Ego, arrogansie, hoogmoed, ydelheid

Hierdie is ‘n moeilike inskrywing.  Dit is baie moeilik om te verduidelik, en dit is baie persoonlik.  Dit is geen refleksie op enige iemand anders, behalwe ek self nie, want dit bedoel nie om middelmatigheid daar te stel nie.  Die gaan meer oor ‘n ingesteldheid.

Daar is hierdie alewige tweestryd in my gemoed.  Aan die een kant sukkel ek ook maar met selfbeeld probleme, maar aan die anderkant kan ek die arrogansie in  my soms letterlik voel regop staan.  Gebrek aan selfwaarde en ‘n swak selfbeeld is ‘n groot probleem.  Dit is waar.  Maar arrogansie, hoogmoed of ydelheid is eintlik die dinge wat in die pad van geestelike groei staan.  Hand-aan-hand hiermee loop die ego.  Daardie ego wat verdedig moet word, soms teen ‘n hoë prys.

Dit is ‘n moeilike ding om te bestry – arrogansie.  Ek kan darem met eerlikheid sê dat ek nie regtig dink ek is beter as ander mense nie, en nie op enige iemand neerkyk nie.  Ek is ook nie meer regtig arrogant oor my vermoëns nie, want daar is altyd iemand wat beter sal wees.  Hierdie tipe arrogansies is maklik om neer te lê en te bestry.  Die moeilike arrogansie is eintlik die een wat jou ego daar stel teenoor dinge wat jy moet leer maar wat nie by jou status of eie wil pas nie.  Snaaks genoeg rig dit in die binnekamer die grootste skade aan.  Is dit arrogansie wat ‘n mens keer om sommer net oor te gee en te glo?  En as ‘n mens glo, is dit arrogansie wat jou met meerderwaardigheid as verhewe bo diere en die natuur te stel?  Is dit arrogansie om te dink jou godsdiens is die enigste ware godsdiens?  Is dit arrogansie wanneer ‘n mens dink jy kan die werklikheid verander deur jou denke?  Hoe nederig moet ‘n mens wees? Hoeveel moet jy van jouself neerlê om by die waarheid uit te kom?

Dit het my gisteraand weer getref toe ek die inskrywing oor Louise Hay se boek getik het.  Terwyl ek geskryf het, het ek die hele tyd getwyfel en gehuiwer.  Moet ek regtig hier openbaar dat ek in soveel eenvoud soveel waarde vind?  Dit klink glad nie geleerd genoeg nie.  Hoe kan iets so eenvoudig so ‘n impak hê?  Die kern is nie regtig moeilik om te verstaan nie.  ‘n Mens moet dit net voel en doen.  Dit sou heelwat meer aansienlik wees om daaroor te redeneer.  Was ek bang ek sal nie “geleerd” genoeg lyk nie?  Gaan dit lyk asof ek nou sommer breinloos geraak het? Selfs terwyl ek nou hier skryf, wonder ek hoekom ek dit doen.  Is dit dalk om aandag te soek, my eie ego te streel, myself voor op te stel, mense te trek om my blog te kom lees? 

‘n Ander moeilike sy van die saak: ons moet ons self lief hê en voorop stel, daarvan is ek seker, maar wanneer word dit ‘n meerderwaardigheid? 

In die bybel het ek geleer ‘n  mens moet soos ‘n kind glo, maar ek vermoed ‘n mens moet ook soos ‘n kind wees om geestelik te groei.  Ek mag maar vra, maar dit moet wees sonder pretensies, sonder ego, sonder arrogansie, sonder hoogmoed, sonder ydelheid, net met ‘n oop en skoon gemoed.

Hoogmoed moet tot ‘n val kom, voordat ‘n mens by die waarheid uit kan kom.

Een van Sammi se inskrywings, “You don’t need to teach a seed to grow“, sluit goed aan by hierdie inskrywing van my.  Sy vra of God nie in elke dag se “klein” wonderwerke te sien is nie, terwyl ons hom moontlik net in groot dinge soek.  Mooi en opbouend om te lees.

En toe lees ek ook ‘n inskrywing van Nelba, “Geloof weerlê logika” waarin sy haar ervaring en aanvaarding van geloof regtig besonders weergee.

6 Responses

  1. Baie diep denke hierdie annerkant. Ek raak min of meer ook hierdie gedagte aan by my inskrywing oor
    ” You don”t need to TEACH a seed to grow”
    Eenvoud begin die siel suiwer, stiltye ook, soos terwyl jy onder die boom gerus het 😉
    My soeke was vir lank, daar was nie ‘n kits oomblik van verstaan nie. Moenie lag nie, maar Francine Rivers se boek “Redeeming Love” het my op die laaste bladsy letterlik op die grond gehad – NA 3 jaar se soeke was dit daardie boek.

  2. Baie goeie inskrywing, mens moet vry wees van hoogmoed as jy by die waarheid wil uitkom! Dit werk vir my, maar dit het ook eers met jare gekom😉

  3. Hallo Sammi – Baie dankie vir die verwysing na jou inskrywing. Dit is waar. Soms haal ek in die vroeg oggende sommer so diep asem en voel hoe my siel vredig word. Ek hou ook baie van die liedjie se woorde. Het opsluit ‘n koppel na jou inskrywing aan myne gelas.🙂 Dankie ook vir die boek verwysing. Ek lag nie! Ek maak op die oomblik boekverwysings ook bymekaar vir lees. Om verskeie redes het ek vir baie jare te min gelees, en hoe beter as om by mense wat ook gewonder en gesoek het verwysings te kry. Dankie vir die lees. Hopelik kry ek hierdie naweek tyd om by almal se blogs te gaan lees waarvoor ek nog nie kans gehad het nie.

    Hi Wipneus. Ja, ons ontledende brein is wonderlik, maar dit kan so maklik oorheers, en dan is ‘n mens maar ‘n halwe mens.

  4. More Annerkant
    Ek het jou link na Nelba gevolg en dit laat mens weereens besef dat mens nie alleen staan in jou soeke nie. Ons geestelike groei is nogal ‘n alleen pad, maar ek het gevind as jy (in die werklike lewe) daardie soektog SAAM met ‘n ander paar mense aanpak, is dit makliker. Elke persoon het sy eie ervaring en kan ‘n groot bydrae maak.
    Oor self-help boeke, party het my net meer deurmekaar gemaak, totdat ek FR se boek (dis ‘n storieboek) gelees het. TOE verstaan ek eers!
    Jy mag nie die laaste bladsye eerste lees nie, hoor ! 😉
    Vandag reen dit by ons, dis wonderlik, want net verlede week is daar waterbeperkings ingestel en ons mag nie ons tuine natmaak nie. Another ordinary miracle!! 😀

  5. Sammi, kan eers goeie aand se op jou “more”🙂. Is bly oor die reen wat geval het! Sien uit om ook ‘n lekker storieboek met ‘n invloed te lees tussen al die ander “swaar” goed.🙂 Waar kry ‘n mens inligting oor groepe oor self groei en spiritualisme (geestelikheid) waarby ‘n mens kan aansluit wat nie christelik is nie?

  6. Hi Anderkant

    Dankie vir die inloer op die plaas. Jou inskrywings is van hoë gehalte en ek geniet die Afrikaanse Blogsfeer 1000% meer as al die Tydskrifte oppie mark… en raai vryheid van spraak…

    maar nou ja ek is maar ook net arogantt en dikvellig dit is hoe ek almal se blog wêrelde instorm… vra maar vir wipneus en sammi…😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: