Hierdie blog hiberneer

Dankie dat u hier kom kuier. Ongelukkig gaan hierdie blog onaktief wees tot November 2009 en sal ek tot dan geen nuwe inskrywings byvoeg nie. Ek sal ook slegs ongereeld na kommentare kom kyk. 

Hiberneer [Flickr-foto]Ek vra ook groot om verskoning dat ek sommer net so verdwyn het, sonder enige kennisgee, veral aan die wonderlike mense wat ek hier in WordPress onmoet en met wie ek vriendskappe gesmeë het.  Ek kan nie glo dat ek verlede jaar in November laas hier was nie!  :0 Dit voel nie so lank terug nie!  Alles is ook so vreemd hier, en ek sal seker weer van voor af moet leer hoe om dinge te doen. 

Ongelukkig moes ek ‘n verbod plaas op omtrent alles in my lewe wat nie direk tot my werk en studies bydra nie, en veral aktiwiteite wat dink en skryf benodig, en my aandag af kan lei. My studies het reeds te veel jare gesloer, en die finale inhandigingsdatum vir my verhandeling is Oktober hierdie jaar.  Dit verg maar bloedsweet en selfdissipline om die werk te voltooi!

Met my geestelike reis en ontdekking is ek nie klaar nie.  Bo en behalwe ander aspekte van my lewe en persoon wat verbeter het, vind ek dat die herontdek van my geestelikheid my baie help in my daaglikse lewe.  Vrae en wroeg sal daar altyd wees, maar ten minste is geestelikheid ‘n nuttige gereedskap om onnodige ontsteltenisse en spanning teen te werk.  Alhoewel ‘n mens dit altyd hoor, word ek self al meer bewus daarvan dat ‘n geestelike reis, en lewensreis, behalwe vir die dood [debatteerbaar :)], nie ‘n eindbestemming het, of tot ‘n einde kom nie.  Dit is maar moeilik om te aanvaar wanneer ‘n mens nie kan dink hoe jy ooit sover sal kan kom om ‘n besonderse kunswerk in sand te skep, om dit dan net weer te vernietig nie. Om ‘n taak aan te pak wat nie ‘n einddoel het nie, voel so nutteloos. Niks is tog so lekker en vervullend as om ‘n werk goed af te handel, of die wenstreep te haal nie. So kan ‘n mens ook voltooide trofieë met trots uitstal, of wegbêre, om weer later na vore te bring en te geniet.

Ek wil graag hierdie blog ooplos om dit dan later weer voort te sit.  In ‘n nuwe blog sal die begin van my reis ontbreek, of ten minste die begin waarvandaan hierdie blog deel gevorm het van die reis.  Die blog is vir my kosbaar, want in ‘n tyd wat ek vasgevang gevoel het in my onvermoeë om my gedagtes oor geestelikheid met iemand te deel, het die blog ‘n uitlaatklep oopgemaak.

Tot November dan.  Leef in liefde en geluk! 🙂

 

Die beste besluit

Ek wil graag vanaand vinnig ietsie skryf.   Daar het al ‘n paar dinge by my opgekom waaroor ek wil skryf, maar ek het meeste al weer vergeet in die gejaag.  Ek is so gretig om al die boeke te lees, maar dit sal maar eers ‘n bietjie moet wag.  Dit is vir my ook nogal dringend om by die kommentare op my blog en by die inskrywings by ander mense se blogs uit te kom, maar vanaand is ek sommer lus om net gedagtes te deel.

Verbasend, ten spyte van die gejaag het ek die spiritualiteit wat deel van my lewe geword het nie heeltemal verloor nie.  Elke oggend ( in die vyf minute op die toilet 🙂 ) lees ek ‘n stukkie uit een van Louise Hay se boeke.  Dit laat my altyd goed voel en verg nie baie dink en swoeg met idees en nuwe inligting nie.  Sy verklaar ook dikwels dat sy die gedagtes en idees so eenvoudig as moontlik vir mense wil bring.

Nou die oggend lees ek ‘n idee raak wat iemand jare terug aan die begin van my navorsingsloopbaan vir my gesê het omdat ek dit so moeilik vind om besluite te neem.  Ek kan seker maar uitlap dat ek ‘n taksonoom of eerder deesdae, ‘n sistematikus is.  [Mettertyd sal ek tog met my identiteit na vore kom, want hierdie geheimhouding agter ‘n skuilnaam, is maar net nie ek nie.  As my naam net nog nie bykom nie, sal ek darem nie so duidelik sigbaar wees in soekenjins en so meer nie.  Ek is net nog nie gereed daarvoor nie, en ek dink ook nie my familie en vriende nie.]  In taksonomie moet ‘n mens dikwels ‘n identifikasie doen, of bv. ‘n besluit neem of ‘n bepaalde groep eksemplare (specimens) tot ‘n bestaande of nuwe spesie behoort, afhangend van bv. die verskille en variasie wat ‘n  mens waar kan neem.  In die groep waarop ek werk is molekulêre studies nog nie so aan die orde van die dag nie, en neem ons nog besluite grootliks op morfologiese data.  [Dit is lekker om oor my werk te gesels. 🙂 ]  Soms herinner die besluite my nogal aan ‘n regsgeding, waartydens jy al die inligting en getuienis op die tafel sit, en daarvolgens ‘n besluit neem.  Tot vandag toe neem ek hierdie besluite moeilik, want ek sien altyd die kompleksiteit daarin raak, en die inligting wat ons nog nie het nie, en wat so ‘n besluit mettertyd kan beinvloed soos daar meer uitgevind word. 

Die raad wat ek gekry het: ‘n mens neem die beste besluit wat jy kan op daardie oomblik en met die inligting wat tot jou beskikking is.  Dit mag verkeerd wees, maar jy kon nie beter doen op daardie stadium nie, en die besluit moes geneem word.

Toe loop ek dieselfde raad in Louise Hay se boek (The Power is within you.) raak.  Sy benadruk dat jy jouself nooit moet blameer, verkleineer, en aanhoudend moet vertel dat jy onnosel en niks werd is oor besluite wat jy in die verlede geneem het nie.  Heel waarskynlik waar jy nou is, en met die kennis wat jy nou het, sou jy dit anders doen,  maar toe jy die besluit geneem het, of jou lewe gevorm het, het jy die beste gedoen wat jy kon.  Jy moenie jouself afbreek oor die posisie waarin jy jou mag bevind nie.  In sulke negatiwiteit sal jy net vasval en glad nie vorder nie.  Jy het jou eie liefdevolle ondersteuning nodig indien jy veranderinge wil maak.  Indien jy aan God glo, dink ek altyd, indien hy jou so oneidig lief het en vergewe, watter reg het jy self om nie ook met liefde en met volle aanvaarding en vergiffenis teenoor jouself te staan nie.

Ek haal aan uit Louise Hay se boek:  “No matter where you are in life, no matter what you’ve contributed to creating, no matter what’s happening, you are always doing the best you can with the understanding and awareness and knowledge that you have.”

Ek moet versigtig wees oor wat ek nou weer belowe, maar volgende keer wil ek graag ‘n inskrywing maak oor my oënskynlike draadsittery en openlike en algehele tolleransie en verstaan van alle uiterstes in spiritualiteit, godsdiens, anti-godsdiens en ateïsme.  Dit is werklik hoe dit vir my is, en ek het gewonder waar my grense lê, en of ‘n mens dit kan regverdig.

Kinders, hoeveel mag ons?

Bylas tot inskrywing (Junie 2009): Agterna het ek besef hoe selfgesentreerd en selfbejammerend hierdie inskrywing is, en ek is half spyt dat ek dit geskryf het.  Ek het ook weer later besef dat my sussie opreg is, en net doodbekommerd oor my is.  Ek los egter die inskrywing hier, want dit is hoe ek dit op daardie stadium ervaar het. – Annerkant

Hierdie is ‘n sensitiewe onderwerp.  Ek wil net ‘n paar gedagtes en ‘n ervaring wat ek gehad het hier deel, en dit eerder vir ander los om te sê wat hulle daarvan dink, as wat ek my sterk daaroor uit wil laat.  Ek het self nie kinders nie, en sal my nooit aanmatig om te probeer verstaan wat dit is om ‘n kind groot te maak nie, en wat die verantwoordelikheid is wat daarmee saam gaan nie.  ( Seker hoekom ek besluit het om nie kinders te hê nie! 🙂 ) 

In my gedagtes was kinders nog altyd vir my klein grootmensies wat maar net aan ‘n mens “geleen” word om hulle groot te maak.   Hierdie grootmaak moet met omsigtigheid geskied, want op die ou end is ‘n mens se eie waarde stelsels en wêreldaanskouing nie noodwendig die enigste “reg” wat bestaan nie, en hoeveel daarvan mag, of moet jy vir ‘n kind inprent?  Om dit erger te maak, het ek nou die dag (in ‘n onbetroubare bron, neem dit dus met ‘n knipppie sout!) gelees dat ‘n mens se waardestelsels en geloof oor jouself en jou omgewing grootliks in die eerste vyf jaar van jou lewe vas gelê word.  Hoe dit ook al sy, ek is seker wat jou brein in gekom het gedurende jou kinderjare het ‘n ongelooflike invloed op jou lewe.  (Dalk sluit dit aan by die “meme”-hipotese.)

Ek het nie regtig gedink om die insident hier te deel nie, maar toe skryf Andrew iets wat ‘n mens twee keer laat dink.  Ek haal hom aan: “I would however like to ask, that should you return to Christianity, that you seriously consider not imprinting any supernatural beliefs into the minds of your children, but rather teach them the value of critical thinking, reason, rationality and an open mind.  Even if we bring children into this world, we do not own their minds.”

As ek regtig ‘n christen was, of in ‘n ander godsdiens groot geword en dit aanvaar het, wonder ek of ek ooit eers my gedagtes in so ‘n rigting sou laat gaan.  Dit sou waarskynlik ‘n ongehoorde idee wees om nie my kind groot te maak om te glo waarin ek glo nie, want ek sou waarskynlik nie alternatiewe as beter, of selfs as aanvaarbaar kon beskou nie.  In teen deel, as iemand vir my sou sê ek mag nie my eie kind leer en onderrig in die geloof wat tot sy/haar redding sal wees nie, sou ek myself waarskynlik sommer dadelik vererg.

Nou wat het gebeur?  Jammer dat dit al weer oor christen-wees gaan, maar dit is regtig wat ek beleef het, en dit is tog ook deel van my stryd.  Ek dink ek het al genoem dat my een sussie en haar man sendelinge is.  Hulle het mekaar in Israel ontmoet, en beide het werklik tot bekering gekom, en hulle lewens is uitsluitlik toegewei aan hulle bediening en godsdiens, tot in die ekstreem wat my betref, maar ek is nie daar om hulle te beoordeel nie.  Hulle het ‘n dierbare klein dogtertjie van vier jaar oud.  Uiteraard probeer ek so ver as moontlik die onderwerp van godsdiens vermy, en sal nooit so iets met veral hulle dogtertjie bespreek nie.  Dit sal net nie reg wees nie.  Ongelukkig  moet ek bylas, as ek ‘n christen was, sou ek waarskynlik nie geskroom het om haar van Jesus te vertel nie, selfs al was haar ouers nie godsdienstig nie. ‘n Naweek gelede het hulle by ons gekuier.  Hulle dogtertjie hou nogal baie van my en op ‘n stadium het ons heerlik aan die gesels gegaan.  Sommer uit die bloute vra sy my toe of ek my bybel lees.  Dit was ‘n ongemaklike oomblik.  Ek glad nie daarvan om te jok nie, maar ek kan tog ook nie met haar daaroor gesels nie.  Ek sê toe vir haar ek lees my bybel ‘n bietjie, en dit was darem nie heeltemal ‘n leuen nie.  Hierop antwoord sy toe kordaat dat mamma sê dat ek lieg as ek sê ek lees die bybel.  Nou weet ek nie of my suster en iemand anders dit bespreek het,  en sy dit gehoor het, en of sy dit sommer vir die kleinding mee gedeel het nie.  Dit was vir my baie erg.  Hier het ek al die respek in die wêreld vir hulle, maar word so met minagting bespreek, en dan gebruik hulle nog die lelike woord “lieg” ook.  Ek het nie geweet wat ek moet doen nie.  Ek sê toe vir haar, ek lees eintlik die bybel baie min, seker daarom dat haar mamma dink ek jok.  Sy wou toe opsluit vir haar ma gaan sê dat sy verkeerd is.  Ek het die gesprek verander, en ek weet nie of sy toe daarna weer onthou het daarvan, en wat die gesprek tussen haar en my sussie sou wees nie.  Ai.  Dalk is ek maar net te gevoelig oor alles!

In perspektief gesien pla dit my nie geweldig nie, maar ek wonder partykeer hoekom ek so versigtig terug staan.  Regtig uit respek vir hulle oortuiginge, maar miskien ook omdat ek bang is hulle besluit om my uit hulle lewens uit te sny.

So baie om te doen, so min tyd!

Tyd, ooo wee ...

Ek het half gehoop ek hoef nie hierdie inskrywing te skryf nie.  Mense wat dalk hier in kom loer, sal agterkom dat hier nie veel aangaan, indien enige iets, op die oomblik nie.  Dit gaan regtig net baie dol met my op die oomblik.  (Ek sê dit versigtig, want ek kan agter kom dat meeste ander bloggers ook nie hulle tone sit en tel nie!)  Ek het ‘n taamlike massa werk en ‘n groot projek om by die werk af te handel.  Bykomend het ek ook hierdie hoop wonderlike boeke aangekoop wat ek graag wil lees, en waarna, dink ek, ek met baie meer agtergrond kennis hier by sal kan dra.  Ek vra groot om verskoning.  Ek is nie so arrogant om te dink dat ek gemis sal word nie, maar ek gaan dit mis, en ek hoop nie ek verloor kontak met almal nie.  Die blogwêreld het in ‘n kort tydjie vir my baie beteken, en ek sal so gou moontlik weer meer gereeld kom lees en blog.  Ek sal ongereeld en net so nou en dan in kom loer en dalk ‘n stukkie skryf tot seker so in Januarie volgende jaar, maar soos die tyd verby vlieg is dit sommer om die draai.

Flickr-foto.

Linker- en regterbrein: wow!

Ek sal myself moet inhou, want vanaand wil ek ‘n honderd goed gelyk skryf!  Hierdie is net ‘n inleiding (hoekom het ek nou weer hiernatoe gespring?) tot ‘n fassinerende onderwerp (terloops, waarvan ek minder as die meeste hier weet!) waaraan ‘n mens ‘n hele blog kan wy – ons breine.

Dit het begin toe Boendoe my in haar kommentaar vra: “Sal dit onbeskof wees om te vra of jy al iets geleer/wys geword/ontdek het? Sedert jy begin blog het, bedoel ek.”  My eerste inskrywing was op 5 Julie hierdie jaar.  Ek blog nou omtrent 3 maande (kan jy glo!), en ek reken dit is ‘n billike vraag om al te antwoord.  Ek het so ‘n rukkie gedink, en haar probeer antwoord so goed ek kon.  Maar die vraag het by my gebly.  Vanoggend het ek op die eerlikste antwoord teenoor myself afgekom.  Ek wil dit eers antwoord sonder om terminologie en oorsake daaraan te heg, en dan kom ek by die linker-, regterbrein storie uit.

Vandat ek blog, is my gedagtes baie meer by godsdiens, christen wees en spiritualiteit as in ‘n lang tyd.  Maar op ‘n sekere manier het dit my eintlik weer verder weg geneem van geestelikheid af.

Ek moet nog mooi uitwerk wanneer dit presies gebeur het, maar vandat ek weer geestelikheid “ontdek” het, en daarin begin groei het, was dit meer ‘n baie persoonlike ervarings- en gevoelsbelewing.  Ek het onder andere gereeld stukkies uit Louise Hay se boek gelees.  Dit was wonderlik.  Dit is moeilik om dit te beskryf.  Ek het rustiger, meer tevrede, gelukkiger, meer “heel”, meer “gebonde”, groter en “met liefde gevul”, en meer in beheer van my lewe begin voel.  Dit het soort van ‘n integrale en oorkoepelende deel van my geword.  Ek het selfs met groter empatie aan ander begin dink, en begin voel asof ek ook aan ander mense wou vertel wat ek beleef.  Dit het my ook meer weerloos gelaat teenoor gesprekke oor my verlorenheid omdat ek nie ‘n christen is nie.  Laasgenoemde en my behoefte om my geestelike pad met ander te deel, dit te bespreek, vir antwoorde te soek, en om meer tyd te spandeer aan hierdie groeiproses van my, was van die redes hoekom ek met hierdie blog begin het.

Vandat ek blog, spandeer ek wel meer tyd aan dink en redeneer oor godsdiens en geestelikheid.  Ek “ontmoet” mense met verskillende oortuigings en denke daaroor.  Ek skryf daaroor, ek begin oor verskillende aspekte daarvan lees, en het al ‘n hele hoop boeke bestel, waarop ek nog wag, wat my bankbalans bietjie laat steier. 🙂  Ek stoot die aktiwiteite daar rondom nie meer so heeltemal op die agtergrond wanneer dit besig raak nie.  Ek dink oor wat mense vir my gesê het, nuwe idees waaroor ek kan skryf, ek lees oor allerhande dinge op ander mense se blogs, en ek leer baie!  Ek is minder angstig oor my denke oor godsdiens en geestelik wees.  Maar al hierdie dinge is op die vlak wat ek persoonlik meer geniet en veiliger in voel: op ‘n denkende, redenerende, logiese en grootliks on-emosionele vlak.  Maar die gevoelservaring of “spiritualiteit” het “minder” geraak, as ek dit so uit kan druk.  In daardie opsig, dra die blog nie regtig tot my geestelike groei by nie.

Hierdie twee aspekte van my geestelike reis pas vir my so reg in die linkerbrein en regterbrein idee in.  Ek dink dit is al taamlik algemene kennis, en omtrent soveel as wat ek op hierdie oomblik daarvan weet, dat die linkerbrein reglynig, logies, analities en on-emosioneel dink, en detail “raaksien”.  Daarteenoor  is die regterbrein kreatief, mistiek, intuitief, emosioneel en ruimtelik, en “sien” die “geheel” raak.  Soos in alle dinge moet ek seker balans hou tussen hierdie twee aspekte,  maar intuitief 🙂 voel ek dat my spirituele (regterbrein?) meer aandag moet kry.

Maar hoekom  koppel ek die fasette van my geestelike reis aan die linker- en regterbrein denke?  Daar het ‘n paar dinge tot my aandag gekom.  Die twee taamlik duidelike aspekte van my geestelike ervaring, kommentare wat ek van mense gekry het wat ek nogal in “linkerbrein” en “regterbrein” hokkies sou sit (wat BAIE gevaarlik en vereenvoudig is), my eie geestelikheid wat weer na vore gekom het toe ek om baie redes in my eie lewe daaraan moes werk om my regterbrein meer in te span en die inligting wat ek met Google-soektogte raakgeloop het wat onder andere regterbrein aktiwiteite koppel aan “New Age” denke, en aan demoniese aktiwiteite.

Met my soektog vir hierdie inskrywing oor navorsing op regterbrein en linkerbrein denke, het ek onmiddellik weer in ‘n splinternuwe sfeer beland met ‘n magdom inligting en menings!  Die woord pseudowetenskap, bog, onchristelik en dies meer het dikwels opgeduik.  Meer interessant, sommer vroeg al in my Google-soektog, loop ek toe ‘n persoon raak, wat my fassineer en ‘n video van ‘n praatjie deur haar op Youtube het my laat stilstaan.  Ek het sommer opgehou met my soek vir inligting.  Haar naam is Dr. Jill Bolte Taylor.  Ek is seker baie van julle, indien nie almal nie, weet van haar.  Vertel my meer! Hier is die praatjie wat sy gegee het.  Ongelukkig is dit ‘n bietjie lank.  Ek is van plan om meer oor haar te skryf.  Maar meer belangrik, oor hoe ons breine werk, veral ten opsigte van spiritualiteit.  Ek sal maar so moet skryf soos wat ek self daaroor leer.

Nou wonder ek net: is die oorsprong en setel van tot-bekering-kom (in ‘n christelike sin)  in die linker- of regter hemisfeer van ‘n mens se brein, of in beide (die “heelbrein”)?

[Naskrif: Vir die wat nog nie het nie – gaan lees gerus ook ‘n inskrywing van Nikita, “My whole brain”, wat sy al ‘n hele rukkie terug geskryf het.  Dit is die moeite werd as jy in denke en die brein belang stel.  Dit handel oor “whole brain thinking” (geheelbrein denke), kreatiwiteit, en dies meer, en sluit soos al haar inskrywings ook koppelinge na leersame en ook prettige web blaaie in, waar jy ondere jou eie Picasso skildery kan skep! 🙂 ]

Sommer ongelukkig en omgekrap

Van Vrydagaand af wou ek al begin oplees en skryf aan ‘n inskrywing, maar een of ander rede is ek net nie lus daarvoor nie en half geïrreteerd daarmee.  Die krapperigheid wil maar net nie weg gaan nie.  Daarom sit ek nou hier en skryf, met geen interessante inligting nie, met eintlik weinig positief om by te dra, en met die wete dat die arme mense wat hulle tyd mors om hier ‘n draai te maak,  met net ‘n gemors van tyd weg gaan stap.  Maar dit is dit.  Ek het nou op my pad met my sitvlak in hierdie modderpoel beland, en nou moet ek dit deel, want anders draai ek mos net die blink kant na bo, en blink en aangenaam is my reis nie altyd nie. 

Ek dink my ongelukkigheid het in die week begin toe ‘n gesprek tussen my en ‘n vriendin ‘n draai by godsdiens gemaak het.  Alhoewel ek probeer om die onderwerp te vermy, beland ek dikwels pens en pootjies in so ‘n gesprek, ek het gewoonlik geen idee hoe die gesprek daarby uit gekom het nie.  Sy is ‘n christen (soos al my vriendinne), en nadat ek probeer het om net te luister, is ek tog ingetrek, en het vir haar probeer verduidelik hoe ek op die oomblik spiritualiteit beleef. Onthou, ek het nou weg beweeg van die glimlag en instemmende kopknik-fase.  Ek moet sê, dit was ‘n baie makliker manier om geestelike episodes en gesprekke te hanteer. 

Dit is soos baie keer moeilik om in woorde vas te vang wat deur my kop gemaal het vanaf daardie eintlik heel gewone gesprek af, so ver as wat godsdienstige gesprekke aan gaan.

Soos ek al hoe meer agter kom, neig my ervaringe en dit waarmee ek myself kan vereenselwig, wat vir my betekenis het en wat my positief laat voel op die oomblik waarskynlik om “new age” te wees.  Ek het nie regtig ‘n goeie idee wat “new age” is nie, en miskien het ek maar net onwetend in die aanloklikheid daarvan getrap voordat ek dit eers kan definieer, of eens ‘n Afrikaanse woord daarvoor ken.  Al wat ek weet is dat dit vir my ‘n baie positiewe ervaring is.  Dit is werklik vir my aangenaam om my, my lewe en almal om my te omhels met liefde en positiewe energie.  Om net te wees, en om na die beste in alles te soek en om dankbaar te wees.  Om die natuur raak te sien, na mooi musiek te luister, en my daarin te verloor.  Om wetenskap te beoefen en met verwondering oor nuwe uitvindings te wete te kom, en te lees en luister na nuwe idees en ander oortuiginge, sonder om dit te veroordeel.  Ek is seker maar ook ‘n volstruis, want ek verkies ook om ‘n dowe oor en blinde oog te draai in my daaglikse spirituele lewe op die negatiewe wat my nie aanstaan nie, soos so dikwels byvoorbeeld politiek en geweld.  Ek hou nog daarvan om oor lewe en dood te dink, oor niks en oor iets, en oor hoe min ons weet, en selfs dat ons maar vervlietend is, en wanneer ons doodgaan daar net niks oorbly nie.  Dit is nie lekker nie, maar dit is ook nie vreesaanjaend nie, dit is maar net.  Dit keer my nie om die beste wat ek kan uit die lewe te haal nie, beide met my verstand en my gevoel.

My vriendin is ‘n pragtige mens.  Sy het my vertel van haar positiewe ervaring en vertroosting om ‘n christen te wees, en hoe al die vrae nie meer saak maak vandat sy haar hart vir die Here en vir Jesus gegee het nie.  Sy weet daar is net een manier om verlos te word, en dit is om te glo dat Jesus Christus vir ons sonde gesterf het.  Sy weet daar is baie dinge waaroor ‘n  mens vrae kan vra, maar sy weet sy is reg, en eendag sal ons alles weet.  Sy het my verseker dat sy my nie veroordeel nie, sy kry my net jammer.  Sy gaan toe voort, om soos wat ek baie van alle kante af hoor, te vertel dat die wederkoms baie, baie naby is.  En sonder dat ek eers die woord “new age” genoem het (ek sê mos ek is “new age” sonder dat ek eers weet ek is “new age”), sê sy sy is bekommerd dat dit so vinnig toeneem, maar sy is ook bly, want sodra dit die wêreld behoorlik oorheers, kom christus weer.  Maar, probeer sy my troos, dalk sal God in sy genade vir mense soos ek ‘n tweede kans gee voor die groot oordeelsdag, selfs al sou ons nie hier op aarde tot bekering kom nie.  Sy het met my gedeel hoe sy tot bekering gekom het, en soos altyd was dit so opreg, ek kan nie anders om te glo dat dit die ervaring is wat sy beleef het nie.  Sy het nog baie ander dinge gesê, onder andere ook hoe slinks en slim die duiwel is.

En so is ek weet gelaat met die vae gevoel dat al vind ek die liefde en spiritualiteit wat ek ontdek so positief, is ek eintlik deur satan verlei, en is ek nou op pad hel toe.  My lewensgeluk en voorspoed is te verduidelik, want ek sal nie beproef word en aangeval word deur die duiwel nie, want ek is nie een van God se kinders nie.  Ek kry ook die gevoel dat ek waarskynlik deur beproewing moet gaan om my tot God te keer, en dat dit dalk die manier is waarop God my na hom toe terug sal lei.  Na alle kante toe, lyk my toekoms nie rooskleurig nie, veral nie wanneer ek die ewigheid ingaan nie.  Maar dalk sal alles ten goede uitwerk, want sy bid ook nou vir my.  (En hierdie sê ek opreg nie sonder respek nie.  Dit is vir my net so bitter frustrerend dat ek maar elke keer weer in die vrees en twyfel verval … maar dit is seker omdat ek nie gered is en die sekerheid in die geloof het nie.)

Ek vra groot om verskoning vir die negatiwiteit, met al my liefde!

(Naskrif: In my soektog vir ‘n mooi prentjie of foto om onsekerheid of verwardheid uit te beeld, om hierdie inskrywing ‘n bietjie kleur te gee en om die negatiwiteit ‘n bietjie te lig, het ek op hierdie prentjie afgekom op ‘n web blad oor “When is a Braitenberg architecture all you really need?” in inligtingskunde (“informatics”).  Ek weet nie eens of inligtingskunde ‘n goeie vertaling vir “informatics” is nie, en van die inhoud van die bladsy weet ek minder as nul, maar so op die oppervlak geskandeer, miskien kan ek my onsekerheid op ‘n manier wiskundig oplos?  Dalk as ek minder keuses gegun word?)

Nie die einde oor die terme spiritualiteit en christen nie

Die presiese betekenis, definisie of konsep van woorde of terme wat ‘n mens gebruik wanneer jy oor ‘n onderwerp praat, dink, skryf of redeneer is van uiterse belang.  Daarsonder kan kommunikasie redelik skeef loop, en wat een persoon bedoel, heel verkeerd verstaan word deur die volgende persoon wat dit hoor of lees.  (Nota: in Afrikaans het ons natuurlik ook die probleem dat terminologie in seker vakgebiede nog nie behoorlik ontwikkel is nie.)

In kommentaar op ‘n vorige inskrywing van my vra Duskant wat ek dink ‘n teksboekdefinisie van ‘n Christen sal wees.  (Na aanleiding hiervan het Flippiefanus ook ‘n interessante inskrywing oor die definisie van ‘n Christen geskryf: Burgerskap in God se volk.)  Ek spring toe daar weg met ‘n definisie, maar besef gou dat ek vasbrand. Ek het besef voordat ek oor christen wees en spiritualiteit kan begin dink en skryf, moet ek eers presies weet hoe ek dit vir myself definieer.  So beland ek toe weer op Google, die plek wat my altyd so oorweldig met al die inligting, en vir iemand soos ek ‘n plek waarin ek behoorlik verdwaal en in alle rigtings gelyktydig begin hardloop.

Oor christen wees verlaat ek my eers op Flippiefanus se inskrywing en sal later weer mooi daaroor gaan oplees en dink.

Oor spiritualiteit loop ek my ook vas.  Daaroor kan ek my ook nog nie finaal uitlaat nie, behalwe wat dit op hierdie oomblik vir myself betekenis het nie ( ‘n volgende inskrywing iewers in die toekoms 🙂 ). Ek loop tog die volgende interessante en veelseggende webinligting raak wat die eerste koppelinge is wat ek in Google gekry het oor die betekenis van spiritualiteit, maar om dit en moontlike definisies te verteer kan ek nie so gou nie.

  • Een van die eerste “hits” ( wat is “hits” in Afrikaans, “kolskote”? 🙂 ) lei na George Maru se blog en ‘n inskrywing van hom, “Die Gevare van Spiritualiteit?“.  Hy gee nie ‘n definisie vir spiritualiteit nie, maar laat ‘n mens dink oor die waarde van spirituele ontberinge en spiritualiteit.  Hy vra onder andere of spiritualiteit en geloof ‘n mens nie soms kan verwyder van liefde vir self en medemens nie, en dat hierdie voertuie dalk moontlik die dinge is waarvan jy gered moet word, en nie tot jou redding lei nie.  Die kommentare op sy inskrywing is ook interessant om te lees.
  • Die volgende stukkie waarop ek afkom is ‘n boekhoofstuk wat op daardie stadium geskryf word deur Ds. Chris van Wyk van die NG kerk.  Dit handel oor spiritualiteit in die kerk, en ek hou van die aanhaling: “Dit beteken dat ons moet afstand doen van die drang om mense te bekeer deur hulle die evangelie te leer, en hulle eerder aan die goeie nuus bekendstel, onder andere deur dit met ons lewe te modelleer.”  Ek neem aan hierdie ds. veroorsaak seker nogal kontroversie in die tradisionele christenkerke, maar ek sal nie weet nie.
  • ‘n Sekere Pieter de Villiers (van Stellenbosch af – miskien ken Johan Swarts hom) vra op sy blog “Wat is spiritualiteit“. Dit is nader aan wat ek by uit wil kom.  Hy begin deur die verskillende betekenisse wat aan spiritualiteit geheg word te lys: “gevoel van godsdienstigheid”, New Age, alles wat ‘n mens “goed” laat voel (Reiki, joga ens.), en kontak met die geeste. Hy gaan voort deur te katagoriseer dat hy oor spiritualiteit (volgens hom letterlik “dit wat te doen het met die Gees”) in die Christelike of Bybelse sin van die woord. Dit kan volgens hom eenvoudig verstaan word as “geleefde geloof”, maar gaan tereg voort dat ‘n mens die term meer presies moet definieer om ‘n mens in staat te stel om daaroor te redeneer en praat. Hierna lys hy verskeie aspekte van christelike spiritualiteit: 1) die verhouding tussen die goddelike en die menslike; 2) transformasie van die mense deur God – verlossing van die mens; 3) verlossing is ‘n proses, en spiritualiteit het dus te doen met ‘n geloofsreis.
  • Hier word bespiegel oor die verskil tussen geestelikheid en spiritualiteit na aanleiding van ‘n berig deur ‘n Prof. Christina Landman wat in die Beeld verskyn het.  Vir my beteken dit dat “geestelikheid” en “spiritualiteit” deur sommige nie noodwendig as sinonieme beskou word nie.
  • Op ‘n blad van die Stellenbosch Gemeente (hoekom beland ek nou aanhoudend daar by die Stellenboschers?) is daar ‘n stuk vir studie oor “Vensters op ‘n ander realiteit … Spiritualiteit”.  Hier word baie vrae gevra, onder andere, “Wat is die definisie van spiritualiteit”.  Ek sou graag wou weet wat die antwoord was.  In die aanloop tot die vrae skryf ds. André Serfontein oor spiritualiteit.  Hy begin met soort van ‘n definisie: “Spiritualiteit is ‘n bewustheid dat daar meer is as dit wat ons kan sien en verstaan; daar is iets of iemand groter as ons (transendensie).  Spiritualiteit beskryf ook ons behoefte aan ‘n konneksie met hierdie iets of iemand groter (intimiteit).  Mense reageer verskillend op hierdie bewuswording en soeke – sommige maak hulle eie spiritualiteit op, ander vergeestelik  dit, party skei dit van ‘n goddelike dimensie.”  Ek kan nogal hiermee saamstem.  Dalk is my probleem met christen wees nie die spirituele deel daarvan nie, maar die dogma daarvan (eerste gedagte wat by my opkom).
  • In Wikipedia is daar natuurlik ook ‘n stuk oor spiritualiteit: wiki oor “spirituality”. Hier word baie geskryf.  Julle kan dalk self eers gaan lees.

En so eindig ek weer met ‘n inskrywing wat nie regtig uitkom by wat ek beplan het nie: my eie definisies en betekenis van spiritualiteit en christen in die sin waaroor ek daaroor dink en skryf en hoe dit deel is van my geestelike reis.  Ek sal dit dus weer besoek, en waarskynlik sal dit ook verander soos my reis vorder.  Hierdie gaan ‘n laaaaaang reis wees!