Gene vir God III

(Die belangrikste deel van hierdie inskrywing is in groen, as jy net vinnig wil lees wat aangaan.🙂 ).

Omtrent ‘n maand gelede het ek die eerste inskrywing oor “Gene vir God” geskryf.  Ek self het al amper die draad verloor!🙂 Net om weer by te kom: in my diepste wese het ek hierdie gevoel of “wete” (“gut feeling”, “sense”) dat daar iets meer, groter en omvattender is as ons blote bestaan hier op aarde. Waar sou hierdie gevoel vandaan kom?  Ek sal seker nog baie hieroor dink en skryf, maar die eerste waarna ek gaan kyk het, is die moontlikheid dat hierdie “wete” om een of ander rede in ons “geprogrammeer” is (geneties oorgedra word), en dat dit nie noodwendig te wyte is aan die werklike bestaan van “God” nie.

In Gene vir God I het ek bloot dele uit ‘n artikel in Time Magazine , oor die boek The God Gene: How Faith is Hardwired into our Genes deur D. Hamer, aangehaal.  Gene vir God II is ‘n kort opsomming van en aanhaling uit ‘n wiki Origin of religion soos ek dit op 16 Aug. 2008 gedruk en gelees het. 

Hier in Gene vir God III sê ek nie veel nie.  Ek vang eerder net weer op en verder som ek vinnig op wat ek in ‘n verdere twee wiki’s: God_gene en Religious experience gelees het (weereens soos die wiki’s op 16 Aug. 2008 was).  In die God gene wiki word die hipotese van D. Hamer en die inhoud van sy boek weer gegee en effens verduidelik, asook die kontroversie wat dit veroorsaak.  Ek het nog steeds nie Hamer se boek gelees nie, en sal seker nie in die nabye toekoms nie, want daar is te veel ander belangriker dinge waaroor ek moet lees en dink.  Hierdie is dus nog steeds tweede-handse kennis.  Die belangrikste vir my is: die “God-geen” (VMAT2) is betrokke in die prosesse wat te doen het met neuro-oordragstowwe wat bydra tot ‘n individu se emosionele sensitiwiteit, wat gekorreleer kan word met ‘n persoon se geneigdheid tot “self-transcendence” (selftransendensie in Afrikaans – nie dat dit veel meer vir my beteken as die Engelse woord nie🙂 ), wat saamgestel word deur “self-forgetfulness” (soos om bv. jouself heeltemal te verloor in dit wat jy lees), “transpersonal identification” (‘n gevoel van konneksie met ‘n groter heelal) en “mysticism” (‘n geneigdheid om te glo in dinge wat nie letterlik bewysbaar is nie soos buitesintuiglike waarnemings).  Hierdie word beskou as ‘n soort van wetenskaplike definisie om te beskryf wat dit is om spiritueel te voel.

Om hierdie hele ding rondom hierdie “spirituele gevoel of ervaring” beter te verstaan het ek ook die wiki oor Religious experience gaan lees. Hierdie wiki het ek baie interessant gevind, en daar is so baie nuwe definisies en verduidelikings wat amper elkeen ‘n inskrywing op sy eie regverdig, dat ek dit liewers later buite die Gene vir God reeksie wil ondersoek (en hiermee belowe ek nie noodwendig inskrywings daaroor nie😉 ).

In Gene vir God IV sal ek probeer om weer te gee wat ek uit “Gene vir God” (insluitend die kommentare daarop) geleer het, en waarnatoe dit my verder lei op my geestelike reis.  (Ek moet sê daar is so baie interessante afdraaipaadjies dat ek die hoofpad nou heeltemal verloor het, maar maak dit saak?).🙂

Foto van flickr af  (dit lyk amper vir my op die oog af soos ‘n blommetjie weergawe van Mandelbrot fraktaal waaroor FlippieFanus geskryf het.)

spiritualiteit

spiritualiteit

7 Responses

  1. In so verre ek die groen deel verstaan het klink dit nogsteeds vir my na wat ek van tevore gese^ het. Wat ek seker die interessantste vind is die mooi blommetjies prentjie wat jy beskryf met die woord spiritualiteit. Hoekom assosieer jy dit met spiritualiteit? Wil jy nie dalk vir ons meer daaroor se^ nie?

  2. Ek dink nie iemand kan ontken dat die geneigtheid na geestelikheid geneties vasgelê kan word nie. Selfs al wil mens nie in wetenskap glo nie weet ons tog almal dat mense verskil. Ek hou van suur-smake en my broer van soet-smake. Dit is in ons gene. Toegegee dat dit te doen het met die smaak-papille op die tong, maar dit is geneties bepaal. So, waarom nie die behoefte na geestelikheid ook nie. Maar as die behoefte na geestelikheid geneties is, dan moet die geneigtheid vir geweld (of eerder haat) ook geneties wees, of hoe?

    Uit ‘n heeltemal ander hoek (of dalk nie) het ek raakpunte in ‘n tv-program oor die boesmankultuur Sondag gesien. Om die transdanse te verduidelik glo die boesmans dat seker van hulle (die toordokters meestal) ‘n gawe besit om tydens so ‘n dans in ‘n trans in te gaan en dan met die geeste (meestal voorvadergeeste maar nie uitsluitlik nie) in aanraking te kom. Om hierdie gawe te beskryf was die antwoord dat god/die skepper dit vir die eertse toordokter gegee het en dat hy dit aan sy seuns oordra. Nou dit klink na genetika vir my. Dalk is die antwoord vir jou soeke al lankal aan die mens bekend. Dalk het ons dit net “ontgroei”.😮

  3. Daar is verseker iets meer, groter en omvattender as ons blote bestaan hier op aarde!!

    Ek hou van die afdraaipaadjies wat jy vat! Ek “explore” alles saam met jou!

  4. Ek’s baie bly jy het onder die boom opgestaan!!
    Ek stem saam met Wipneus.

  5. Flippiefanus, ja ek gee toe, hierdie inskrywing het maar min om die lyf.🙂 Ek het net aanklank gevind, of eerder ‘n groot deel van myself herken in die beskrywing van “selftransendensie”. Ek probeer ook agterkom wat spiritualiteit nou presies is. Sluit dit ook “bekering” in? Baie mense beskryf dit as iets wat op ‘n presiese oomblik gebeur. Ek wou nie eintlik weer die geenstorie intrek nie, maar die volgende inskrywing sal soort van daarmee afsluit.

    Die blommetjies? Die persoon wat die foto’s aanmekaar gesit het, noem dit ‘n mandala en het ook spiritueel daaraan geheg – ek volg maar die sleutel. Ek is seker jy weet wat ‘n mandala is. Dit is mos ‘n patroon of ontwerp in ‘n sirkel met simboliese betekenis wat onder andere vir meditasie gebruik word as ek dit nie verkeerd het nie. Maar vir my op hierdie stadium het dit nie veel meer betekenis as dat dit vir my baie fyn en mooi is nie, maar dit lyk tog spiritueel, en ek het daarvan gehou dat hierdie een die bree patroon naboots, maar met natuurlike blommetjies aanmekaar gesit is.

    Galbraak, dankie vir jou inloer en kommentaar. Waar dink jy pas “haat” in? Dit is tog ‘n emosie. Is dit op dieselfde vlak as “geestelikheid”? Ek het van jou aanhaak van die Boesmankultuur gehou. Ek wonder of ons geestelikheid, en uitleef van geestelikheid in ‘n godsdiens vandag meer “gesofistikeerd” in wese is as die “Boesman” geestelikheid. Jy is reg, dalk het hulle “genetika” reeds lankal waargeneem.🙂

    Wipneus, ek dink dit is dalk beter vir ons gesondheid om te glo dat daar iets meer is, en al kan ‘n mens dit nie bewys nie, moet ‘n mens dit dalk net deel van ‘n mens se lewe maak, solank dit nie die ondersoek van werklikheid ondermyn nie.🙂

    Sammi, die koeltetjie en rustigheid onder die boom was SO lekker.😉 Ek moet nog jou blog mooi deur gaan lees. Skies, ek kom nog net nie daarby uit nie.

  6. Haat is dalk ‘n emosie,maar wat jou laat haat is dalk nie. Ons plaas mos baie maklik mense in boksies: ‘die tiepe is skelm, daardie tiepe lui ens.’ So glo baie ook dat sekere tiepe meer geweldadig (of barbaars) optree. Dalk is hierdie kenmerke dus geneties. Daar mag ‘n geen wees wat so ‘n groep in gemeen het wat toelaat dat sekere oordragstowwe of hormone makliker afgeskei word wanneer hulle in sekere situasies beland. Dit kan lei tot ‘n gevoel wat as haat beskryf kan word. …. dink ek.

  7. Galbraak, ek weet nie of ek nou bo en behalwe oor die liefde nog oor haat ook moet begin wonder nie.😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: