Min nuut onder die son

Skrywes oor nuwe wetenskaplike uitvindinge, geskiedenis en sketse oor wat met ons en om ons gebeur, is in baie opsigte braak vir nuwe kennis.  Maar omtrent alles, of vir meeste van ons is alles wat ons bedink, in besonder oor filosofie, geestelikheid, menswees en die sin van die lewe, reeds bedink, gesê en sommer geskryf ook, dalk net in effens ander bewoording.  Veral wanneer ‘n mens jonk is en met opgewondenheid en groot waan die nuutheid en ontdekking van die lewe aangryp, is dit maar ‘n teleurstellende ontnugtering om tot die besef te kom dat al die nuwe dinge en unieke gedagtes wat in ons jong, gretige gedagtes ontspring, reeds lankal gebesig is.  Dit is maar gewoonlik net weer die herontdekking van paadjies wat al deurtrap is deur die mens se geskiedenis.  ‘n Ander probleem natuurlik is om al hierdie kennis en denke op te lees en deur die bekende te kom voordat ‘n mens by ‘n punt kan kom waar ‘n mens dalk vooruit kan beweeg, die onbekende in, of voordat ‘n mens jou eie besluite daaroor kan neem.  Dit is selfs onmoontlik om die kaf van die koring te skei, of om dit na te gaan, want baie is nie op die werklikheid soos wat ons dit waar kan neem, gebasseer nie.  Dit is veral ‘n probleem vir meeste van ons wat nie in hierdie rigtinge studeer of ons elke dag daarmee besig kan hou nie, maar ek moet sê ek kry diegenes wat kan ook maar jammer.

Hierdie herhaling en sirkelgang van dieselfde idees oor-en-oor is een van die dinge wat my weerhou of dit moeilik maak om daaroor te skryf of selfs te praat.   Dit is tog net soos ‘n plaat wat vashaak.  Behalwe dit, is ek meeste van die tyd soos ‘n haas wat in die skerp lig van ‘n motor inkyk en verstok stil gaan staan, nie in staat om ‘n besluit te neem of selfs te beweeg nie, so baie inligting is daar en verpak tussen soveel nonsens.  Soveel makliker is dit dan om maar net weer die dagtaak aan te pak, en jou bes te doen met wat jy doen, die paadjie min of meer reguit te loop (wat reguit ookal beteken) en die res oor te laat aan wat is en wat met ‘n mens gebeur en gaan gebeur, ten spyte van jou ou spartelinkies om dit te verstaan.

Dit is met groot afguns en begeerte waarmee ek die mense in futuristiese films soos die Matrix bejeën, wanneer hulle voor ‘n rekenaar gaan sit en al die inligting wat reeds bekend is, sommer direk in hulle breine afgelaai word.  Wat geluksaligheid!

… en ek is doodseker wat ek nou hier geskryf het, is al deur menige ander bedink.

2 Responses

  1. Maar is die wetenskap nie juis iets wat die hele tyd vernuwe nie? Soos ‘n groot legkaart wat die hele tyd aan gebou word nie. Vir my bring dit die hele tyd nuwe, of dan verbeterde kennis. Dit is die wonder daarvan, hy kan homself korrigeer, deur peer-review ect.

    Ja ander het al gedink wat ek gedink het, maar in die wetenskap het iemand dit al beter gedink, en dan neem ons die beste uitkoms.

  2. Hi Rosa, dankie vir die inloer en lees! Dit is nie aan wetenskap wat ek hierdie oor-en-oor herhaal van idees toedig nie. Dit is hoekom ek wetenskap so geniet, die ontdek van nuwe dinge, al is dit net klein stappies in ons kennis. Wetenskap is ook amper meer konkreet en werklik (en in ‘n mate vir my helder en skoon), al is dit kennis en ontdekking net omtrent in so ver as wat ons sintuie waar kan neem.

    Maar om oor die sin van die lewe en ander geestelike dinge te begin dink en filosofeer (as ek ‘n filosoof was sou ek dit dalk anders ervaar het) is baie keer net ‘n herhaling van gedagtes wat reeds lankal bedink is. Al is dit vir ‘n mens persoonlik ‘n ontdekking, voel ek so dit is elke keer ‘n herontdek van die wiel.

    Ek geniet jou blog baie, hoor.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: