Gene vir God II

In Gene vir God I het ek voorgeneem om vir die tweede bloginskrywing oor hierdie onderwerp die drie stukkies uit Wikipedia (Origin of religion, Religious experience, en God gene) te lees en dele daaruit aan te haal wat ek van waarde vir myself gevind het.  In ‘n volgende inskrywing wil ek graag op Flippiefanus se twee inskrywings oor die onderwerp (Jy besluit (deel 1) en (deel 2)) reageer.  Hy skryf hier oor sy siening as Christen oor die debatte oor God se bestaan en debatte oor hoekom die mensdom geneig is om in ‘n God te wil glo.  Later sal ek probeer opsom wat ek uit hierdie knertsies lees geleer het in my persoonlike hoedanigheid en hoe ek daarop gaan reageer en wat ek verder gaan probeer uitvind en lees.  

Met Wikipedia inskrywings moet ‘n mens natuurlik onthou dat die inligting maar so goed is soos die persoon se kennis wat dit geskryf het en die vlak tot waartoe dit nagevors is, wat breed kan verskil vir verskillende inskrywings.  Nogtans is ek altyd verstom oor die magdom inligting wat al daarin vervat is!  Die inskrywings verander natuurlik ook oor tyd, en die dele waaroor ek hier skryf is soos wat ek dit op die 16de Aug. 2008 gedruk en gelees het.

Origin of religion: hierdie wiki is nog baie oppervlakkig en is ook nie op ‘n hoë vlak deur Wikipedia self aangeskryf nie.  Ek het nie veel daaruit geleer nie, behalwe dat moraliteit moontlik godsdiens voorafgegaan het, en dat sommige “morele” gedrag ook in ander primate voorkom.  Die oorsprong van Godsdiens mag al so vroeg as by die Neanderthalle voorgekom het wat hulle dooies begrawe het, en moontlik diere (bere) aanbid het.  Bewyse van die moontlik vroegste simboliese rituele 70 000 jaar terug, behalwe begrawe van dooies, is by ‘n plek in Suid-Afrika gevind, wat die oorsprong van “Godsdiens” na die tyd terugneem voordat die mens 150 000 jaar gelede geskei het na verskillende areas toe.  Verder noem die wiki weer dat Godsdiens in die wydste sin van die woord in alle menslike bevolkings se kulture voorkom, en die gemeenskaplike ellemente daarvan.  Verder word die psigologie van godsdiens en kognitiewe studies daaroor kortliks bespreek, dan word die God gene hipotese van Hamer genoem en taalontwikkeling se verbintenis met Godsdiens-ontwikkeling bespreek.  (Onthou ek probeer net opsom, en gee nog nie my eie mening daaroor nie.)

‘n Stukkie wat my bietjie laat nadink het uit die wiki: “Religious persons acquire religious ideas and practices through social exposure.  The child of a Zen Buddhist will not become an evangelical Christian without the relevant cultural experience.  While mere exposure does not cause a particular religious outlook, nevertheless some exposure is required.  … One single person cannot invent a complex religious system like Roman Catholism.  However, simpler religious cults can be created by an individual, like Scientology, which was made up by a fantasy fiction writer.” … “If all thought is computationally structured, then such an approach (computational analysis mentioned earlier in the wiki) can also shed light on the nature of religious cognition.”

Ek wou nou al drie wiki’s kortliks opgesom het, maar nou is ek al moeg geskryf en gedink, en buitendien raak die inskrywing al weer te lank en omslagtig (“kortliks” is baie moeilik vir my!🙂 ).  Ek sal maar die gesprek in baie dele op moet deel, en gaan in die volgende inskrywing eers op Flippiefanus se inskrywings reageer voordat ek met die wiki’s se inhoud voort sal gaan.

