Hoeveel mag, wil of moet ons dink en vra?

Vanoggend terwyl ek werk toe ry, spook al my vraery en dinkery hier in wordpress en op my blog by my.  Die hele blog-gedoente het weer baie gedagtes en vrae in my kop aan die gang gesit: oor my bestaan, oor godsdiens, oor die sin van die lewe – ag, sommer oor alles.  Dit kan nogal ‘n oorlaai van die brein en ‘n hoofpyn veroorsaak.  In die vroeë oggendlig en realiteit van die verkeer en koue luggie wat by die kar se venster in waai, lyk alles skielik so absurd en onnodig.  My gedagtes en vrae in die aand wanneer ek moeg is na ‘n dag se harde werk, en die vars en helder gedagtes in die nuwe oggend, verskil dikwels hemelsbreed van mekaar.

Auguste Rodin, The Thinker, 1880

Auguste Rodin, The Thinker, 1880

Wat is tog die nut daarvan om te vra, te wonder en te filosofeer, en inligting in te win oor die aspekte van  ‘n mens se lewe en bestaan waarvan jy in elk geval niks of min ooit sal weet en wat weinig verskil aan jou elke dag se doen en late sal maak.  Dit sal nie die dood keer nie. Nog minder sal dit help om die aarde te red, of enige iets meer opspraakwekkend of ingrypend veroorsaak,  tensy jy werklik met iets vorendag kan kom wat ‘n gemiddelde mens soos meeste van ons nie kan behaal nie.  Om spiritueel te lewe, binne jou etiese norme op te tree, die beste te doen wat jy kan met elke dag en gelukkig te wees, verg nie kernfisika nie. ‘n Mens is dit maar net.  Al die gedinkery en gestoeiery verander tog in elk geval so maklik in ‘n agter die stert aan hardlopery. Dit help ook nie noodwendig eens baie om belangrike besluite in ‘n mens se lewe te neem nie.  Dit stel ‘n mens in ‘n mate half bloot ook.

Ek geniet dit op ‘n sekere vlak om so oor alles te dink en wonder en daaroor met ander te gesels en hulle sieninge te hoor, maar kan ‘n  mens nie die tyd beter gebruik nie?  Daar is so baie ander lekker dinge om te ontdek en doen.   Daar is blommetjies om te ruik en berge om te klim.

Terwyl ‘n mens so dink en vra en stoei met die gedagtes, kom ‘n mens ook agter dat jy moontlik nie eens so baie mag bevraagteken en ondersoek nie.  Op ‘n stadium moet ‘n mens blykbaar net soos ‘n kind glo. Op ‘n punt raak dit amper sonde om te veel en te ver te vra.  Veral mag ‘n mens liefs nie wonder of daar tog wel ‘n God bestaan en presies wat hierdie skepper van ‘n heelal werklik is en met ons bedoel nie en of ons miskien selfs deel daarvan is nie.   Die scenarios is legio.  Is dit versoenbaar met geloof?  Mag ons geloof self bevraagteken?

Hoekom jou nie maar oorgee aan ‘n alwetende en sorgsame wese, en al die sorge van jou afwerp, en selfs die dood tegemoet huppel nie?  Dan kan jy ontspan en jou geborge voel in die wete dat jy vir ewig gaan wees en lewe en eendag alles gaan weet.

Na al die wroeg sit ek al weer hier en skryf oor ‘n gewondery.  Hierdie soeke en ondersoekery is in wese deel van my en ek is seker van ons as mense.  Die stemmetjie kom maar altyd terug.  Die prentjie van die bekende Denker met kop op die hand gerus, kom dikwels in my geestesoog op.  Sou ons hierdie vermoë en begeerte om ons self en ons bestaan en omgewing te ondersoek besit het as ons nie daarmee moes woeker nie, of is dit ‘n appel wat ons nie mag eet nie?

8 Responses

  1. Annerkant ek wonder en dink ook oor baie dinge!! Dis wie ek is! Mens mag vrae vra, stoei, bevraagteken en ondersoek. Ek gee nie om wat mense van my dink nie. Ek wil ondersoek instel, na en oor alles.

    Niks van appel hier by my nie, ek eet daai appel en bekyk nog die pitte onder die vergrootglas ook!! 😆

  2. Ek is ook nie gerieflik met net huppel nie.

    En ek is gek na Rodin se werk!

  3. Voëls van eenderste vere, met grysgoed wat aanhoudend proe en smul aan denke, ervaringe, moontlikhede – die soeke na insig en verstaan – die hoekoms, waaroms, omdats, eish, maar dit bring kleur, geur en vreugde op ʼn ander vlak van bewussyn –ons leef met passie, vonkel en opwinding oor ‘kleinigheidjies’ wat die lewe soms laat ontluik in ʼn fees en ander kere daal ʼn mens af tot in die donkerste dieptes.

    Ek glimlag soms behaaglik, wanneer ek dink hoeveel ryker my lewe hier in die blogwêreld geword het, waar ek in die kringe van anderster mense wat eenders is rond sweef. Dit smaak soos Jam.

    Rodin; dis onbeskryflik mooi, dis asof die denker my eerste binnedring…. Ek wonder hoekom ek so intens bewus is van sy skouers af boontoe? Ek het jou inskrywing baie geniet, dankie.

  4. Hi Wipneus,🙂 , ek wens ek het jou selfvertroue gehad! Ophou wonder en ondersoek sal ek ook nie, maar soms wonder ek, waarskynlik omdat ek so baie daaraan herinner word, of ek nie gestraf gaan word omdat ek nie die bybel o.a. onvoorwaardelik aanvaar nie. Miskien oordryf ek!

    Rosa, soms is dit makliker om net te huppel, maar ek moet se, die bietjie wat ek van jou verstand gesien het, kan ek nie dink dat jy so deur die huppel nie gou ‘n draai by die mikroskoop sal maak nie.🙂

    Hi Mefri, dankie vir jou mooi kommentaar. Weet jy, ek het nog skaars begin blog, en ek voel sommer ook al tuis, meer as in ‘n lang tyd.🙂 Dit is lekker om sommer net te kan skryf wat ‘n mens dink, en dan is daar spesiale mense wat opduik wat dieselfde oor dinge dink. Ek dink dit gaan vir my ook ‘n wonderlike ervaring wees, hierdie bloggery!🙂

    Dankie vir julle almal vir die inloer.

  5. Mefri, jammer jy moet asseblief my onkunde verskoon! Ek tas nog soms bietjie blind hier in wordpress rond, en ek leer nog verskillende mense ken. Het jy ‘n blog hier by wordpress, en kan jy asb. vir my die URL gee? Ek kon nie by die search regkom nie, en ‘n blog URL met jou naam is in ‘n ander taal geskryf. Ek sal baie graag jou bloginskrywings wil lees. Bloos!: as ek dalk al op jou blog was, of selfs met jou te doen gehad het, vra ek om verskoning vir my verstrooidheid!

  6. Hallo annerkant, ek blog nie self nie (fluister nog nie) Rosatjie hark my bietjie-vir-bietjie nader, maar die tyd sal leer.

    Dankie vir jou mooi gedagtes ek is in sync met jou. Jy het heel moontlik my kommentare êrens raak gelees, en jy is glad nie verstrooid nie, die bekendheid wat jy aanvoel – ek ervaar dieselfde gewaarwordinge as jy. LOL ek gaan dikwels hier by jou kom kuier.

  7. Mens mag nooit ophou vrae vra en dink en worstel nie. Wanneer mense ophou vir hulleself dink, gebeur goed soos Hitler se aanslag op die Jode en apartheid. Om dinge te bevraagteken is die enigste manier om nader aan seker te raak dat jy die waarheid beet het.

  8. Dankie vir die inloer Mnr. “skerp” (as kompliment bedoel) met die pienk pak. 🙂 Het nog min by jou blog gekom, maar geniet die soms kort maar pittige waarneminge.
    Aangaande jou kommentaar: ai, jong, maar partykeer wonder ek of dit die moeite werd is om so baie te stoei en vra. Daar is so baie anders om in die lewe te geniet en doen, en soms maak die onsekerheid my moeg. Oor Hitler en apartheid het ek ook nog vrae. Hierdie dinge is nie altyd so eenvoudig soos ‘n mens dink nie. Ek sien min dinge as net wit of net swart. Moet net asseblief nie dink ek keur enige van die twee grootliks goed nie, voordat ek nou verkeerd oorkom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: