie? Dis juis kinders wat soms die moeilikste vrae vra.

    Annerkant – ek gaan nie sê ek bid vir jou of niks sulke goete nie. Ek dink net jy is baie eerlik om jou soeke so openlik te erken. Selfs al glo mens soos ‘n kind, is daar baie tye wat mens ook maar onseker is of wat jy glo, regtig reg is 🙂

  8. Ja’k! Jy praat waar, Son.

    Annerkant, ek comment nie eintlik nie, maar ek rooflees tog gereeld hier. 😉 Jou soeke is vir my baie interessant. Sal dit onbeskof wees om te vra of jy al iets geleer/wys geword/ontdek het? Sedert jy begin blog het, bedoel ek,

  9. Flippiefanus, hi :), ek dink ook mans mis uit omdat hulle gevoel so moet onderdruk, maar miskien word die gevoel juis meer intens omdat daar nie ‘n uitlaatklep is nie.

    Ek moes ‘n bietjie dink oor die “moet slim wees”. Ek dink nie dit is wat ek bedoel of verwag nie. Dit is meer soos dat ‘n mens moet weet, soos ‘n mens weet die son skyn, al verklaar dit nie hoe die son skyn nie, en ek dink verskillende mense verstaan op verskillende maniere. Ek persoonlik wil weet en verstaan. Ek beskou myself nie as superslim nie 🙂 , maar ek is seker as ‘n mens dit kon bespreek en bewonder, sal dit ‘n ewigheid wees van ontdek! 🙂 Hoe wonderlik! Indien God (in die wye sin) my ken, moet God my tog ook verstaan, en in my “taal” met my kommunikeer? Of is dit arrogant?

  10. Sonkind, ek dink ook dat christene baie dink en vrae vra. My ma bv. is baie intelligent, en sy bestudeer die bybel, en alles daar rondom met passie en oorgawe. Ek het bietjie vir Annora daarop gewys op haar blog. Maar waarskynlik het sy dit nie so letterlik bedoel nie, en wou my net troos. 🙂

    Ek is seker dat almal maar ‘n bietjie wonder, omdat geloof juis die kern is, en beteken dat jy daarin moet groei, want dit is nie klinklaar en uitgespel nie. Ongelukkig het christenskap net nooi vir my werklikheid geword nie. Ek dink dit was meer as net twyfel. Ek moes dit die rug keer (in ‘n mate) omdat ek nie oor so iets kon huigel nie. Maar selfs my besluit neem nie my twyfel weg dat ek dalk verkeerd is nie.

    Baie dankie vir die inloer en moeite om kommentaar te lewer!! 🙂

  11. Boendoe, ek kom ook ‘n bietjie (moet ek bely) want ek sit maar vas met die tyd, by jou blog, en geniet dit. Ek kan soms nie glo daar is so baie interessante mense nie, en dit sommer in Afrikaans!!! Ek moes LANKAL begin blog het, of ten minste blogs begin lees het!

    Roofkyk? 🙂 🙂 Nee, dit is eerder ‘n voorreg vir my. Jy mag maar “roof”. 🙂

    Nou by die moeilike vraag! Dit is ‘n baie billike vraag. Ek dink die meeste wat ek sover kry is dat ek “gedwing” word om aandag aan my spiritualiteit te gee, en om vir omtrent die eerste keer “openlik” te wees oor wat met my gebeur in my geestelikheid. Ek is geneig om dit soort van weg te pak, en net elke keer te wroeg wanneer veral my familie, so ernstig met my gesels oor my “verlore” wees. Ek het ook al hier en daar ‘n spirituele boek begin lees, maar heeltemal te min. Net in die “oopmaak” begin ek al rustiger en meer openlik voel.
    Ek het baie “feite” by geleer (wat ek baie geniet, al is dit nie altyd direk oor spiritualiteit nie), en ek het christene raakgeloop met wie ek regtig wil gesels (in die werklike lewe wou ek nie, want snaaks genoeg, ek wil nie christene laat twyfel nie!!!), asook spirituele mense wat nie christene is nie, en volkome ateiste. Ek voel meer “gebalanseerd”, en asof ek nou meer oop kan wees vir al die denkrigtings.
    Ek moet erken, teen die tyd wat ek begin blog het, was ek reeds vir baie jare (die grootste deel van my lewe) nie meer ‘n christen nie (sou my ‘n agnostikus noem), en onlangs het ek spiritueel begin raak, maar nie godsdienstig (christelik) nie. Alhoewel ek “oop” is, het ek tog al ‘n rukkie se besluitneming en “voorkeur” vir sekere denke. Hier begin ek net meer klarigheid kry, en bietjie die vrese verwerk.
    Weet jy, ek besef skielik hoeveel in die kort rukkie die bloggery my gehelp het!! 🙂 Om tot bekering te kom (om ‘n christen te word) sal ongelukkig dink ek, ‘n ingryping van God self (in ‘n christelike sin) moet wees, en nie net gesprek daaroor nie, alhoewel ek agterkom hoe opreg christene ook kan wees.
    Jammer, ek gebruik altyd BAIE woorde!!!!!
    Dankie vir jou vraag. Dalk moet ek elke paar maande vir myself die vraag antwoord om te sien of ek groei of net in my ou denke bly (ek is maar baie “hardkoppig”). 🙂

  12. Wel annerkant dis hoekom ek daarin glo om my emosies te ervaar soos hulle kom. Nogtans probeer ek maar om dit nie altyd te wys nie.

    Dis goed om vrae te vra en te dink oor dinge. Dis net dat nie alle vrae kan uiteindelik beantwoord word nie. Hoeveel eeue al soek die filosowe na God en hulle het nog niks reggekry nie. Mens kan nie uit eie krag na God to opklim nie. Dis Hy wat na ons toe afklim.

  13. Hallo Annerkant. Ek was woes besig anders het ek lankal kom eier-le.

    Ek dink steeds jy reis/jou vrae en wat jy dink is ongelooflik. Min mense loop die pad. Jy kan net wees wie jy wil.

  14. Rosa, jy mag enige tyd in kom loer of nie in kom loer nie. 🙂 Ek weet van besig wees, maar ek het ‘n idee jou woes besig is baie meer produktief as myne! Ek wil ‘n bietjie oor linker- en regterbrein denke skryf. As jy ‘n kansie het, en jy kry ‘n kansie om te lees, gee groot asseblief vir my jou ingeligte mening, en so reguit en eerlik as moontlik! Moenie ordentlik wees nie, ek waardeer jou kennis baie!

    Flippiefanus, dalk breek ek die geheim! 😉 Spot net, hoor. Dalk seker nie iets om oor te spot nie. … weet jy, ek dink dit is omdat ek nie tot “bekering” kon kom nie, daarom dat ek wil weet! Ek het vanaand op ‘n baie interessante vrou afgekom. Kyk ‘n bietjie na my volgende inskrywing. Sal graag jou mening wil hoor. Sal na die opskryf verder gaan lees oor die waarheid daar by jou.

  15. Annerkant, het jy my eposse gekry? Linker- en regterbrein klink vreeslik interessant.

  16. Nee, Rosa, sal gaan kyk. Skeep die “anderkant” e-pos kyk bietjie af! Moet groot asb. nie te veel verwag nie (linker- en regterbrein skrywes)! Dit begin maar eers weer by my onkunde!

  17. Jy onderskat jouself geweldig!

  18. annerkant ek sien uit daarna om te lees wat jy oor die linker- en regterbrein (heelbrein?) te skrywe het.

  19. Ek dink dit is uiters wreed en onverantwoordelik van jou vriendin om jou op so ‘n “guilt trip” te plaas, julle is tog immers vriende. En haar onkunde is nie ‘n verskoning om jou te boelie nie. Sy se^ sy voel jammer vir jou, jy het genoeg rede om vir haar ook jammer te voel.

  20. “We are going to die, and that makes us the lucky ones. Most people are never going to die because they are never going to be borne. The potential people who could have been here in my place, but who will in fact never see the light of day outnumber the sand grains of Sahara. Certainly those unborn ghosts include greater poets than Keats, scientists greater that Newton. We know this because the set of possible people allowed by our DNA so massively outnumbers the set of actual people. In the teeth of these stupefying odds it is you and I in our ordinariness that are here. We privileged few who won the lottery of birth against all odds; how dare we whine at our inevitable return to that prior state from which the vast majority have never stirred.” – Richard Dawkins

  21. Hallo Andrew, ja, ek dink ook die vriendin was onnadenkend, maar sy besef dit nie, want sy dink uit ‘n christelike raamwerk uit. Ek het geen begeerte om haar of enige ander christen te ontkersten nie. Dit is vir my belangrik om klarigheid oor die hele christen geloof storie te kry, sodat so iets maar net by my verby kan gaan sonder om my aan te raak.

    Rosalind het ‘n hele paar Dawkins boeke aanbeveel. Ek het sommige van hulle van Loot af bestel, en wag vir die pakkie! 🙂 Ek moes die stukkie wat jy aangehaal het ‘n paar keer lees. Die eerste keer dat ek die situasie uit so ‘n hoek hoor. Dit is anders as wat ek vir my sy sieninge voorgestel het. Sien uit om sy boeke te lees.
    Ek geniet die lewe regtig baie, maar ek was al baie keer kwaad dat ek gebore is sonder om ‘n keuse te he, en weer dood gaan gaan sonder om ‘n keuse daarin te he, en die lewe tussenin is wonderlik, maar dit is so niksseggend kort, dat dit amper voel asof jy ‘n “sampletjie” kry, en maar met jou neus teen die venster moet staan en smag na meer daarvan, angstig omdat al amper verby is nog voordat dit begin het!
    Sou die “spoke” waarvan hy praat wat nooit die lewe sal smaak nie, bewussyn? Indien nie, wat maak dit vir hulle saak? En as ons dood gaan gaan en weer sonder bewussyn gaan raak, of net “verdwyn”, wat maak dit saak dat ‘n mens kon lewe?
    🙂 Dankie vir jou kommentaar. Ek geniet dit ook om jou menings op die ander mense se blogs te lees, dit moedig ten minste beter gesprek aan! 🙂

  22. Skies, Andrew, ek wil net aanlas: ek besef darem dat die “spoke” waarvan Dawkins praat, die eiertjies en spermpies (al die moontlikhede van nuwe mense uit DNA gebore kon word, selfs ook die kombinasies wat ook nie hulle pad na spermpies en eiertjies gemaak het nie). Dit het bietjie snaaks geklink omdat ek net na die “spoke” verwys het, so asof daar miljarde geeste daar in die buitenste ruim is wat graag gebore wil word, maar nie ‘n kans kry nie. 😉

  23. Wel, wie is die spoke? … moontlike kombinasies uit DNA, of “geeste” / “siele” sonder aardse liggame? 🙂

  24. Hi Annerkant,

    Ek is so bly om te hoor jy gaan van Dawkins se boeke lees. Wees gewaarsku, jy sal dit BAIE geniet. 🙂

    Die aanhaling hierbo is uit sy boek Unweaving the Rainbow, en hy het gevra dat dit tydens sy begrafnis gelees word. So ruk terug het ek ‘n gedig uit dieselfde boek, wat Dawkins aangehaal het, The Pleasures of Imagination deur Mark Akenside op Roslind se blog geplaas. Sy sal die betekenis daaragter vestaan.

    My favorite book by Dawkins is The Ancestors Tale which took me over three months to read. I loved it! The last part of the book was a bit technical but I’m sure with your scientific background you will breeze through it.

    I’m off to the mountains now for a walk with Apollo, I need to re-charge my batteries.

    Have a great Sunday.

  25. “…ek dink ook die vriendin was onnadenkend, maar sy besef dit nie, want sy dink uit ‘n christelike raamwerk uit.”

    Jy is reg Annerkant, en sy voel dalk vreeslik sleg dat jy dalk hell toe sal gaan. Net meer rede vir my om voort te gaan om my argumente oor te dra aan ander.

    Dawkins only refers to ghosts and souls in a poetic way; he does not ‘believe’ that they exist. It is a beautiful piece isn’t it?

    BTW the reason I posted it was because you mentioned death in your blog. Sadly this topic is seldom discussed. As you may have guessed I do not accept the notion of an after life. It would be nice if it were true but I have not come across any convincing arguments that support it. Being dead is like being under general anesthetics. I think most believers feel that not living again is a depressing thought. This has not been my experience, although I do try and find out as much as possible about life and the environment I live in because my time here is so short. Cold hard facts, even when unsettling, remain more satisfying to me than a psychological pacifier.

  26. Dankie, weer, Andrew. Hoop jy het die stap saam met Apollo geniet. 🙂
    Eerlikwaar, ek wens ek was al so seker soos jy in my lewens-, wereld-, doodsaanskouiing! Dit is nog nie vir my so maklik nie. Dit is die een deel van my lewe wat taamlik chaoties is in my kop. Meestal probeer ek dit vermy! Soms dink ek “wat de hel” 😉 wat gaan gebeur gaan gebeur, en dood is nie vry te spring nie, en vergeet net daarvan, maar dit wil ook nie vir my werk nie. Maar om net in geloof “op te gaan” en weer bv. ‘n christen te word vir die “pacifier” voordeel, sal ek nooit, nooit kan nie. ‘n Mens weet dan mos jy lieg vir jouself oor iets baie fundamenteels. DIT sal hel wees. 🙂

    Skies, ek maak vanaand nie baie sin nie. Ek wou ‘n inskrywing skryf, maar vanaand is een van daardie aande wat die hele storie my net irreteer. Nou rammel ek maar teenoor jou. Lekker week!

  27. Ons ontmoet mekaar op snaakse plekke. Die web is is groot en tog sirkel ‘n klein groepie mense soos dansers al om mekaar. Andrew en rosalind is reeds bekendes.
    Daar is nie baie van ons wat so soekend deur die lewe gaan nie maar jy moet nie opgee nie. Ek dink ook jy is slimmer as wat jy voorgee, en Andrew is baie slim, maar slim is nie wat nodig is in die soektog nie. ‘n Ondersoekende en oop gemoed is egter dood noodsaaklik.
    Lees wyd. Gaan lees ook oor die Buddhisme. Vir my het die ouens se benadering meer rustigheid gebring. Dit ry nie op rou emosies nie maar daag jou intellektueel uit om elke draai.
    Oor lewe na die dood, dis snaaks maar ek het nog nooit daaraan getwyfel nie en met my vrou wat die ouens van anderkant wat gereeld hier deur ons huis ‘n draai maak sien en beskryf, dan moet daar iets aangaan na die dood. Ons ken die besoekers van geen kant af nie en hulle sê ook niks.
    Lees ook Carlos Castaneda se werk as jy tyd kry. Dit gee ‘n heel ander moontlikheid oor die werklikheid.
    Kom kyk maar op ons blog by skalkskryf.wordpress.com as jy tyd kry, ons stoei ook daar met dieselfde vrae.
    Sterkte.

Lewer kommentaar