Ek vind hierdie “ontdekkingsreis” van my baie opbouend vir myself, en glad nie krities of afbrekend nie, en dit druk my nog glad nie in ‘n rigting in nie.  Hoe meer kennis ‘n mens het, hoe meer begin ‘n mens verstaan en baseer jou besluite (en natuurlik besluite vir ‘n moontlike ewige!!! lewe) op die bes moontlike manier wat jy kan.  Dit is maar hoe ek dit ervaar.  Kennis, al is dit heeltemal teen jou eie oortuiginge, kan niks skade aanrig as jy seker is van jou oortuiginge en geloof nie … maar dit is ook net my mening op hierdie stadium.

11 Responses

  1. Ja ‘n bepaalde “godsdiens” word aan ‘n mens geleer. Dus ek goddiens nog altyd as geografies gesien. Waar jy gebore word en wie jou ouers is bepaal grootliks watter god jy sal aanbid (en hoe), indien enige. ‘n Mens kan later in jou lewe verander, maar daardie eerste bewustheid is gebonde aan die nou sosiale norm van die plek en gemeenskap waarin jy gebore word.
    Dit is hoogs onwaarskynlik dat jy Russies ortodoks sal wees in Iran byvoorbeeld. Dit is dus kultuurgedrewe.

    Jou inskrywing is nie krities of afbrekend nie.🙂

  2. Annerkant ek dink nie daar is iets fout met jou pos nie. Vir my is daar ‘n groot verskil tussen godsdiens en geloof. Geloof vir my is iets wat ek nie kan bewys en verklaar nie. Ek leef dit net en aanvaar dat dit die waarheid is. Godsdiens is reëls. Ek het en gaan ook nie probeer om God se bestaan te bewys nie. Ek laat dit aan mense oor om liewer ‘n leeftyd te spandeer om te bewys God bestaan nie.

  3. Daar is inderdaad ‘n sterk korrelasie tussen godsdiens en kultuur. Onwillekeurig wonder mens dan oor die kwessie van of slegs een van die godsdienste die regte een is en al die ander op die verkeerde pad is. Miskien is die antwoord soos rustig die stel. Dit gaan oor geloof en nie godsdiens nie. Een ding wat ek weet, is dat ek nie die gesag het om enigiemand met ‘n ander geloof te veroordeel of vir so persoon te se “jy gaan hel toe” nie. God is ‘n genadige God en Hy mag besluit om so persoon nogtans te red.

  4. Rosalind: die feit dat Godsdiens op sig self kultureel is, het ek nou taamlik aanvaar en skryf dit in my boekie op. Dit maak net sin, en ‘n mens kan dit natuurlik in die praktyk ook sien.🙂 Die vraag is nou vir my of die “wete” of “gevoel” van ‘n “grootheid” of “meer as hier” (ek stel dit nou nie baie ellegant nie) ook agv ‘n sekere opvoeding ontstaan, of dit daar is omdat ons evolusioner of op ‘n ander manier so ontwikkel het, en of dit daar is omdat daar meer is ons lewe hier, en dat dit aan ‘n “grootsheid” of “God” in watter vorm ookal sy ontstaan het.

    Rustig: Ek stem heeltemal saam met jou. ‘n Mens kan nie oor geloof redeneer nie, en veral nie iemand dit beleef of lewe nie. Waarin ‘n mens glo is net vir my ‘n probleem, en hoekom ‘n mens moet glo en nie net “weet” nie, maar dit raak aan Flippiefanus se oortuiging waaroor ek nog wil skryf. Ek probeer nog mooi die goed agtermekaar kry, maar ek sien ook ‘n duidelike verskil tussen geloof, godsdiens en spiritualiteit (of “geestelikheid” wat moontlik ‘n beter woord is met minder konnektasies).

    Flippiefanus, ek hoop nie jy gee om dat ek ‘n bloginskrywing gaan maak wat dalk krities gaan klink nie. Ek bedoel dit nie so nie. Dit is net lekker dat jy ook hieroor skryf, en nou wil ek terug gesels. In die “werklike” lewe dink ek ons sou waarskynlik lekker kon gesels, en ook beter weet wanneer om op te hou.🙂 Ek waardeer dit dat jy hier reageer, maar jy hoef natuurlik nie daarmee aan te hou nie, want soos jy ook beaam, daar is ellemente soos geloof waaroor ‘n mens nie regtig hoef te redeneer nie. Dit is ‘n persoonlike keuse, en ek persoonlik dink dat ‘n geloof in iets positief tot ‘n mens se lewe bydra en nie wegvat nie. Daar is net soveel wat ons kan weet, of so min!
    Ek glimlag tog ‘n bietjie want in jou woorde ” … veroordeel of vir so persoon te se “jy gaan hel toe” nie. God … en Hy mag besluit om so persoon nogtans te red”, impliseer jy dat jy tog reg is en nie die “ander” nie, wat seker in wese ook is wat geloof is. Maar dit is die probleem wat ek ongelukkig het, dat daar oor “reg” en “verkeerd” besluit word, terwyl ons nie weet nie, maar ‘n mens kan kies om te glo juis omdat ons nie weet jy nie.

  5. Gaan gerus voort “I’ll brace myself”😉 Ek geniet dit ook om met jou oor die onderwerp te redeneer. Wees so reguit as wat jou wil wees. Ek weet dat jy my opinie aanval en nie myself nie.

    Wat my laaste sin betref. Inderdaad ek het self agtergekom dat dit ‘n sekere oortuiging weergee. Maar ek het besluit om dit so te los want dis tog presies die situasie. Ek glo dat ek reg is. Dis wat dit beteken om te glo.

    Terloops, dis waar dat ons nie op grond van wetenskaplike bewyse kan weet dat ons reg is nie, maar ons (gelowiges) kan nogtans weet ons is reg op grond van ons kontak met God. (Of moet ek nou liewer se^ God se kontak met sy gelowige kinders.)

  6. Ek lees nog lekker aan hierdie ontdekkingsreise van jou!!! 😉

  7. Dankie, Wipneus. Partykeer raak ek ‘n bietjie dronk van ‘n paar sirkel-draaie om ‘n punt, maar ek geniet dit ook.🙂

  8. Ek sit en touch wood (my lessenaar) en se dankie dat die gesprekke volwasse is. En niemand nog hulle pop se nek gebreek het nie!🙂
    Ek hou hiervan en dankie aan almal (sorry dit is nie eens my blog nie) wat beskaafd kan redeneer want mens kry dit nie oral nie, glo my maar!

    Iets my nogal opval in die antropologie is: God(e) wat ook kom en gaan en uitsterf. Dit sluit aan by wat flippie hierbo gese het “watter een is die regte godsdiens”

    Gode kom en gaan saam met beskawings. (dit is hoekom ek van fisika hou want dit gee jou ‘n begrip van tyd). Die antieke Grieke se gode het saam met hulle gesterf, so ook die Romeine, die Egiptenare, die Inkas, Asteke, Khoi-san, Mayas ag die lys is baie lank.

    (Ons weet vandag die Khoi-san is geneties die oudste oorlewende groep op aarde.)

    Almal van hulle het ook gedink hul god of gode is die regte een. Soos die beskawings geval het, het hul gode sogenaamde “mites” of “afgode” geword. Die lyn is dus vaag.

  9. Rosa, jy kom altyd hier aan met die stem vir “reason” en kennis om dit te ondersteun. Dankie! Jy help my baie, en vat my bietjie weg van die gevoelens en vae rondgetastery. Jy mag maar hier net enige kommentaar lewer wat jy wil (oor die dankie se), ek waardeer dit. Jy kan selfs hier ‘n hele inskrywing maak as jy wil😉 (ek sal my wat verbeel)🙂 .

  10. Annerkant. Jinne ek geniet dit net hier, hier is soveel om oor te chat. dankie

  11. Rosa, ‘n spesiale kompliment … dankie.🙂 Ek geniet ook jou blog baie! Los nie altyd kommentaar nie, maar probeer altyd om te gaan lees. Ek se altyd te veel dankie, maar omdat ek so voel. Ek dink ons gaan mekaar aansteek!🙂 Ongelukkig se ek ook gereeld “jammer”, wat ek dalk ‘n bietjie af moet leer.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: