om nie ‘n christen te wees nie

Hoe het ek op hierdie geestelike reis beland en hoekom so dramaties? Wel een rede is waarskynlik dat ek maar ‘n bietjie van ‘n dramatiese persoon is en alles taamlik oordryf en intens ervaar, al is ek ‘n rasegte introvert.🙂

Ek het gedink om op ‘n stadium die geskiedenis soos wat ek groot geword het, tot waar ek vandag is, te dokumenteer. Dalk is daar iemand anders wat dieselfde paadjie loop, en wat dit soos ek ervaar, en dit mag dalk so ‘n persoon help om die paadjie makliker te stap. Ek is beslis nie die enigste een met so ‘n storie nie. In teen deel, deesdae lees ek al hoe meer Afrikaans sprekende mense raak, en ontmoet mense wat nie christene is nie, maar vir my, veral toe ek jonger was, was dit nie maklik nie. In die toekoms mag dinge dalk baie in die samelewing hier in Suid-Afrika verander, wie weet waarheen.

In hierdie bydraetjie wil ek egter net by die kruks van die saak uitkom. Dit is ‘n baie persoonlike stukkie, maar ek het dit nodig gevind om nou daarmee uit te kom om myself te laat groei.

Vir die grootste deel van my lewe is ek nie meer ‘n christen nie. Dit pas ongelukkig nie by my naby familie in nie. ‘n Mens sou hulle almal werklik wedergebore christene kon noem. Die soort opregte christen wat ek graag sou wees as dit my oortuiging was. Daar is ‘n evangeliese christen wat haar lewe werklik ten volle toewei aan haar geloof en oortuiging, twee christen sendelinge wat nog meer intenser christene is, en op genade en geloof leef, selfs in hulle fisiese behoeftes, en dan is daar ‘n tradisionele predikant en sy liefdevolle vrou wat erns met hulle geloof maak, en al hulle kinders. In my aangetroude familie is dit dieselfde, dalk net in meer intense kerkverband, en dan is hulle soveel meer, met twee pastore in die mengsel.

My dierbare moeder is ook ‘n besondere christen, en haar kan ek veral nie net ignoreer nie, want ek is baie lief vir haar en het respek vir haar. Haar gevoelens en wense gaan nie lig by my verby nie. As sy dikwels vir my sê dat haar hart breek, en dat sy onophoudelik vir my bid, dat sy oor my huil, en dat dit die grootste oomblik in haar lewe sal wees as ek tot bekering sal kom en Jesus belei en my lewe aan God oorgee, verskeur dit my hart. Dit is ook heeltemal buite my wese om die hele lot net af te teken en my eie paadjie te loop.

Hoekom is dit vir my nodig om hierdie prentjie te skilder? Dit verduidelik waarom ek nie net kon wegstap en christenskap agter laat en vrede daarmee maak en verder ontwikkel sonder om weer met christenskap te worstel nie. Dit maak alles so kompleks. Daarby het ek langs die pad ook in verskeie situasies belang waarin dit vir my moeilik geword het om myself uit te leef in my geestelikheid, en op ‘n stadium kon dit selfs my vordering in my loopbaan beinvloed. Soveel so dat ‘n mens daarin sou kon lees dat dit teregwysinge op my pad was om vir my te sê dat ek op die verkeerde pad is. Hoe dikwels het ek nie al gewonder of dit net uit rebelsheid en selfs trots en arrogansie is dat ek myself nie kan “bekeer” nie. Hoe kan ek my hart so “verhard”?

