Gene vir God – reaksie op “Jy besluit (deel 2)”

Flippiefanus het my saggies “aangemoedig” omdat ek nie by al die beloofde inskrywings uitkom nie. 🙂 Wel, nou laat ek hom ‘n bietjie aanvat. ;)  Hierdie begin nou meer debat raak as ‘n geestelike reis, maar soms moet ‘n mens sommer net alles van ‘n entjie af in oënskou neem en ‘n bietjie daaroor gesels, en natuurlik hopelik ook ‘n bietjie daaroor dink en nuwe kennis byleer.  Dit is ook deel van die reis.

Flippiefanus begin sy “Jy besluit (deel 2)” met ‘n gesprek oor redenasies oor die bestaan van God.  Ek stem saam met hom dat ‘n objektiewe en ingeligte redenasie oor die bestaan van ‘n God nie regtig moontlik is nie, of ten minste ‘n finale uitsluitsel daaroor is nog nie moontlik nie (eintlik verdraai ek sy bedoeling waarskynlik ‘n bietjie, maar ek kan my vereenselwig met die stelling soos ek dit bewoord het).  Indien ‘n mens die kennis het, dink ek tog ‘n mens kan wel redeneer oor verskillende godsdienste.

Maar, daar was iets anders in sy inskrywing wat my dadelik ongemaklik laat voel het.  Iets wat my persoonlik baie pla.  Hy stel dit baie duidelik, maar ek wil nou nie alles hier aanhaal nie, jy kan self gaan lees. :) Dit kom daarop neer dat ‘n onteenseglike bewys van God se bestaan teenwoordig in sy skepping, en wat natuurlik geloof in sy bestaan onnodig sou maak, die skepping en mens in ‘n masjien sou verander wat maar bloot meganies voortloop.  Daarom het ons ‘n vrye wil om ‘n keuse te maak of ons in God wil glo of nie, en vir hom kies of nie.  Ek wil nie filosofies hieroor wees nie, want onthou ek is nie ‘n filosoof nie.  Dit maak bloot net nie vir my sin nie.  Indien ek van die bestaan van God geweet het, onteenseglik, sou ek tog nog steeds ‘n keuse gehad het of ek hom wil “volg” of nie.  Dit is tog eerder ‘n keuse van ‘n lewensoortuiging en alles wat daarmee saamhang.  Waarom moet die besluit nou wees of God wel bestaan of nie?  Dit is vir my ‘n vreemde keuse.  Nou moet jy hierdie lewensbelangrike besluit neem (en let wel een wat sal bepaal waar jy vir EWIG gaan beland as dit so is) op grond van geen inligting nie.  Inligting soos in die bybel vervat, is nie werklik inligting vir so ‘n besluit nie.  Soos Flippiefanus self gesê het, kan ‘n mens nie vir of teen God redeneer nie, want ons het net bloot nie die kennis of vermoë om dit te doen met ons sintuie en waarnemings hier op aarde nie.  Ons kan maar bloot hipoteses daaroor opstel, soos wat ons op hierdie oomblik die feite voor ons het. 

Nou kan ‘n mens natuurlik dalk bietjie verder gaan: gaan die ewige lewe en die hemel dan eendag bloot ‘n dooie masjien wees omdat ons dan van die bestaan en “wees” van God gaan weet?  Of het die hele situasie dan verander omdat ons so ‘n goeie keuse gemaak het sonder om iets te weet?

En nou sommer so ‘n stertjie van die punt af:  op kennis van iets of iemand volg juis groter respek, liefde, of afkeur, of watter reaksie ookal, bloot omdat jy net soveel meer daarvan weet.  As ek na die heelal kyk, en besef dat dit moontlik deur ‘n God geskep is, staan ek in verwondering, en as ek dit werklik sou weet, sou ek nie in ‘n masjien sonder ‘n vrye besluit verander het nie.

4 Responses

  1. Sjoe annerkant dis nogal ‘n moeilike een om te antwoord. Sal probeer om nie te lank te skryf nie.

    Toe Jesus op aarde was het hy allerande wonders gedoen om mense te oortuig en hulle het hom nie geglo nie. Hy het uit die dood opgestaan en aan mense verskyn en die mense het hom nog nie geglo nie. Hierdie dinge is alles vir ons opgeskryf sodat dit op rekord is, maar mense glo dit nie. Jesus vertel op ‘n stadium die gelykenis van die ryk man en Lazarus. Toe altwee dood is, is die ryk man in die vuur gegooi en Lazarus staan by Jesus. Die ryk man vra toe dat iemand gestuur moet word om sy broers te waarsku, maar Jesus se^ hulle het nie die profete geglo nie. So selfs al staan iemand uit die dood op om hulle te waarsku sal hulle hom nogsteeds nie glo nie.

    So wat gaan dit dan vat sodat alle mense geen keuse het anders as om te glo nie? Ek dink dit sal vereis dat God vir alle praktiese doeleindes die mense se vrye wil moet wegvat en dan sal mense soos zombies wees.

  2. Ek weet ook nie hoe om jou te antwoord nie, want dit is seker ook nie vir my genoeg nie (jou lysie). Ek gaan nie redes gee nie. Ek kan nie dink dat ‘n God wat ‘n heelal en meer tot stand gebring het, hom nie aan ons kan openbaar nie, en weereens, as ons met ‘n vrye keuse gemaak is, sal ons nog steeds ‘n keuse he. Om te weet God bestaan, beteken nie jy “kies” hom nie. En dink jy God weet die uitslag van elkeen se keuse? Hoekom ons dan deur die keuse laat gaan?

  3. Inderdaad is God daarin instaat om homself aan ons te openbaar. En die ding is hy doen dit. Maar nie op so manier dat mens daardeur oorweldig word nie. Ek het al baie gedink daaroor hoekom hy dit nie met onweerlegbare bewyse doen nie en die rede wat ek vir myself uitgewerk het is dat hy nie mens wil oorweldig nie. Die mens moet op sy eie in die heelal kan bestaan.

    Ek stem nie saam dat mens nogsteeds ‘n keuse sal he^ as God homself met onweerlegbare bewyse aan die mens sou openbaar nie. Ek dink dit sal ‘n ontsettende impak op die mensdom he.

  4. Flippiefanus, ek het ‘n bietjie daaroor gaan dink, en jy is reg dit sal ‘n ontsettende impak op die mensdom he. Dit is selfs vir my moeilik om my so iets in te dink, maar persoonlik sou ek dit verkies om eerder ‘n gelukkig robotjie in die hemel te wees, as ‘n opregte twyfelaar in die hel.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: