My blog: waarom en waarheen?

Hierdie is ‘n halfwegstasie inskrywing vir myself (baie hierin kom ooreen met die “wie ek is” bladsy).  Ten spyte daarvan dat ek die blog-skrywery baie meer geniet as wat ek gedink het ek sou (dit is amper verslawend!), is die onderwerp waartoe ek myself verbind het, nie altyd vir my so aangenaam nie.  Nou hoekom hou ek daarmee aan?

1. Hoekom besoek ek hierdie halfwegstasie?

  • Dit het vir my moeilik begin raak om voort te gaan om oor geestelikheid te skryf, en om daarop te fokus in my besoek aan ander blogs en my kommentaar wat ek daar gee.  Hoekom?  Ek is ‘n wetenskaplike, en baie geestelike fasette is vir my “wollerig”.  Dit voel vir my dikwels soos ‘n gepraat in die lug. Ek brand meestal om oor ander goed te skryf, maar ek is bevrees as ek dit te veel doen, sal ek mettertyd glad nie meer die geestelike aanraak nie.  Dit sal my doel met my blog heeltemal negeer, en dan moet ek liewers met ‘n totaal nuwe blog begin. 
  • Ek is dikwels kwaad en ongelukkig met myself:  alhoewel ek juis onder ‘n skuilnaam vrylik, eerlik en sonder omhaal wil skryf oor my geestelikheid en ervaring daarvan en soeke daarna, loop ek nog steeds dikwels katvoet, en buig agteroor om mense nie te na te kom of moontlik in die verderf in te lei nie.  Dit beteken nie dat ek nie graag met mense wat anders as ek dink ordentlik in gesprek wil tree, en nie ook ander mense se siening en persoonlike keuses wil respekteer nie.  Maar dit is ongelukkig deels omdat ek die ordentlikheid soms oordoen, hoekom ek nie in die “werklike” lewe vrylik oor my geestelikheid praat nie.  Dit is waarskynlik deel van my menswees, en defnitief hoe ek normaalweg optree, maar dit is soms net erg frustrerend.  Hier verklaar ek nou aan myself dat ek dit maar as ‘n gegewe moet aanvaar, maar dat ek tog moet probeer om my grense in hierdie opsig te druk. 
  • Dit voel soms vir my ek voel en reageer teenstrydig (hoe op aarde kan ‘n mens dan geestelik wees en nie ‘n christen nie?).
  • Ek wil net weer myself in konteks plaas en myself weer vertel hoekom ek skryf waaroor ek skryf.

2. Hoe het ek hier beland?

Toe ek moes besluit oor ‘n rede en onderwerp waaroor ek wil blog, wou ek iets aanpak wat ek graag in ‘n joernaal op wil teken, met ander mense wil bespreek en met ander deel (daarom in ‘n blog en nie privaat nie), en belangrikste van alles, iets waaraan ek meer aandag en tyd wil spandeer, maar waarby ek nie uitkom soos ek graag wil nie.  My geestelikheid of spiritualiteit het op my hart gedruk.

3. Waar kom ek vandaan in my geestelikheid (KORTLIKS)

  • Ek was ‘n christen (het in ‘n christelike huis groot geword, en was dit self in my jong volwasse jare).
  • ‘n Rukkie nadat ek begin werk het, het ek bewustelik “ontkersten” (nie as gevolg van ‘n dramatiese gebeurtenis nie, maar bloot omdat ek erken het dat dit net nie vir my sin wil maak nie) en het christenskap, maar ook geestelikheid totaal die rug gekeer en vermy, en geweier om daaroor te dink of te praat.  Die beste term om my te beskryf is seker gedetermineerde “agnostikus”.
  • In hierdie “agnostikus” tyd (die grootste deel van my lewe) het ek maar net aan ander dinge gedink gedurende die voortdurende christelike gesprekke met my, en beleefd geglimlag en my kop instemmend geskud.
  • ‘n Paar jaar terug is ek deur ‘n baie slegte tyd in my lewe, en in my “herstel” het geestelikheid op verskillende maniere na my toe gekom (boeke, mense ens.) sonder dat ek noodwendig daarna gesoek of daarvoor gevra het.
  • Ek het besef dat ek geestelikheid nodig het, en dat die afwesigheid daarvan nie vir my goed was nie.

4. Waar is ek nou?

  • Ek is geestelik of spiritueel, en toenemend so.
  • Ek ervaar die bestaan van ‘n “God” of iets groters as ons bestaan hier, maar vind dit moeilik om dit te verwoord.
  • Ek sal nooit ophou vrae vra en ondersoek nie, en dink nie dit is tot nadeel van my geestelikheid nie, in teen deel.
  • Omdat ek geestelikheid ervaar en aktief beoefen, beteken nie noodwendig dat dit op werklikheid berus, of dat dit daarop hoef te berus nie.  Dit moet net betekenisvol wees vir my lewe, my lewe positief beinvloed, daartoe bydra, en ek moet my volkome daarmee kan versoen.
  • Ek is nie ‘n christen, of verbind my tot enige ander godsdiens nie.

5. Waarnatoe lei my geestelikheid my, en hoekom hou ek my nog op met en fokus veral op christenskap?

  • Omdat ek ‘n christelike “meem” het (🙂 het al iets geleer), is christenskap nog in ‘n mate my verwysingsraamwerk vir geestelikheid.
  • Ek word voortdurend deur christene wat baie belangrik in my werklike lewe is, “gekonfronteer”, en dikwels is ek na so ‘n konfrontasie of gesprek angstig en bevrees.  Ek kon my nog nie losmaak van die vrees dat ek dalk verkeerd is, en verlore gaan nie.  Dit is vir my baie erg om agter te kom hoeveel angs en bekommernis ek weer op my beurt aan spesiale mense besorg omdat ek nie christenskap wil belei en tot bekering kom nie.
  • Die feit dat ek my vir geestelikheid oopgemaak het, het  my weer in ‘n mate weerloos gemaak teenoor christelike bearbeiding.  Ek sal finaal my verhouding met christenskap vir myself uit moet werk.
  • Ek probeer hard om nie enige vooropstellinge te hê oor waar my geestelike my gaan lei nie.  Dit mag beteken dat ek dit tog wel mettertyd in ‘n godsdiens verwysing uit gaan leef, of daartoe “bekeer” word, maar dit is onwaarskynlik.

Op hierdie oomblik in my lewe is dit dit, en na alles, my skrywe hier in die blog en my interaksie met ander hier het reeds tot my lewe en geestelikheid bygedra, en dit maak alles die moeite werd.

27 Responses

  1. Sjoe annerkant hier is nogal baie informasie en baie vir my om oor kommentaar te lewer. Ek sal waarskynlik weer liewer ‘n opskrywing moet maak daaroor, maar dit gaan so laslappie opskrywing moet wees om alles aan te spreek.

    Ek verstaan nou dat hierdie saak eintlik vir jou ‘n belangriker saak is as wat ek aanvanklik gedog het. Ek sal dit met die nodige respek en sensitiwiteit moet hanteer. Nogtans wil ek vir jou se^ dat jy nie oorversigtig hoef te wees met jou menings of vrae nie. As dit soort van geneig is om mens se fondamente te wil skud, then so be it. As mens se geloof nie kontensieuse kwessies kan oorleef nie dan is dit in iedergeval nie gesond nie.

  2. Flippiefanus, nee jong, jy is ook te ordentlik! 🙂 Dit is vir my ‘n ernstige saak, maar meestal is dit net ‘n vreugdevolle ondervinding. Jy hoef darem nie ‘n hele inskrywing te doen hieroor nie. Was maar net ‘n stilstand vir myself.

    En, asseblief, wees onsensitief en reguit, en vergeet maar van die respek (wees soos ‘n wetenskaplike teenoor my).🙂 Ek het genoeg mense om my wat my met liefde en sensitiwiteit hanteer, en dan is dit weer vir my moeilik om sonder sensitiwiteit te reageer, en regtig te se wat ek wil.🙂 Sjoe, maar hierdie geestelike goed is moeilik! Hoop ek maak sin (ek is versigtig, want ek het jou stuk oor wetenskaplike metodiek goed gevind sonder dat jy geleerd probeer wees het, en sal mooi dink voordat ek sommer net dinge vir jou se.)

  3. Wel daar is tog dinge wat ek beter kan beskryf in ‘n behoortlike opskrywing. Miskien sal ek nie so laslappie opskrywing maak nie, maar net die onderwerpe wat ek behoorlik kan beskryf opskryf.

    Dis jammer dat jy dit moeilik vind om oor die geestelike goed te praat. Aan die een kant wil ek vir jou se^ om meer te skryf oor die dinge wat jy geniet, maar aan die anner kant wil ek nie he jy moet ophou om oor die geestelike goed te skryf en vrae te vra nie.

  4. Annerkant

    Dit is jou blog en jy kan daarmee maak wat jy wil.

    En reguit praat laat geen ruimte vir misverstande nie.

    Ek tel seker as ‘n (baie skynheilige) Christen. Dalk nie ‘n ware Christen nie, maar darem ‘n gelowige. Integriteit van geloof word deur geloofsvryheid beskerm. Geloof bly ‘n keuse, as dit op jou afforseer word, beteken dit niks.

    ‘n Mens is dit aan jouself verskuldig om vrae te vra. Om iets te kry waarmee jy gemaklik voel.

    As mense jou daarvoor met klippe wil gooi, voel hulle nie gemaklik met hulle eie geloof nie. Hulle is te bang om die vrae te vra. En is jaloers op jou wat die guts het.

  5. Ek lewer nie altyd kommentaar nie, maar ek reis saam met jou na hierdie soeke Annerkant!!!

  6. Annerkant. Ek is baie mal oor jou blog, want jy laat my dink. Ek kuier lekker hier. Dit nou gese.

    Ek het nog altyd besef die kwessie van geloof/spiritualiteit is vir jou ‘n ernstige en gewigtige saak. Dit het nooit ooit by my opgekom, eers vir een oomblik dat sy ligtelik in een of ander bossie krap nie.

    Ek gee jou hier voor almal my woord dat ek nie klip sal gooi na jou of veroordeel nie.

  7. Ek het die grootste agting en respek vir wat jy hier probeer bewerkstellig, en ek sien verskriklik uit om hierdie ontdekkingsreis saam met jou te deel -:-

    Ek ervaar voortdurend goeters en dinge wat nie altyd in ‘Mede Christene’ se raamwerk van Christenskap inpas nie, maar vir my is dit nie ʼn teken van ‘Doom’ nie, inteendeel…

  8. Hmmm beland ekke toe perongelukkies hiersoe en ek is eintlik bly!

    So met my soeke ook het ek besluit dat net ‘n groter mag die groot wow software kon skryf van die aarde en hemele en al die prosesse wat so perfek werk…proses van ‘n saadjie wat net in die regte toestande ontkiem en tog belangrik genoeg was om sy eie software te kry…ai soms verstom dinge my net en beleef mens ‘n groter mag! Soms kry mens meer inspirasie by gebeure buite die kerk as daar binne…

    Mens het baie vrae! Veral oor wat die samelewing as reg en verkeerd beskou en wie gee hul die reg om te besluit wat is reg en verkeerd ens ens ens! Hierdie ontdekkingsreis van jou is awesome, ek wens meer mense wil dit so doen en nie net gelate als aanvaar wat hul mee gebreinspoel word nie! Beproef alles en maak deel van jou lewe wat vir jou werk want dis op die ou einde net JOU lewe wat jy self moet leef!

    Bon Voyage😉

  9. Annerkant, jou skryfstyl alleen is vir my ‘n berusting.

    Woon jy perdalks op Stellenbosch?

  10. Flippiefanus: skerp soos altyd🙂 – hier aan die anner kant sal ek dan my geestelikheid verder ontrafel. Sal jou inskrywings dophou. Nou is jy ook in die skuld!🙂

    Hi Adrie, dit was vir my interessant wat jy skryf. Weet jy, ek dink jy het ook al meer vrae gevra as die gewone, en jy besef geloof is ‘n mens se eie baie, amper intieme wil ek se, keuse. Dalk gebruik jy die woorde in ‘n ander sin, want ek is seker jy is nie ‘n “skynheilige” christen nie, in teen deel. Ek dink nie jy moet jouself ooit weer skynheilig noem nie! Ek dink christen wees is ‘n goeie plek om jou geestelikheid uit te leef, veral as jy opreg is oor jou geestelikheid, en altyd nader aan God beweeg. Dit is glad nie nodig om “dapper” te wees nie.🙂 Jy kan baie tot mense se lewens bydra waar jy is. Skies … ek wou nou nie preek nie, maar ek wou eintlik maar net vir jou se jy moet jou geestelikheid nie gering skat nie, maar nie saak wat jy dit noem nie.

    Rosa, ek hoef jou amper nie op jou te reageer nie.🙂 Ek dink ons is in ‘n sekere mate baie dieselfde, behalwe dat jy hierdie ongelooflike skat van kennis het, altyd ‘n reguit kyk kyk, en reguit woord skryf, en dat ek dalk in die toekoms “laf” mag raak met “alternatiewe” gedagtes. Dan moet jy my jou nugtere kennis gee, sodat ek mooi oor die goed kan dink.🙂

    Mefri, jy is regtige ‘n dierbare mens! Ek lees altyd jou kommentaar waar ek dit raakloop, en dit is altyd mooi. Jy moet met ‘n blog begin sodat ons jou kan gaan geniet!

    007meisie, ek voel bevoorreg dat jy my raak geloop het! Jy is so vol energie, en jy borrel so oor van jou gedagtes! Ek persoonlik dink nie jy moet ooit ophou besef hoe ongelooflik die heelal is nie! En kyk, ek het ook al baie gewonder hoe mense soms so vas kan glo in wat reg en wat verkeerd is ( wat ek ook maar gedoen het!!!🙂 ) en so maklik oordeel voordat hulle dit mooi deurdink en aan liefde en God gemeet het. Dankie vir die lees, hoor.

    Johan: 🙂 Dit is ‘n groot kompliment! Ek dink nie altyd ek skryf goed nie. Langdradigheid is ongelukkig een van my “sondes” wanneer ek skryf. Baie mense kla omdat ek so baie skryf dat hulle dit nie eens wil lees nie. Mense is maar lui om te lees in hierdie vinnige wereld.🙂 Stellenbosch? Is dit ook ‘n kompliment?😉 Nee, ek is nie ‘n Kapenaar nie.🙂

    ———
    Sela. Julle was almal nou so gaaf, dat ek skoon verlee voel! Dankie, maar julle moet my groot asseblief ook “aanvat’, dit is hoekom ek hier skryf. Ek het nodig om te dink en gekonfronteer te word!

  11. Ek stem jy skryf lekker. Johan wil jou nou weer vir ‘n bier vat! Ai-ai.
    Gooi die “alternatiewe gedagtes”, ek is heel OK daarmee😉

  12. Oooo😉 Drink hulle bier in Stellebosch? Ek dog hulle drink net wyn.🙂

  13. Rosa … alternatiewe gedagtes soos kristalle wat heel ( het jou kommentaar hieroor op ‘n ander blog gesien🙂 ) … wel, miskien nie so alternatief nie, maar in daardie lyn. Heeltemal te laf vir jou brein. Maar ek is gretig om daarmee te begin sodat ek kan sien wat jy antwoord.

  14. Wipneus, skies ek het jou gemis met die antwoorde. Nou skryf ek weer meer reaksies as wat ordentlik is, maar ek wou net vir jou se, baie dankie, hoor – vir die lees!

  15. Ek is juis besig om ‘n opskrywing te maak maar dit gaan stadig want daar is sooo baie om te lees.😉

  16. Terloops ek is besig met ‘n redenasie met ‘n aties in “Die kunstenaar se hantekening” se kommentaar. Dalk vind jy dit interessant.

  17. Kristalle vir die mooi? Of kristelle wat “energie waves uitstuur” ehhehehehe kom ‘n ding😉

  18. annerkant – studente drink enigiets😉

    man, ek wou jou eintlik uitnooi na ‘n kritiese gespreksgroep wat moedergemeente run.

    ek wou jou uitnooi🙂

    kristalle…urghhhh

  19. Jou hierheen gevolg van Flippiefanus af. Ek wonder net hoe lank jy nog by hierdie halfwegstasie gaan vertoef?

  20. Johan: Jammer, ek is ‘n bietjie ver.🙂 En ek dink ook nie ek is al gereed of net bloot lus om tyd te spandeer aan “uit” kom tussen mense in lewende lywe nie.
    … kristalle kan verbasend interessant wees …😉 … ek is darem nog nie by die kristalfase nie, maar daar is soortgelyke dinge wat al my mond oop laat hang het in verbasing.

    Sammi … Ek hou nogal daarvan om hier rond te sit. Baie makliker as om verder te skryf.😉 Dankie vir die inloer, al het jy my aan die slaap gevang.🙂 Ongelukkig kan ek soms net so nou en dan skryf.
    … Ek wil nog by jou blog ook ‘n draai maak.

  21. annerkant daar is so ietsie vir jou op my blog. Bly jy is weer terug. Ek skuld jou seker nog kommentaar of opskrywings. Kan ook nie meer onthou nie.😉

  22. Jis ek dink so baie van ons identifiseer met fasette van hierdie pad wat jy beskryf. Ek weet ek doen!

    Wat, sou jy sê, is ‘n Christen?

  23. Flippiefanus, weereens dankie vir die toekenning. Ek is nie baie goed met toekennings nie, al weet ek dit is nie baie ernstig nie. Jy skryf nou oor interessante dinge. Ek weet nie waaroor wou jy ‘n inskrywing maak na aanleiding van hierdie halfwegstasie van my nie, maar dit is nie belangrik nie. Dit is belangriker dat jy ons van wetenskap leer sodat ons dinge selfs net ‘n klein bietjie meer in perspektief kan sien.

    Duskant, ek is seker meeste, indien nie almal nie, moet op ‘n stadium by hulle geestelikheid en keuses daar rondom uitkom. Ek is nie seker wat jy vra nie. Vra jy of ek dink ek is ‘n Christen? Om eerlik te wees: nee, waar ek nou staan is ek nie ‘n Christen in die godsdiens sin van die woord nie, maar ek dink ek verkies om aan ‘n God of grootheid te glo. Vir Jesus het ek groot respek, maar ek kan nie alle ander opregte geestelike paaie summier veroordeel indien dit nie streng volgens die bybel is soos waarmee ons groot geword het nie (ek neem aan jy het ook christelik groot geword?). Ek hoop ek antwoord jou vraag. Ek moet nog mooi deur jou blog ook gaan lees. Leer maar almal so stadig ken. (Staan ons in teenoorgestelde kampe? … Duskant en Annerkant …🙂

  24. He he, ek hoop nie so nie😉 .

    Ek het sommer gewonder wat ‘n / die teksboekdefinisie van ‘n Christen sou wees, indien daar een sou wees (dis actually ‘n gedagte waaroor ek al lank wonder). Ek meen ons Sondagskoolboekies en die Heidelbergse Kategismus het altyd sulke vreeslike omvattende gereformeerde antwoorde gegee maar dit maak nie vir my sin nie…Wat sou jy sê?

    (ek geniet jou blog geweldig!)

  25. Liewe land, met watter vooropgestelde brilletjie het ek gelees?😉 Daar staan dit heel duidelik!🙂

    Ek kan net vanuit ‘n min of meer Calvinistiese of “gereformeerde” siening definieer, indien ‘n mens al die denominasies, soos bv. die katolieke in ag moet neem, raak dit seker vinnig ingewikkeld. Sommer so uit die vuis uit soos ek dit altyd persoonlik verstaan het (het al bietjie my “opleiding” vergeet🙂 ) : ‘n Christen is ‘n persoon wat glo in die drie-enige (spelling?) God wat alles wat bestaan geskape het (dieselfde God as die God van Israel). Hy/sy glo daar is geen ander God behalwe hierdie God nie. Die mens is na sy beeld geskape, maar het in sonde verval, en is dus verdoem, maar God het aarde toe gekom as sy seun, gebore as Jesus Christus, wat vir ons sondes gekruisig is en die dood oorwin het. Daar is geen manier om by God uit te kom en van jou sonde vergewe te word behalwe om in Jesus Christus te glo en te glo dat hy namens jou vir jou sonde gesterf het nie. Verder glo ‘n Christen dat die bybel geskryf is deur mense wat deur God geinspereer is, en dat die bybel die hele waarheid bevat oor alles wat ons nodig het om te weet, en dat dit deur die heilige gees aan ‘n mens geopenbaar word. Die kern is waarskynlik dat ‘n mens in Jesus Christus moet glo, dat hy vir jou sondes gesterf het. Enige iets anders, en jy gaan hel toe. … Sjoe, dit is nogal moeilik om te definieer, al het ek gedink dit behoort eintlik maklik te wees.

    Blykbaar gaan hierdie dinge net vir ‘n mens “oop” wanneer jy werklik tot bekering gekom het, dan verstaan ‘n mens baie beter.🙂

    Dit blyk asof ek mooi moet gaan dink en uitpluis wat christen wees en om spiritueel te wees WERKLIK beteken.

    Het jy al ‘n werkbare definisie gevorm, al is dit nie die “ultimate” nie?

    Baie dankie, hoor, vir die geniet! Ek hoop ek arriveer darem eendag min of meer by iets waarin ek net kan groei, en wat ‘n positiewe bydra in ander se lewens kan maak.

    Ek hou ook van jou nuwe blog baadjie🙂.

  26. […] kommentaar op ‘n vorige inskrywing van my vra Duskant wat ek dink ‘n teksboekdefinisie van ‘n Christen sal wees.  (Na […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: