Nie die einde oor die terme spiritualiteit en christen nie

Die presiese betekenis, definisie of konsep van woorde of terme wat ‘n mens gebruik wanneer jy oor ‘n onderwerp praat, dink, skryf of redeneer is van uiterse belang.  Daarsonder kan kommunikasie redelik skeef loop, en wat een persoon bedoel, heel verkeerd verstaan word deur die volgende persoon wat dit hoor of lees.  (Nota: in Afrikaans het ons natuurlik ook die probleem dat terminologie in seker vakgebiede nog nie behoorlik ontwikkel is nie.)

In kommentaar op ‘n vorige inskrywing van my vra Duskant wat ek dink ‘n teksboekdefinisie van ‘n Christen sal wees.  (Na aanleiding hiervan het Flippiefanus ook ‘n interessante inskrywing oor die definisie van ‘n Christen geskryf: Burgerskap in God se volk.)  Ek spring toe daar weg met ‘n definisie, maar besef gou dat ek vasbrand. Ek het besef voordat ek oor christen wees en spiritualiteit kan begin dink en skryf, moet ek eers presies weet hoe ek dit vir myself definieer.  So beland ek toe weer op Google, die plek wat my altyd so oorweldig met al die inligting, en vir iemand soos ek ‘n plek waarin ek behoorlik verdwaal en in alle rigtings gelyktydig begin hardloop.

Oor christen wees verlaat ek my eers op Flippiefanus se inskrywing en sal later weer mooi daaroor gaan oplees en dink.

Oor spiritualiteit loop ek my ook vas.  Daaroor kan ek my ook nog nie finaal uitlaat nie, behalwe wat dit op hierdie oomblik vir myself betekenis het nie ( ‘n volgende inskrywing iewers in die toekoms🙂 ). Ek loop tog die volgende interessante en veelseggende webinligting raak wat die eerste koppelinge is wat ek in Google gekry het oor die betekenis van spiritualiteit, maar om dit en moontlike definisies te verteer kan ek nie so gou nie.