Ek sou dalk toneel kon speel en net maak asof ek ‘n christen is om in te pas, en om alles makliker te maak. Ongelukkig is dit ook nie wat ek is nie. Opregtheid en absolute eerlikheid in ernstige sake is vir my ononderhandelbaar in my lewe. Dit is een van die redes waarom ek werklik bewustelik moes kies, en waarom ek besluit het om myself nie meer ‘n christen te noem nie. Aan die ander kant het ek die grootste agting en respek vir ander mense se opregte oortuiginge, soveel so dat ek baie versigtig is om selfs nie hulle oortuiginge te verander of te beinvloed nie. Geloof en godsdiens is ‘n baie ernstige deel van baie mense se lewens. Ek gaan gevolglik uit my pad uit om die onderwerp te vermy, en praat baie versigtig om direkte konfrontasie sonder om myself te verloën. Veral met die kinders is ek baie versigtig. Hulle is so oop en ontvanklik en ek kan nie teen ouers se lewensaanskouing in met hulle kinders kommunikeer nie. Verder, en dit gaan nou vreemd klink, is ek ook verskriklik bang dat ek dalk verkeerd mag wees, en dan trek ek dalk iemand anders ook, ongelukkig moontlik letterlik, agter my die hel in. Dit is ontstellend om te dink dat hierdie draad van vrees dikwels ‘n mens se geestelike besluite as christen deurweef. Ek is beslis nie ‘n engeltjie (met ironie gesê) in hierdie hele situasie nie, maar ek het tog hierdie ernstige, soms onrealistiese oortuiginge in my lewe.

Dit bring my na die manier waarop christene dink en opereer. Ek is versigtig om hier almal oor dieselfde kam te skeer en om aanvallend te klink. Dit is nooit so eenvoudig nie. Ek dink ek mag wel so ver gaan om te sê dat christene geen tolleransie het vir veral sekere oortuiginge buite hulle godsdiens nie, en dat hulle arrogant is, in so ‘n mate dat hulle dit nie eens besef nie. In die kern van hulle geloof is onder andere die oortuiging dat hulle God by name die enigste ware God is en dat ‘n mens slegs gered kan word deur Jesus Christus, sy seun, wat vir ons sondes gekruisig is. Dit is vir opregte christene bitter belangrik om ander mense te oortuig om ook christene te word en hulle self te bekeer sodat hulle gered kan word en nie verlore sal gaan nie. Die bybel is ook die waarheid, en vir protestante christene, die hele waarheid. Niks buite die bybel is aanvaarbaar nie. Baie sal selfs in redenasie slegs uit die bybel aanhaal om hulle punt te bewys, en vind dit nie eens vreemd nie. Baie christene sal dadelik aanvaar dat jy sonder morele waardes en sondig is as jy nie ‘n christen is nie. Ek het selfs onlangs op ‘n blog gelees dat dit vir mense moeilik of selfs onmoontlik sou wees om iemand wat hulle ‘n wrok teen koester te vergewe en selfs vir daardie persoon lief te word. Hoeveel keer moes ek nie maar net sit, en selfs iemand se hand vashou wanneer ‘n tafelgebed gedoen word nie. Geen een wonder eers of hulle wel hulle godsdiens so openlik aan ander mag opdring nie. Dit is dan so natuurlik en ononderhandelbaar. En so kan ek aangaan. In my eie omstandighede word ek aanhoudend, en soms selfs dag vir dag gekonfronteer met christelike stukkies om te lees, met iemand wat my probeer oorhaal op een of ander manier; ek word selfs dikwels met die hel gedreig. Sonder dat ek wil, wonder ek dan tog of ek nie verkeerd is nie, en kom die vrees ook maar baie keer terug. Dit is tog hoe ek groot geword het. Nooit sal ek myself egter weer probeer oortuig tot op die punt waar ek teenoor myself toneel speel om ‘n christen te wees nie. Net as ek direk sou kon agterkom dat dit werklik die werklikheid is, sal ek met liefde my lewe oorgee. Natuurlik is ek nou die ongelowige Thomas.🙂

Tot onlangs het ek maar net hierdie dinge verdra en by my verby laat gaan. Ek self het al so vrede begin vind, dat ek werklik net liefde vir ander voel. Ek het ook nie ‘n behoefte om ander mense oor te haal om my kant in te sien nie. Dit is wel nie lekker om nie hieroor met my geliefdes te kan gesels en dit met hulle te deel nie, maar dit my “saligheid” hang nie daarvan af nie. Ongelukkig het ek die afgelope ruk al hoe meer en meer begin besef dat christen ideologie ongelukkig nie so onskuldig, rein en van min belang is in wat met ons gebeur en hoe ons dink en ons self uit kan leef nie. Om maar net enkele dinge te noem: die intolleransie teenoor ander gelowe, oortuiginge en geestelikheid, die konserwatiewe denke wat selfs wetenskap aanval en kreatiwiteit en vrye denke in ons land aan bande gelê het, en selfs die skaking van ‘n hele volk se kultuur en ontwikkeling.

En hierby eindig ek hierdie stukkie en gedagtes vir eers. Later sal ek weer verder skryf.

13 Responses

  1. Jy het blykbaar nog nie antwoorde op jou baie vrae gekry en daarom is jy ongelowig. Daar is seker nog te veel dinge in die Bybel wat nie vir jou sin maak nie. Sou jy wel soek, sal jy seker vind en moontlik het jy nog net nie by die regte plek gesoek nie.
    Alle mense wat die Bybel lees en bestudeer, verstaan nie naadwendig wat hulle lees nie. (Luk 24:45 Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan)

  2. Dankie vir die kommentaar, Hans. Jong, ek weet nie of ‘n mens ooit al die antwoorde op geloof, godsdiens en geestelikheid regtig kry nie. Ek het dit vir lank opsy geskuif, maar sien nou uit om meer te lees en dink oor hierdie dinge. Indien ek christen moet word in die tradisionele sin van die woord, glo ek ek sal daarnatoe gelei word, of dit sal aan my geopenbaar word op geen onduidelike manier nie.

  3. Ek verskil van Hans, ek dink het het reeds antwoorde gekry op sekere goed, jy vra juis vrae.😉
    Alle vrae in die wereld se antwoorde is ook nie op een plek/boek nie.

  4. Rosalind, sou dit nie maklik gewees het as ons net gou een boek kon deurlees en al die antwoorde daarin kon kry nie? 😉 Waarskynlik sal jy verveeld raak om selfs net aan so ‘n scenario te dink.🙂

  5. Rosalind, ek het nooit laat blyk dat Annerkant geen antwoorde gekry het nie en ook nie, as jy die Bybel lees, jy al die antwoorde sal kry. Neem kennis van die teksvers wat ek gemeld het en sou jy die krag van die Heilige Gees ken, sal jy ervaar, dat die “een boek” naamlik die Bybel, nooit een sal verveel en ook nie tot ‘n enkele scenario beperk is. Maar nouja, jy mag met my verskil.

  6. Hey, ek as gelowige het regtig deernis teenoor jou gevoel terwyl ek die blog gelees het. Jyt my diep geraak, jy weet alreeds wat die waarheid is en waar jy Christus kan vind. Ek sal maar net soos jou ma vir jou bid. Baie dankie dat jy respek toon teenoor Christenskap en Christene, dat jy byvoorbeeld God en Jesus Christus met hoofletters skryf! Groete

  7. Zak, dankie vir die inloer en lees. Ek dink dit is net ‘n dom en astrante mens wat nie respek het vir die vaste oortuiging van iemand anders nie, en veral wanneer dit nie teen ‘n mens se eie waarde stelsel indruis nie.

  8. Ek dink mens moet somtyds buite die tradisionele Christen wees kyk, om sin daarin te kry. Daar is die vergelykenis van die, wat deur die saailand loop en nie die verborge skat sien nie. Dan is daar die wat die verborge skat sien en alles verkoop (prysgee) om die skat in die hande te kry. Ek glo wel dat, een wat ernstig soek, sal vind en ek sê dit met respek en sonder oordeel.

  9. Hans, dankie vir nog ‘n keer se inloer. Dit is vir my moeilik om jou te antwoord. As ek baie eerlik moet wees, moet ek erken dat dit waarskynlik vir my moeilik sal wees om weer tot “bekering” te kom. Dit is al baie jare (grootste deel van my lewe) dat ek nie meer ‘n Christen is nie, en in die tussentyd het ek ‘n ander spirituele pad begin volg. Dit is ook nie asof ek nie gereeld met Christene praat ek vir hulle luister nie. Maar omdat my geliefdes almal opregte Christene is, hou ek myself waarlik nog oop. Indien ek tot bekering moet kom, sal ek daarna toe gelei word, dit is sover ek myself daarvoor oopmaak. Al wat ek nie sal doen nie, is om myself te oortuig, want dit is ook moontlik, of selfs self “hipnotiseer” op ‘n manier, want dit is wat bid onder andere is.

  10. Annerkant, soek en jy sal vind, klop en daar sal vir jou oopgemaak word. Sterkte.

  11. Hi “Annerkant”

    Hoewel ek al jare se ondervinding met die Internet het het ek actually nog nooit die blog ding probeer nie.

    Ek het vir lank ervaar hoe geestelike briewe in my kop/denke op kom maar dit vir baie lank ge-ignoreer – het uiteindelik so 3-4 weke terug myself gedisiplineer om dit neer te skryf (omtrent dieselfde tyd wat ek weer begin het met bybelstudie en om tyd te spandeer in gesprek met God)

    Ek kom toe op hierdie stuk van jou af en lees daardeur en wonder:

    Wat is ‘n “Opregte Christen”??? En hoekom sou jy jouself enigsins minder ag teenoor hierdie menslike standaarde wat gestel word? En hoekom sê “Christen”? Hoekom gebruik ons hierdie terme om mense te klasifiseer (verskoon my spelling – geen spell check nie). So wat, omdat ek myself ‘n Christen noem is ek nou meer waardig as enigiemand anders? Dit is so goed soos om ‘n stelling te maak dat ‘n Engelsman slimmer is as ‘n Afrikaner….

    Ons is almal kinders van God – almal! Sommiges moet die geskenk net nog aanvaar. In my een skrywe noem ek dat God (Die God van Liefde – Ware Liefde!) Lief was vir Hitler. Dit beteken nie Hy het saamgestem met Hitler se besluite nie, maar Hy het steeds Sy Liefde dag in en dag uit aan Hitler probeer wys, deur die Heilige Gees, deur die werke en dade van mense na aan hom, deur die natuurskoon ens. ens. met die hoop dat hy op een oomblik in sy lewe sal omkeer na God toe om met ope arms omhels te word as ‘n Kind van God.

    Ek dink, soos jy dit noem in jou skrywe dat ons wat groot geword het as “Christene” geleer is dat ons geloof (en al die doctrines daar rondom) die enigste en ware redding is… Ons “geloof” is dit nie, want in ons geloof is vasgevang menslike standaarde, menslike klassifikasie, menslike selfsug en hebsug. Al die dinge wat veroorsaak dat ons ‘n “safe haven” vir osn kan skep in hierdie verwronge wêreld van ons…en in so ‘n mate het ons die “relationship” met God en Sy kinders begin verloor… In so ‘n mate ag ons onsself te hoog om met ‘n bedelaar op straat te kan gesels en relationship hê. Of ag ons onsself minderwaardig om openlik met Liefde ‘n vriendskaps verhouding met familie lede te kan hê wat “opregte christene” is soos jy dit noem…

    Kyk, moet my nie verkeerd verstaan nie – ek het groot geword in ‘n Christen huis, sondagskool toe gegaan ens. ens. maar ek het ook al baie geworstel met die vraag “Is ek werklik bekeer?” “Het ek werklik my hart aan die Here gegee?” “Is ek nog veilig…of staan ek dalk nog ‘n kans om hel toe te gaan?” “Moet ek myself dalk weer bekeer om net net dood seker te maak??” Maar dan dink ek weer terug aan daardie dag…in matriek…die aand toe ek Ja gesê het tydens ‘n emosionele euforie… dan besef ek weer: “Ek het Ja gesê. Ek het die geskenk aangeneem.”

    Na dit het ek al weer baie opgeneuk en weer baie reg gemaak (volgens ons menslike standaarde) en nou, ek dink vir die eerste keer in my lewe, voel ek goed. Goed dat ek (soveel soos enige mens op aarde – goed of sleg) waardig is om met God te gesels, om met Jesus te gesels, om met Hom te deel die pyn en die geluk in my lewe. Om Hom vrae te vra, of sommer net om vandag as ek by die kantoor uit stap te kan op kyk en sê: “Awesome Here, kyk net hoe pragtig lyk die wolke so teen die son vandag!” en dan te bepeins oor wat ‘n wonderlike Kunstenaar Hy is.

    Dis al waarvoor Hy vra…om bloot eenvoudig ‘n relationship met Hom te hê soos wat ‘n ouer met sy kind het…gesels oor die dag se gebeure…deel in jou hartseer…blymoedig te wees saam met jou…en deur dit sal Sy teenwoordigheid al hoe meer te voorskyn kom in jou en deur jou, en sal ander mense jou leer ken as ‘n Kind van God.

    Iets waarna ek ook streef, want glo my, ek het nog baie ver om te gaan…of het ek??🙂

    Dit was nou ‘n mond vol, hehehe…
    So, hoe begin mens die blog ding? Ek glo dat God hierdie briewe in my denke deur my wil openbaar aan ander ouens wat met soortgelyke vrae worstel – en dat dit selfsugtig sou wees om dit net vir ‘n paar familie en vriende deur te gee nie…

  12. Hallo Corrie. Vanaand is ek poegaai, en my brein wil nie meer lekker werk nie, maar ek het dit besonder geniet om jou kommentaar te lees! Dit is werklik oor mense soos jy wat ek nie christenskap werklik nog finaal die rug gekeer het nie. Ek gesels en “verkeer” ook in my daaglikse lewe met “God” (ek weet nie mooi hoe om te verwoord wat ek as God ervaar nie), en ek ervaar is en is ook vas oortuig van die ongelooflike, alomvattende liefde! Sommige mense sal waarskynlik my ervaring hiervan as “new age” beskryf, maar daaroor wil ek nog ook baie dink en ondersoek.

    My eerlike opinie? Ek dink jy het al baie ver gevorder op jou pad. Ten eerste is jy ernstig en eerlik oor jou ervaringe, en jy is nie arrogant oor ‘n “dogma” nie. Dit sal wonderlik wees as jy jou briewe opskryf in ‘n blog. Jy is dit eintlik aan jouself en ander verskuldig. Gaan maak gerus ook ‘n draai by Flippiefanus. Ek dink jy sal sy sieninge en hom waardeer. Hy is ook ‘n goeie voorbeeld van ‘n opregte christen se blog.

    Oor die tegniese aspekte van ‘n blog begin is ek nie ‘n goeie een om te vra nie, hoor. Ek het self maar eers redelik onlangs begin blog.

    Dit is redelik eenvoudig om bloot te begin, maar uit my ervaring sou ek se jy moet eers ‘n paar dae of so ander mense se blogs lees, en bv. sien van watter styl van uitleg en bladsy jy hou. Op die “home” bladsy van WordPress het hulle aan die regterkant bo, as ek reg onthou frequently asked questions, en daar iewers verduidelik hulle ook hoe om ‘n blog te begin. Die belangrikste verder, uit my ervaring, is om mooi te dink oor die naam wat jy wil gebruik vir jouself en jou blog. Jou blognaam bepaal dan ook jou blog se URL. Jou avatar (die prentjie by jou naam) kan jy ook mettertyd verander, maar ek dink ‘n mens moet vir ‘n rukkie by een hou sodat die mense jou kan leer ken. Hoekom ek aanbeveel dat jy eers na mense se blogs kyk, is omdat jy ‘n styl vir jou blog moet kies, en ek dink nie dit sal maklik wees om dit te verander sonder ‘n bietjie “hick ups” nie.

    Gits, ek dink nie ek het baie gehelp nie! Probeer maar eers WordPress se hulp. Maar, natuurlik, ek is oorversigtig en presies. As jy regtig wil, kan jy sommer net op die home ‘n blog begin, die instruksies volg, en binne ‘n paar minute begin om jou eerste inskrywing (“post”) te skryf.🙂 Jy moet maar besluit.

    Nogmaals dankie vir die inloer, en wanneer jy jou blog gestig het, kom loer groot asb. weer in, en se vir my wat jou blog se naam is, sodat ek by jou kan kom lees. Ek sal waarskynlik meestal nie met jou saamstem nie, maar dit is waaroor goeie gesprek gaan, dink ek. Sterkte met die blog, en GENIET dit!! Dit is regtig baie, baie lekker, en bietjie verslawend.🙂

  13. Ooo ja, skies ek kan sien hoe skeef en krom ek skryf omdat ek so moeg is. Jy sal ‘n koppeling (link) na Flippiefanus toe kry aan die regterkant van my blog, onder “Afrikaanse blogs”.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: