Ek wil graag vanaand vinnig ietsie skryf. Daar het al ‘n paar dinge by my opgekom waaroor ek wil skryf, maar ek het meeste al weer vergeet in die gejaag. Ek is so gretig om al die boeke te lees, maar dit sal maar eers ‘n bietjie moet wag. Dit is vir my ook nogal dringend om by die kommentare op my blog en by die inskrywings by ander mense se blogs uit te kom, maar vanaand is ek sommer lus om net gedagtes te deel.
Verbasend, ten spyte van die gejaag het ek die spiritualiteit wat deel van my lewe geword het nie heeltemal verloor nie. Elke oggend ( in die vyf minute op die toilet 🙂 ) lees ek ‘n stukkie uit een van Louise Hay se boeke. Dit laat my altyd goed voel en verg nie baie dink en swoeg met idees en nuwe inligting nie. Sy verklaar ook dikwels dat sy die gedagtes en idees so eenvoudig as moontlik vir mense wil bring.
Nou die oggend lees ek ‘n idee raak wat iemand jare terug aan die begin van my navorsingsloopbaan vir my gesê het omdat ek dit so moeilik vind om besluite te neem. Ek kan seker maar uitlap dat ek ‘n taksonoom of eerder deesdae, ‘n sistematikus is. [Mettertyd sal ek tog met my identiteit na vore kom, want hierdie geheimhouding agter ‘n skuilnaam, is maar net nie ek nie. As my naam net nog nie bykom nie, sal ek darem nie so duidelik sigbaar wees in soekenjins en so meer nie. Ek is net nog nie gereed daarvoor nie, en ek dink ook nie my familie en vriende nie.] In taksonomie moet ‘n mens dikwels ‘n identifikasie doen, of bv. ‘n besluit neem of ‘n bepaalde groep eksemplare (specimens) tot ‘n bestaande of nuwe spesie behoort, afhangend van bv. die verskille en variasie wat ‘n mens waar kan neem. In die groep waarop ek werk is molekulêre studies nog nie so aan die orde van die dag nie, en neem ons nog besluite grootliks op morfologiese data. [Dit is lekker om oor my werk te gesels. 🙂 ] Soms herinner die besluite my nogal aan ‘n regsgeding, waartydens jy al die inligting en getuienis op die tafel sit, en daarvolgens ‘n besluit neem. Tot vandag toe neem ek hierdie besluite moeilik, want ek sien altyd die kompleksiteit daarin raak, en die inligting wat ons nog nie het nie, en wat so ‘n besluit mettertyd kan beinvloed soos daar meer uitgevind word.
Die raad wat ek gekry het: ‘n mens neem die beste besluit wat jy kan op daardie oomblik en met die inligting wat tot jou beskikking is. Dit mag verkeerd wees, maar jy kon nie beter doen op daardie stadium nie, en die besluit moes geneem word.
Toe loop ek dieselfde raad in Louise Hay se boek (The Power is within you.) raak. Sy benadruk dat jy jouself nooit moet blameer, verkleineer, en aanhoudend moet vertel dat jy onnosel en niks werd is oor besluite wat jy in die verlede geneem het nie. Heel waarskynlik waar jy nou is, en met die kennis wat jy nou het, sou jy dit anders doen, maar toe jy die besluit geneem het, of jou lewe gevorm het, het jy die beste gedoen wat jy kon. Jy moenie jouself afbreek oor die posisie waarin jy jou mag bevind nie. In sulke negatiwiteit sal jy net vasval en glad nie vorder nie. Jy het jou eie liefdevolle ondersteuning nodig indien jy veranderinge wil maak. Indien jy aan God glo, dink ek altyd, indien hy jou so oneidig lief het en vergewe, watter reg het jy self om nie ook met liefde en met volle aanvaarding en vergiffenis teenoor jouself te staan nie.
Ek haal aan uit Louise Hay se boek: “No matter where you are in life, no matter what you’ve contributed to creating, no matter what’s happening, you are always doing the best you can with the understanding and awareness and knowledge that you have.”
Ek moet versigtig wees oor wat ek nou weer belowe, maar volgende keer wil ek graag ‘n inskrywing maak oor my oënskynlike draadsittery en openlike en algehele tolleransie en verstaan van alle uiterstes in spiritualiteit, godsdiens, anti-godsdiens en ateïsme. Dit is werklik hoe dit vir my is, en ek het gewonder waar my grense lê, en of ‘n mens dit kan regverdig.
Filed under: Vir elke dag | Tagged: lewensbesluite, selfaanvaarding, vergewe | 5 Comments »