  • Een van die eerste “hits” ( wat is “hits” in Afrikaans, “kolskote”?🙂 ) lei na George Maru se blog en ‘n inskrywing van hom, “Die Gevare van Spiritualiteit?“.  Hy gee nie ‘n definisie vir spiritualiteit nie, maar laat ‘n mens dink oor die waarde van spirituele ontberinge en spiritualiteit.  Hy vra onder andere of spiritualiteit en geloof ‘n mens nie soms kan verwyder van liefde vir self en medemens nie, en dat hierdie voertuie dalk moontlik die dinge is waarvan jy gered moet word, en nie tot jou redding lei nie.  Die kommentare op sy inskrywing is ook interessant om te lees.
  • Die volgende stukkie waarop ek afkom is ‘n boekhoofstuk wat op daardie stadium geskryf word deur Ds. Chris van Wyk van die NG kerk.  Dit handel oor spiritualiteit in die kerk, en ek hou van die aanhaling: “Dit beteken dat ons moet afstand doen van die drang om mense te bekeer deur hulle die evangelie te leer, en hulle eerder aan die goeie nuus bekendstel, onder andere deur dit met ons lewe te modelleer.”  Ek neem aan hierdie ds. veroorsaak seker nogal kontroversie in die tradisionele christenkerke, maar ek sal nie weet nie.
  • ‘n Sekere Pieter de Villiers (van Stellenbosch af – miskien ken Johan Swarts hom) vra op sy blog “Wat is spiritualiteit“. Dit is nader aan wat ek by uit wil kom.  Hy begin deur die verskillende betekenisse wat aan spiritualiteit geheg word te lys: “gevoel van godsdienstigheid”, New Age, alles wat ‘n mens “goed” laat voel (Reiki, joga ens.), en kontak met die geeste. Hy gaan voort deur te katagoriseer dat hy oor spiritualiteit (volgens hom letterlik “dit wat te doen het met die Gees”) in die Christelike of Bybelse sin van die woord. Dit kan volgens hom eenvoudig verstaan word as “geleefde geloof”, maar gaan tereg voort dat ‘n mens die term meer presies moet definieer om ‘n mens in staat te stel om daaroor te redeneer en praat. Hierna lys hy verskeie aspekte van christelike spiritualiteit: 1) die verhouding tussen die goddelike en die menslike; 2) transformasie van die mense deur God – verlossing van die mens; 3) verlossing is ‘n proses, en spiritualiteit het dus te doen met ‘n geloofsreis.
  • Hier word bespiegel oor die verskil tussen geestelikheid en spiritualiteit na aanleiding van ‘n berig deur ‘n Prof. Christina Landman wat in die Beeld verskyn het.  Vir my beteken dit dat “geestelikheid” en “spiritualiteit” deur sommige nie noodwendig as sinonieme beskou word nie.
  • Op ‘n blad van die Stellenbosch Gemeente (hoekom beland ek nou aanhoudend daar by die Stellenboschers?) is daar ‘n stuk vir studie oor “Vensters op ‘n ander realiteit … Spiritualiteit”.  Hier word baie vrae gevra, onder andere, “Wat is die definisie van spiritualiteit”.  Ek sou graag wou weet wat die antwoord was.  In die aanloop tot die vrae skryf ds. André Serfontein oor spiritualiteit.  Hy begin met soort van ‘n definisie: “Spiritualiteit is ‘n bewustheid dat daar meer is as dit wat ons kan sien en verstaan; daar is iets of iemand groter as ons (transendensie).  Spiritualiteit beskryf ook ons behoefte aan ‘n konneksie met hierdie iets of iemand groter (intimiteit).  Mense reageer verskillend op hierdie bewuswording en soeke – sommige maak hulle eie spiritualiteit op, ander vergeestelik  dit, party skei dit van ‘n goddelike dimensie.”  Ek kan nogal hiermee saamstem.  Dalk is my probleem met christen wees nie die spirituele deel daarvan nie, maar die dogma daarvan (eerste gedagte wat by my opkom).
  • In Wikipedia is daar natuurlik ook ‘n stuk oor spiritualiteit: wiki oor “spirituality”. Hier word baie geskryf.  Julle kan dalk self eers gaan lees.

En so eindig ek weer met ‘n inskrywing wat nie regtig uitkom by wat ek beplan het nie: my eie definisies en betekenis van spiritualiteit en christen in die sin waaroor ek daaroor dink en skryf en hoe dit deel is van my geestelike reis.  Ek sal dit dus weer besoek, en waarskynlik sal dit ook verander soos my reis vorder.  Hierdie gaan ‘n laaaaaang reis wees!

12 Responses

  1. […] Blanc, terwyl ek boek lees op die internets, toe Annerkant die geraamtes van eens spekvet koeie uit die sloot gaan delwe het. Wel, dit is die tweede keer in twee dae wat Google my aangenaam verras het. Ek sal dit sommer […]

  2. annerkant jy skryf “Dalk is my probleem met christen wees nie die spirituele deel daarvan nie, maar die dogma daarvan (eerste gedagte wat by my opkom).” Wat presies bedoel jy met die “dogma”?

  3. Flippiefanus, wat my die meeste van christen wees as ‘n godsdiens pla, is dit die feit dat dit (die godsdiens self) alles verdoem wat nie geestelikheid presies in die Christus raamwerk en bybel waarheid aanvaar en aanneem nie. Jy het al dikwels gese ‘n mens kan God nie voorskryf of verstaan nie, maar moet dit net aanvaar. Ek kan nie. Wat van al die ander volke en mense voor die bybel se geskiedenis, en wat van al die ander eerlike en opregte geestelike en nie-geestelike mense? Ek kan my ook nie versoen met die idee van ‘n hel nie. Die Grootheid van ‘n God, selfs al is dit net ons geestelikheid wat ontwikkel het agv ons bewussyn, is vir my ver verhewe bo een volk en sy God en geskiedenis. Jammer, ek moet eerlik wees.

  4. Jy het my nou hier aan die dink…spiritualiteit is ‘n ding waarvan ek nooit in die kerk gehoor het nie. Jy het van die Heilige Gees gehoor, maar die omvang van die konsep is nooit werklik verduidelik nie. Ek dink spiritualiteit het beslis ‘n bietjie te doen met die “bewustheid van”…Dis iets groter as die lys reëls van hoe jy moet wees en wat jy mag doen. ‘n Interessante onderwerp

  5. Sjoe, hierdie navorsing laat my weer dink aan “te veel inligting” dit laat my platkop draai.
    Annerkant, sterkte met die reis.

  6. Cebella, ek stem saam “bewustheid van”. Dit is ‘n bewuste wat die hele tyd by ‘n mens bly. Jy beskryf dit mooi. Dit is jammer dat hierdie aspekte van godsdiens nie meer in die kerk aangespreek is nie. Dit is tog ‘n mens se lewendige vind van God. Dit hoef ook nie oor te gaan in dinge wat vir ‘n mens moontlik “vreemd” is soos in die meer charismatiese kerke nie (nie dat ek iets teen charismatiese kerke het nie), dit kan tog ‘n baie stille en “ordentlike” ervaring wees, en elke mens se baie persoonlike ervaring.

    Hi Sammie, ja-nee, een van my groot gestoeiery ook – al die inligting. ‘n Mens moet tog van sekere aspekte van ‘n mens se lewe, soos godsdiens en spiritualiteit, genoeg kennis he om ‘n behoorlike besluit daaroor en ervaring daarvan te kan he, en dit is haas onmoontlik, want daar is net so baie om te weet! Ek lees jou blog, jy kan nie van ‘n platkop praat nie.🙂

  7. Mmm annerkant, dis moeilik om te antwoord in ‘n kommentaar. Jy beskryf die Grootheid van God asof dit ‘n tipe beperking is op God. Ek sien dit so: alles wat God doen het wel ‘n rede daar agter. Maar dit is nie noodwendig so voor die hand liggend nie. As mens die redes wel sou weet sou dit heel waarskynlik vir mens baie sin maak.

    Dis goed dat jy eerlik is.🙂

  8. Dit is een ding wat ek nodig het, dink ek, die “sin” en samehorigheid van alles. Dinge val net nie vir my in plek nie. Ek is vanmiddag sommer moeg, dan wens ek baie keer ‘n mens kan maar net wees.🙂

  9. Annerkant, dankie vir die inloer en voetspore by my. Jammer dat ek jou nou eers kom besoek aflê. Hierdie is ‘n lekker inskrywing – help my om ook te kan ervaar hoe ander oor hierdie dinge dink. My reeks oor Volledig Menswees gaan die naweel verder met dinge uit Islam, daarna Judaisme en dan die Christelike geloof. Ek poog nie om die verskillende tradisies ten diepste te ontleed nie en kyk daarna bloot om ‘n verstaan te ontwikkel oor wat Volledige Menswees volgens elkeen beteken – dus is daar niks oor die “reg” of “verkeerd” in elk vanuit ‘n geloofstandpunt nie.

    Ek kom kuier weer.

  10. […] nodig het. Die een wat ek hier wil aanspreek is die waarheid. Ek het ‘n gevoel dat Annerkant dalk ook baat hierby kan vind in haar soeke. Dit lyk egter vir my dat hierdie ‘n baie lang […]

  11. Sjoe, Emil, dankie vir jou inloer en voetspoor hier ook. Glo my (😉 ) ek gaan baie meer oor spiritualiteit by jou leer as wat jy by my wys sal word. Ek het nog ‘n lang pad en volmaak met kennis nodig. Dit het my in die verlede glad nie aangestaan nie.
    More (Sondag) sal ek weer bietjie tyd he om te lees … en besoek dan jou reeks behoorlik. Ek sien uit na die laaste drie, en die vergelyking tussen hulle, want hulle is mos taamlik in mekaar verweef as ek nie nonsens praat nie.

  12. Flippiefanus, ek sien jy pak sommer die “waarheid” aan!! Ek sal liewers more-oggend (Sondag) lees. Dit is nie iets om in die laatnag te probeer verteer nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: