Welkom, ons is blog-mense!

Met nog net my een groottoon in die blogwêreld, besig om die water te toets en agter te kom waar ek my bevind, beland ek van gister af in ‘n deurmekaar maalkolk.  Om in die maalkolk te beland was nie moeilik nie.  My eerste versigtige treetjies, ‘n stukkie kommentaar hier en lekker lees daar, begin nog vir my by die Afrikaanse top blogs en inskrywings van die dag, en die opvolg van kommentare by ander en, kan jy glo, ook by my eie nuutgebore vondeling bloggie.  Net in hierdie beperkte areatjie van Afrikaanse bloggers in WordPress, beland ek toe in die maalkolk van bakleiery.

Oeps!

Oeps!

(Oorspronklike foto by flckr) 

Eers kom ek agter daar is ‘n nuwe persoon se blog by die top blogs, en toe volg die gebeure vinnig.  Net daarna kom ek op ‘n woordelikse geveg en sleg sêery af, kort daarna kry ek ‘n e-pos van ‘n blogger af wat ek gretig was om te leer ken, en by wie se blog ek al ‘n paar keer gaan kuier het, waarin sy sê dat sy haar blog privaat moes maak, ook blykbaar as gevolg van die petalje.  Daarna handel meeste van die bloginskrywings wat ek oopmaak oor hierdie skermutselinge, om dit sag te stel.  Daarna kom ek op die hartseer einde van ‘n blog van ‘n bekende Afrikaanse blogger in WordPress, af (Die einde. :”Ek het amper twee jaar en 400 posts gelede hierdie blog begin. En nou is ek klaar.  Happy blogging en onthou, comments makes the (blog)world go round. UPDATE  Dit was 22 maande, 442 posts en 5700+ comments….”).  … Ek het geen idee of dit oor dieselfde debakel gaan nie.  Ek hou nie mooi kop of koers nie, en wonder nog steeds wat op aarde gebeur het! 

WordPress is die eerste plek waarin ek begin blog het, en blog skaars nog ‘n maand.  ‘n Vriend het voorgestel ek moet begin blog omdat ek onder andere nogal lief daarvoor is om ellelange e-posse na mense te stuur, wat hulle waarskynlik nie eens lees nie. Net te veel woorde!🙂 Ek het sommer net ingespring.  My eerste maand van blog was heel aangenaam.  Wraggies, hier kan ek skryf en gesels, nuwe dinge leer, menings van mense volg, deur gesprekke lees sonder om betrokke te raak … die heel beste, ek hoef nie regtig met mense sosiaal te verkeer nie.  Self het ek in my werk en privaatlewe relatief min met mense in ‘n sosiale opset te doen, en luister altyd in verbasing wanneer ek van kantoorpolitiek, sosiale rusies en ander vreemde mense handelinge hoor … Wel …!

Ek het gedink hier skryf en redeneer ‘n mens.  Soms is daar meningsverskille, maar ‘n mens kan dit oplos of ignoreer.  Die afgelope dag of wat se blog-rusies het my onverwags getref en met ‘n slegte gevoel gelaat.  Dit is baie vreemd!  En enige oomblik mag ‘n komeet die aarde tref!  Dan lyk alles so belaglik.  Amper het ek sommer my blog-vingers opgehang.

Maar ek is nie spyt ek het begin blog nie, en ek gaan nie ophou nie, wel ten minste nie nou al nie, want net in een maand en ‘n paar dae het ek geleer of weer geleer:

  • Al het ek ‘n skuilnaam, bly ek nog maar ek, en tree nie eintlik anders op as ek nie.
  • Daar is baie ander mense wat oor dieselfde dinge as ek dink, en waarby ek baie kan leer.
  • Hier sal ek ook maar moet oefen om nie te langdradig te skryf nie!
  • Ek hoef nie bang te wees om my mening te lug nie.  Niemand sal omval nie.
  • Ek moet nie te veel omgee en stress oor hoe ek vir ander voorkom nie.  Hier help die skuilnaam! :)  Dalk leer ek dit nog in my “regte” lewe ook.
  • Daar is baie mense met baie verskillende idees, en party van hulle is baie slim en wel belese, en elkeen is besonders.
  • Ek geniet dit wanneer mense op my geskrywery reageer (ego!)🙂, al het ek nie gedink ek sal nie.
  • EN … dit is mense (of soms “kinders”?) wat blog en nie perfekte wesens nie.  Die blogwêreld is nie ‘n modelwêreld, netjies en reguit nie, en hier sal ek teen alle verwagting in moet leer om sosiaal te oorleef, al is dit net in my reaksie op ander se reaksies.

 

15 Responses

  1. Ek is regtig kinderlik ongelukkig en grootmens die bliksem in oor Wipneus se blog.

  2. Hi Adrie (doringrosie🙂 ). Dit klink melodramaties, maar ek was regtig geskok. Dit lyk asof nog ‘n paar mense hulle blogs verskuif het, en ek kom nog steeds nie agter of dit net agv die een voorval is nie! Wipneus was een van die eerstes wat hier by my ingeloer het, en al was sy orals🙂, was dit wonderlik om daar by haar blog te begin lees en agter te kom hoe spesiaal sy is. Waar sy tyd kry om so by almal uit te kom is ongelooflik. Sy het nou ook ‘n “ander plek”, maar dit voel asof ek iets verloor het, al het ek haar nie eens geken nie. Jou blog is ook baie interessant. Wens ek het meer tyd gehad om elke dingetjie te lees en te geniet! Dit sal seker help as ek minder aangaan en aangaan … en eerder gaan lees.😉

    ‘n Mens kan eintlik seker nie die kind en die grootmens skei en die kind weg gooi nie, hulle inspireer mekaar.🙂

  3. Annerkant

    Ek ken Wipneus persoonlik, dit is nie oor daardie fight nie.

    Ek is een van die Doringrosies🙂

  4. Ek is eintlik bly om dit te hoor, Adrie. Sou nie kon dink dat so een gedoentetjie mense so weg kan jaag nie. Maar dit is nog steeds jammer, en dit nou so tussendeur al die ander gedoentes!

    Ek het gedink julle is ‘n klompie rosies daar bymekaar, maar was nie seker nie.🙂 ‘n Mens moet kop hou hier rond. Sal mooi gaan kyk hoe dit by julle werk.

  5. Annerkant….ek lees elke woord wat ky skryf. Skryf net soos jy lus het asb. Ek is regtig mal oor jou blog en die dinge wat jy skryf…voel vir my ons koppe dink soms oor dieselfde goed.

    Ek, myself, het ook ‘n skuilnaam en gee nie om oor jou skuilnaam nie. Dit is nie waaroor blogging vir my gaan nie.

    Ek geniet ook ‘n gepratery…al praat ek vanaand met myself!!! Dis doodstil hier.

  6. Hi Annerkant – my eerste inloer hier op jou blog! :mrgreen:

    Ek is ook dood-ongelukkig oor hierdie bakleiery wat mens al meer raaklees! Dis so onnodig en onvolwasse! Ek het ongelukkig my humeur slegs een keer verloor na die amper twee jaar wat ek al blog! Genoeg was net genoeg!

    Dis veral diegene wat die klok hoor lui wat nie ‘n idee het waar die bel hang nie – wat dinge so onaangenaam kom maak deur hul “baasspelery” op ou legendes se blogs! Dit druk so bietjie die verkeerde knoppies op my vredeliewende geaardheid!

    Ons moet mekaar verdra, want ons almal verskil en ons het almal ons eie opinie! Dis seker te verstane dat daar wrywing sal wees!

    Ek hou van jou blog annerkant – ek sal weer hier kom lees!

    Lekker dag en week vir jou! x

  7. Annerkant, skryf jy net soos jy skryf, jy weet mos ek hou van jou skrywes 😉

    Baie dankie vir die mooi goed wat jy geskryf het terwyl ek my alweer gewip het vir daardie “dit” wat my gedreig het , en nog my blogmaats durf waag slegsê op my blog, dis te vreeslik!!!! 😆

  8. Moet jou nie steur aan die rusies nie. Skryf, dis deel van wat ons mens maak!🙂

    LEkker om jou raak te lees. En dis hartseer van Da Mario, eh? Ek gaan die siel mis.

  9. Sjoe, julle baie dankie, julle laat my sommer welkom voel!🙂
    Rosa – Van die stukkies wat ek al by jou gelees het, dink ek ook ons dink loop nogal baie keer dieselfde paadjies. Ek staan natuurlik in verstomming oor jou algemene kennis en wat jy al alles gelees het, en van weet! My kop is maar braak … het net op my werk gespesialiseer vir so baie jare, en … glo dit of jy wil of nie, ek raak soms aan die slaap as ek lees! Verskriklik! Jy is gelukkig as dit soms doodstil is daar by jou!

    Rene en Johan – dankie vir die eerste inloer! Die bakleiery is sommer ‘n mors van tyd, en baie afbrekend, dink ek. Ek was al by julle blogge (blogs?) ook. Julle is ‘n inspirasie met julle oulike blogs en julle skryf almal so goed en is so kreatief! Ek is baie bly ek het begin blog, en het nie gedink daar loop sulke oulike mense rond nie.🙂 Julle moet asb. verskoon, ek sal ongelukkig nie so gereeld kan skryf en hier rondkuier nie, en my blog is maar “swaar”, maar dit is iets waaraan ek aandag moet gee (die spiritualiteit). Het net by Da Mario begin inloer, en het uitgesien om daar te gaan lees … en daar vat hy die pad!

    Wipneus – jy het nog steeds tyd om in te loer! 🙂 Ek is bly jy het nie ook agter die privaatdeur verdwyn nie. Jy en Rosa voel soos my eerste “maatjies”😉 (geen druk vir volhouding van die inloer nie!)🙂 Kan ‘n mens nie maar die baklei-gedrogte ignoreer nie?

  10. Jy skryf waar goed… Bloggers kom en gaan seker maar en mens moet dit verwag, maar ek voel dit aan my eie lyf.

    Live and let blog (of so iets?)

    Sterkte met die bloggery, hoe meer jy dit doen hoe lekkerder raak dit!😉

  11. Hi Netjane,🙂, ek het gou by jou blog in gaan loer en nou water my mond vir ‘n lekker padkossie.🙂 Dankie baie vir jou kykie hier. Ek het ook ‘n vermoede dit gaan al lekkerder raak. Ek wou baie ernstig wees, maar nou begin ek die gekletsery ook geniet!🙂

  12. Dit was maar rof, ja, maar die stof het seker nou al gaan lê.
    Blog lekker, ek kom weer inloer!

  13. Hallo Sonia🙂. Dankie vir die inloer. My blog is waarskynlik maar ‘n gestoei met die gedagtes en nie so aangenaam en liplekker lekker as joune nie.🙂 Agter die kospotte is ek ongelukkig maar half ‘n gevaar!

  14. Dagse Annerkant.

    Jinne, ek het sommer van die begin af geweet jy gaan gou ‘n klomp blogvriendskappe bou. Dankie vir al jou inskrywings. Dis lekker om te lees en te kou aan dinge komende van iemand met sommer ‘n hoop verstand in haar kop.

    Ek dink ook jy is heeltemal reg: Die blogspasie is groot genoeg om vir almal ‘n plekkie te los. Ons hoef mekaar nie persoonlik aan te vat as ons hier en daar oor goetertjies of dingetjies verskil nie. hehe.

  15. Hi Kyker, dankie vir die inloer en lees, ek waardeer dit regtig.🙂 Dankie ook vir die kompliment oor die verstand, maar jong, dit is maar relatief.
    Ek dink dat jy spasie sal maak vir ander se idees en ruimtes sonder om jou humeur te verloor.🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: