evolusie vs kreasionisme, wetenskap vs godsdiens?

Dit was met toenemende verbasing en uiteindelik verbystering toe ek vanoggend saam met ‘n vinnige ontbyt ‘n aktuele program op TV raaksien. ‘n Bespreking oor kreasionisme teenoor evolusie, wat sommer toe ook blyk ‘n stryd tussen godsdiens teenoor wetenskap te wees. Ek is regtig “uit dit uit”! Blykbaar is hierdie stryd fel en lewendig in die VSA, maar het nog maar sy begin in Suid-Afrika. Die een kenner en hoog geplaaste na die ander het hulle menings gelug, en as die impak daarvan op ons denke en wete nie so ernstig was nie, sou dit werklik ‘n heerlik belaglike komedie kon wees. Daar is so ‘n klomp onsinnighede kwyt geraak dat dit moeilik is om daarop kommentaar te lewer in ‘n enkel blog-stukkie.
In die eerste plek het die persone wat aan die gesprek deelgeneem het meestal nie geweet waaroor hulle nou eintlik redeneer nie. Evolusie is nie ‘n geloof of lewensoortuiging soos wat meeste te kenne probeer gee het nie. Dit is ‘n wetenskaplike hipotese, of dan teorie as ‘n mens so ver wil gaan, wat die werkinge van en inligting wat ons oor die natuur het, en die prosesse wat nog daagliks waarneembaar is, met die kennis wat tot ons beskikking is, die beste verduidelik. ‘n Wetenskaplike hipotese of uitvinding gaan nie van die standpunt af uit om bv. ‘n godsdienstige geloof verkeerd te probeer bewys nie. Dit ondersoek net die werklikheid in sover ons daartoe in staat is. Een persoon het met erns kwyt geraak dat wetenskaplikes van die standpunt af uitgaan dat daar nie ‘n God is nie. Wel …enige persoon wat weet wat wetenskap is en wat wetenskaplike ondersoek behels, sal weet dat ‘n mens nie met ‘n vaste aanname wegspring oor enige iets nie. ‘n Mens sou wel aannames kon maak in jou hipotese stelling, maar sodanige aannames kan weer op hulle beurt aan wetenskaplike ondersoek onderwerp word. Sekere aannames is natuurlik al so deeglik getoets en deurwerk dat ons dit al amper as die werklikheid of waarheid kan aanvaar, soos dat die aarde nie plat is nie, maar “rond” is, en dat die aarde om die son draai, en nie die son om die aarde nie. Dit is juis wetenskap om ten alle tye ‘n oop gemoed en oop kop te hou, en alle moontlikhede te ondersoek, en alle dinge te toets, anders sou ‘n mens nie wetenskap pleeg nie. In sodanig kan ek dan ook geen stryd tussen geestelikheid en wetenskap sien nie. Wetenskap is maar bloot die ontdekking en ondersoek van die heelal en alles daarin sover as wat ons sintuie, verstand en wetenskaplike metodiek en instrumente ons toelaat. Dit is juis die ontdekking van en verwondering oor die kompleksiteit en verbysterende wonder van die heelal en ons ontstaan daarin wat ons nader sal bring aan ‘n God, eerder as stomme wesens wat rondploeter en uit blote vrees en onkunde aanhang wat ook al aan hom opgedis word in die naam van Godsdiens.

Een persoon het daarop voortborduur dat geloof of Godsdiens meer natuurlike denke vir die mens is as wetenskap! Genugtig! Ons sou blykbaar nie kon verstaan dat die son nie opkom en ondergaan nie (letterlik nie), en dat ‘n muur eintlik uit meer ruimte as vaste deeltjies bestaan nie. Indien ons nie eens hierdie basiese idees kon verwerk nie, watter klomp morone is die mensdom dan? Agge nee! En wat van die nuwe kennis wat ons uit kwantum fisika begin ontdek? Dit bring baie nuwe insig, en laat ons vorige wetenskaplike hipoteses weer heroorweeg, herbedink en hertoets. Hoekom moet ons bygelowig wees om ‘n spirituele wese te wees?

Een persoon het selfs so ver gegaan om te sê dat ons nie verstaan waar wetenskap vandaan kom nie, en ek het skoon die draad van sy storie verloor – iets van wetenskap wat reeds in die spiritualiteit van vroeëre volke (Afrika volke?) sy ontstaan het.

Ooo ja, en natuurlik moes die geestelikes ook kwytraak dat Godsdiens vir ons die etiek gee en die manier waarop ons hier op aarde moet lewe, leer. Inteendeel, in die naam van Godsdiens is die mees wrede en afgruwelikste dade in mense geskiedenis gepleeg. Etiek, opregtheid, eerlikheid en alles wat daarmee saamhang is deel van ons wese. Godsdiens kan dit nie vir ons gee nie. Spiritualiteit kan wel, want as ‘n mens die liefde voel wat in ‘n mens se diepste menswees is, en jy is lief vir jouself, lief vir jou medemens en alle ander lewende wesens, en lief vir die wonderlike heelal en ‘n skepper wat so iets ongeloofliks kon skep, dan volg die moraliteit, etiek en respek vanself. As ek dan so aanmatigend mag wees, haal ek twee stukkies uit die Bybel aan: Romeine 13 vers 10: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.” en natuurlik die bekende I Korinthiërs 13, en veral vers 13: “En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”. Nou hoe het ek hier by die liefde beland? Ek dink net dat wetenskap en hipoteses soos evolusie en kreasionisme, en ons kennis van die werklikheid waarin ons lewe, nie eintlik van belang is in opregte geestelikheid en die Grootsheid wat God moet wees om ten minste ‘n heelal wat ons maar van weet te kon skape nie, of dalk selfs net meer daarvan te verstaan nie! Geen ontdekking, ondersoek, nuwe wetenskaplike kennis en hipoteses kan Godsdiens skade doen nie. Indien dit lyk asof dit doen, moet Godsdiens weer na ditself kyk!

 

 

5 Responses

  1. Annerkant, mense is onkundig om Godsdiens en Wetenskap teenoor mekaar op te weeg. Die koninkryk van God is nie van hierdie wêreld nie en bots dus in geen opsig met die Wetenskap. Die Wetenskap gaan oor die dinge van hierdie wêreld en bots dus ook nie met die koninkryk van God. Die sienlike word as sinnebeelde vir ons voorgehou om sodoende, die onsienlike aan ons te openbaar.

  2. Ai, Hans, ek het nou vir jou ‘n lekker lang kommentaar terug geskryf en toe vergeet ek ‘n mens kan nie ASCII gebruik om hier ‘n deelteken e te maak nie, en bom ek lekker uit … ag, tog.
    Nou sal ek dit korter probeer hou.
    Ek stem saam met jou, in soverre ons nog in staat is om wetenskap te beoefen beweeg Godsdiens en Wetenskap op verskillende vlakke, maar in essensie behoort dit seker oor dieselfde werklikheid te gaan?

    Weereens dankie vir jou lees en kommentaar lewer! Het jy ook ‘n blog? Sal daar probeer uitkom. Ek verdwaal nog partykeer ‘n bietjie hier in WordPress.

  3. Hans, ek het toe na die URL van jou naam probeer gaan, maar dit wou nie laai nie – sal op ‘n stadium weer probeer.

  4. Jammer, ek het nie ‘n blog nie omdat ek teveel tyd op ander se blog’s spandeer.

  5. Skies, Hans, ek moet eintlik nie op jou reageer nie, want dan vat ek nog tyd, en ek weet nie hoe jy byhou om by almal uit te kom nie, en weet waar jy kommentaar gelewer het nie! Snaaks genoeg, ek het ook ‘n rukkie terug gedink dat ‘n mens eintlik amper moet kies tussen self blog, en om by ander interessante bloginskrywings te lees en kommentaar te lewer as ‘n mens iets wil bylas / vrae …! Daar is net nie genoeg tyd vir alles nie! Dankie dat jy by my ook lees, hoor.🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: