Die beste besluit

Ek wil graag vanaand vinnig ietsie skryf.   Daar het al ‘n paar dinge by my opgekom waaroor ek wil skryf, maar ek het meeste al weer vergeet in die gejaag.  Ek is so gretig om al die boeke te lees, maar dit sal maar eers ‘n bietjie moet wag.  Dit is vir my ook nogal dringend om by die kommentare op my blog en by die inskrywings by ander mense se blogs uit te kom, maar vanaand is ek sommer lus om net gedagtes te deel.

Verbasend, ten spyte van die gejaag het ek die spiritualiteit wat deel van my lewe geword het nie heeltemal verloor nie.  Elke oggend ( in die vyf minute op die toilet🙂 ) lees ek ‘n stukkie uit een van Louise Hay se boeke.  Dit laat my altyd goed voel en verg nie baie dink en swoeg met idees en nuwe inligting nie.  Sy verklaar ook dikwels dat sy die gedagtes en idees so eenvoudig as moontlik vir mense wil bring.

Nou die oggend lees ek ‘n idee raak wat iemand jare terug aan die begin van my navorsingsloopbaan vir my gesê het omdat ek dit so moeilik vind om besluite te neem.  Ek kan seker maar uitlap dat ek ‘n taksonoom of eerder deesdae, ‘n sistematikus is.  [Mettertyd sal ek tog met my identiteit na vore kom, want hierdie geheimhouding agter ‘n skuilnaam, is maar net nie ek nie.  As my naam net nog nie bykom nie, sal ek darem nie so duidelik sigbaar wees in soekenjins en so meer nie.  Ek is net nog nie gereed daarvoor nie, en ek dink ook nie my familie en vriende nie.]  In taksonomie moet ‘n mens dikwels ‘n identifikasie doen, of bv. ‘n besluit neem of ‘n bepaalde groep eksemplare (specimens) tot ‘n bestaande of nuwe spesie behoort, afhangend van bv. die verskille en variasie wat ‘n  mens waar kan neem.  In die groep waarop ek werk is molekulêre studies nog nie so aan die orde van die dag nie, en neem ons nog besluite grootliks op morfologiese data.  [Dit is lekker om oor my werk te gesels.🙂 ]  Soms herinner die besluite my nogal aan ‘n regsgeding, waartydens jy al die inligting en getuienis op die tafel sit, en daarvolgens ‘n besluit neem.  Tot vandag toe neem ek hierdie besluite moeilik, want ek sien altyd die kompleksiteit daarin raak, en die inligting wat ons nog nie het nie, en wat so ‘n besluit mettertyd kan beinvloed soos daar meer uitgevind word. 

Die raad wat ek gekry het: ‘n mens neem die beste besluit wat jy kan op daardie oomblik en met die inligting wat tot jou beskikking is.  Dit mag verkeerd wees, maar jy kon nie beter doen op daardie stadium nie, en die besluit moes geneem word.

Toe loop ek dieselfde raad in Louise Hay se boek (The Power is within you.) raak.  Sy benadruk dat jy jouself nooit moet blameer, verkleineer, en aanhoudend moet vertel dat jy onnosel en niks werd is oor besluite wat jy in die verlede geneem het nie.  Heel waarskynlik waar jy nou is, en met die kennis wat jy nou het, sou jy dit anders doen,  maar toe jy die besluit geneem het, of jou lewe gevorm het, het jy die beste gedoen wat jy kon.  Jy moenie jouself afbreek oor die posisie waarin jy jou mag bevind nie.  In sulke negatiwiteit sal jy net vasval en glad nie vorder nie.  Jy het jou eie liefdevolle ondersteuning nodig indien jy veranderinge wil maak.  Indien jy aan God glo, dink ek altyd, indien hy jou so oneidig lief het en vergewe, watter reg het jy self om nie ook met liefde en met volle aanvaarding en vergiffenis teenoor jouself te staan nie.

Ek haal aan uit Louise Hay se boek:  “No matter where you are in life, no matter what you’ve contributed to creating, no matter what’s happening, you are always doing the best you can with the understanding and awareness and knowledge that you have.”

Ek moet versigtig wees oor wat ek nou weer belowe, maar volgende keer wil ek graag ‘n inskrywing maak oor my oënskynlike draadsittery en openlike en algehele tolleransie en verstaan van alle uiterstes in spiritualiteit, godsdiens, anti-godsdiens en ateïsme.  Dit is werklik hoe dit vir my is, en ek het gewonder waar my grense lê, en of ‘n mens dit kan regverdig.

5 Responses

  1. Baie mooi inskrywing. Jy het wat dit verg, volgens my, om ‘n baie goeie wetenskaplike te wees. Unbiased and honest.

  2. Annerkant, wat jy hier oor skryf is nogal iets wat vir my ook belangrik is. Daar is maar seker in alle mense se lewens besluite wat mens op ‘n stadium moes geneem het en waaroor mens waarskynlik nie later meer so gelukkig voel nie. Ek hou nie daarvan om in ‘n situasie van selfverwyt te wees nie. Nogtans is daar soms ongewensde nagevolge van so besluit. Mens moet noodwendig met die gevolge van mens se besluite saamleef en dit dus kan aanvaar. Maar om dit reg te kry is soms pynlik.

  3. Ek huiwer om dit te skryf want ek wil nie eintlik inmeng met wat ander mense glo nie, maar daar is ‘n baie lang tradisie van kwakke en bedrieers wat selfhelpboeke skryf. Veral in Amerika en plekke soos Suid-Afrika is daar heelwat sulke dinge aan die gang – mense wat ongetoetsde aansprake maak dat mens jou lewe kan verander deur net {voeg psychobabble hier in} te doen of glo.

    Dit sluit aan by ‘n nog langer tradisie van bedrieers wat mense met godsdiens beswendel – Mark Twain het al in 1884 daarmee gespot in ‘Adventures of Huckleberry Finn’.

    Wat ek by wil uitkom is Louise Hay se bewering dat sy haarself van kanker genees het deur dinge soos vergewing en refleksologie. Het jy al die moontlikheid oorweeg dat sy ‘n swendelaar is?

  4. Baie dankie, Andrew. Ek probeer “unbiased and honest” in my navorsing wees. In my vakgebied het ek gelukkig nie veel nodig om ‘n vertrekpunt van oortuiging nodig te he nie.

    Flippiefanus, jy is reg. Dit is nie maklik nie. Soms sou ‘n mens so graag weer terug wou keer na daardie oomblik / tydperk en dit weer oor wou besluit of doen. Dalk sou die uitslag of verloop dan tog nie wees wat die beste vir jou is nie, al dink ‘n mens so. Maar ek is doodseker dat selfverwyt en -kritiek nie vir ‘n mens goed is nie, en dit kan tog niks verander nie.

    Alleman, jy sal nie glo nie, maar ek wonder self altyd oor alles wat ek lees. Ek is ‘n groot twyfelaar en bevraagteken nogal alles. Ek slaan nog nie veel ag op aansprake soos direkte genesing deur “positiewe denke” nie. Al wat ek weet is dat dit vir my persoonlik op hierdie tydstip in my lewe baie voordelig en positief is om onder andere Louise Hay se skrywes te lees. Ek kan die gevolg daarvan in my alledaagse lewe sien en voel. Negatiewe denke, stress en dies meer is ongelooflik sleg vir ‘n mens – geestelik en liggaamlik, en ten minste help haar gedagtes daarteen. Ek het al in ‘n mate besluit dat spiritualiteit en tipe van denke nie noodwendig op werklikheid gebasseer hoef te wees nie, solank dit vir my persoonlik goed is, en ek die werklikheid nie nalaat of skade aan doen nie (soos bv. wetenskap negeer nie). Ek moet se, ek het dit nog nie oorweeg dat sy ‘n swendelaar kan wees nie. Ek gee nogal mense die voordeel van die twyfel. Dat sy wel ‘n positiewe invloed in baie mense se lewens is, daarvan is ek seker (dink ek ;)).

    Jy hoef nie te huiwer om te skryf nie, hoor. ‘n Mens moet na alle kante van ‘n saak kyk, en objektiwiteit en oopkop wees is bitter belangrik. Dankie vir jou kommentaar!

  5. hallo, net ‘n nota om te hoor of jy darem nog okay is, mens mis jou stem in blog-wereld.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: