Nie die einde oor die terme spiritualiteit en christen nie

Die presiese betekenis, definisie of konsep van woorde of terme wat ‘n mens gebruik wanneer jy oor ‘n onderwerp praat, dink, skryf of redeneer is van uiterse belang.  Daarsonder kan kommunikasie redelik skeef loop, en wat een persoon bedoel, heel verkeerd verstaan word deur die volgende persoon wat dit hoor of lees.  (Nota: in Afrikaans het ons natuurlik ook die probleem dat terminologie in seker vakgebiede nog nie behoorlik ontwikkel is nie.)

In kommentaar op ‘n vorige inskrywing van my vra Duskant wat ek dink ‘n teksboekdefinisie van ‘n Christen sal wees.  (Na aanleiding hiervan het Flippiefanus ook ‘n interessante inskrywing oor die definisie van ‘n Christen geskryf: Burgerskap in God se volk.)  Ek spring toe daar weg met ‘n definisie, maar besef gou dat ek vasbrand. Ek het besef voordat ek oor christen wees en spiritualiteit kan begin dink en skryf, moet ek eers presies weet hoe ek dit vir myself definieer.  So beland ek toe weer op Google, die plek wat my altyd so oorweldig met al die inligting, en vir iemand soos ek ‘n plek waarin ek behoorlik verdwaal en in alle rigtings gelyktydig begin hardloop.

Oor christen wees verlaat ek my eers op Flippiefanus se inskrywing en sal later weer mooi daaroor gaan oplees en dink.

Oor spiritualiteit loop ek my ook vas.  Daaroor kan ek my ook nog nie finaal uitlaat nie, behalwe wat dit op hierdie oomblik vir myself betekenis het nie ( ‘n volgende inskrywing iewers in die toekoms :) ). Ek loop tog die volgende interessante en veelseggende webinligting raak wat die eerste koppelinge is wat ek in Google gekry het oor die betekenis van spiritualiteit, maar om dit en moontlike definisies te verteer kan ek nie so gou nie.

  • Een van die eerste “hits” ( wat is “hits” in Afrikaans, “kolskote”? :) ) lei na George Maru se blog en ‘n inskrywing van hom, “Die Gevare van Spiritualiteit?“.  Hy gee nie ‘n definisie vir spiritualiteit nie, maar laat ‘n mens dink oor die waarde van spirituele ontberinge en spiritualiteit.  Hy vra onder andere of spiritualiteit en geloof ‘n mens nie soms kan verwyder van liefde vir self en medemens nie, en dat hierdie voertuie dalk moontlik die dinge is waarvan jy gered moet word, en nie tot jou redding lei nie.  Die kommentare op sy inskrywing is ook interessant om te lees.
  • Die volgende stukkie waarop ek afkom is ‘n boekhoofstuk wat op daardie stadium geskryf word deur Ds. Chris van Wyk van die NG kerk.  Dit handel oor spiritualiteit in die kerk, en ek hou van die aanhaling: “Dit beteken dat ons moet afstand doen van die drang om mense te bekeer deur hulle die evangelie te leer, en hulle eerder aan die goeie nuus bekendstel, onder andere deur dit met ons lewe te modelleer.”  Ek neem aan hierdie ds. veroorsaak seker nogal kontroversie in die tradisionele christenkerke, maar ek sal nie weet nie.
  • ‘n Sekere Pieter de Villiers (van Stellenbosch af – miskien ken Johan Swarts hom) vra op sy blog “Wat is spiritualiteit“. Dit is nader aan wat ek by uit wil kom.  Hy begin deur die verskillende betekenisse wat aan spiritualiteit geheg word te lys: “gevoel van godsdienstigheid”, New Age, alles wat ‘n mens “goed” laat voel (Reiki, joga ens.), en kontak met die geeste. Hy gaan voort deur te katagoriseer dat hy oor spiritualiteit (volgens hom letterlik “dit wat te doen het met die Gees”) in die Christelike of Bybelse sin van die woord. Dit kan volgens hom eenvoudig verstaan word as “geleefde geloof”, maar gaan tereg voort dat ‘n mens die term meer presies moet definieer om ‘n mens in staat te stel om daaroor te redeneer en praat. Hierna lys hy verskeie aspekte van christelike spiritualiteit: 1) die verhouding tussen die goddelike en die menslike; 2) transformasie van die mense deur God – verlossing van die mens; 3) verlossing is ‘n proses, en spiritualiteit het dus te doen met ‘n geloofsreis.
  • Hier word bespiegel oor die verskil tussen geestelikheid en spiritualiteit na aanleiding van ‘n berig deur ‘n Prof. Christina Landman wat in die Beeld verskyn het.  Vir my beteken dit dat “geestelikheid” en “spiritualiteit” deur sommige nie noodwendig as sinonieme beskou word nie.
  • Op ‘n blad van die Stellenbosch Gemeente (hoekom beland ek nou aanhoudend daar by die Stellenboschers?) is daar ‘n stuk vir studie oor “Vensters op ‘n ander realiteit … Spiritualiteit”.  Hier word baie vrae gevra, onder andere, “Wat is die definisie van spiritualiteit”.  Ek sou graag wou weet wat die antwoord was.  In die aanloop tot die vrae skryf ds. André Serfontein oor spiritualiteit.  Hy begin met soort van ‘n definisie: “Spiritualiteit is ‘n bewustheid dat daar meer is as dit wat ons kan sien en verstaan; daar is iets of iemand groter as ons (transendensie).  Spiritualiteit beskryf ook ons behoefte aan ‘n konneksie met hierdie iets of iemand groter (intimiteit).  Mense reageer verskillend op hierdie bewuswording en soeke – sommige maak hulle eie spiritualiteit op, ander vergeestelik  dit, party skei dit van ‘n goddelike dimensie.”  Ek kan nogal hiermee saamstem.  Dalk is my probleem met christen wees nie die spirituele deel daarvan nie, maar die dogma daarvan (eerste gedagte wat by my opkom).
  • In Wikipedia is daar natuurlik ook ‘n stuk oor spiritualiteit: wiki oor “spirituality”. Hier word baie geskryf.  Julle kan dalk self eers gaan lees.

En so eindig ek weer met ‘n inskrywing wat nie regtig uitkom by wat ek beplan het nie: my eie definisies en betekenis van spiritualiteit en christen in die sin waaroor ek daaroor dink en skryf en hoe dit deel is van my geestelike reis.  Ek sal dit dus weer besoek, en waarskynlik sal dit ook verander soos my reis vorder.  Hierdie gaan ‘n laaaaaang reis wees!

Drome teen God.

Gisternag het ek gedroom.  Ek dink ‘n mens droom waarskynlik elke keer wanneer jy slaap, maar ek onthou gewoonlik nie dat ek gedroom het, of wat ek gedroom het nie.  Gisternag het ek egter wakker geskrik terwyl ek droom.  Ek kan nie die besonderhede onthou nie, maar ek het gedroom dat ek met God baklei, en ook met mense baklei en hulle probeer oortuig dat daar nie ‘n God is nie.  Dit was nogal vir my ontstellend, want dit was nog nooit in my gedagtes om ten alle koste te glo of ander te probeer oortuig dat daar nie ‘n God is nie.  Inteendeel, ten spyte daarvan dat ek nie meer ‘n christen is nie, het ek feitlik daagliks gesprekke met God, in die wye sin van die woord. 

Drome is irrasioneel en ek heg nie regtig betekenis daaraan nie.  Maar hoekom sou ek nou vir die eerste keer hierdie beelde in my onderbewussyn hê, of daarvan bewus word?  Dit is moontlik te wyte daaraan dat ek nou ook taamlik baie lees wat mense skryf wat glad nie in God glo nie, en wat dit soms met passie en drif verdedig.  Die droom het my baie ontstel, en toe ek wakker word het ek dadelik die Here om verskoning gevra, sonder om mooi daaroor na te dink.  Dit is hoe ek groot geword het.

Elke stukkie wat ‘n mens lees, hoor, oor gesels, mense wat jy mee te doen het, jou vriende, musiek … alles laat ‘n stukkie by jou agter.  Moet ek dit sif en sensor?  Hoe objektief moet ek my geestelike reis aanpak?

My persoonlike joernaal – wat om hier te verwag.

groei, vernuwing

groei en vernuwing

 In die kategorie, Persoonlike Joernaal, gaan ek skryf oor my persoonlike gevoelens, ervaringe, denke en groei tydens my geestelike reis. 

My skrywes hier het geen doel voor oë om gedeel te word, of vir iemand anders behalwe myself tot nut te wees of iets te beteken nie.  Natuurlik sal ek nie omgee as dit gelees word nie, want anders sou ek dit privaat gehou het.  Dit mag dalk net iemand anders help om deur hulle eie gevoelens en ervaringe te werk, maar dit is nie wat ek in hierdie kategorie wil bereik nie.  Moet asseblief niks van die inskrywings verwag nie.

Die inskrywings sal persoonlik van aard wees, en ek gaan dit selfsugtig en vir my eie behoeftes skryf. Ek gaan dit skryf net soos wat dinge met my gebeur, sonder enige plan of volgorde, en sover as moontlik sonder om dinge te sensor.  Ek gaan nie omgee of dit sin maak, baie eenvoudig is, en of dit enigsens akademies van aard is nie.  Dit mag ook onsamehangend wees.  Meeste mense sal dit nie interessant, leersaam of opwindend vind nie, maar hierdie is regtig net vir myself bedoel.  Hieraan wil ek my groei meet.  Wanneer ek eendag hierop terugkyk, hoop ek dat dit met dankbaarheid en verbasing sal wees.
Flickr-foto.

Hoeveel kan ons waarneem?

Ons neem slegs by benadering een vyftig-biljoenste (1/50 000 000 000) van wat bestaan waar!

Een van die dinge wat my nog die meeste pla in my geestelike reis is hoe min ek weet van die werklikheid.  Hoe neem ‘n mens dan besluite oor jou lewe se doel, hoe jy die lewe moet lewe, en oor jou spiritualiteit.  Hoeveel weet ons?

Ons gewaarwording van realiteit deur middel van ons sintuie bestaan uit so min as een twee-biljoenste (1/2 000 000 000) van die energie in ons bekende heelal.  Hierdie “bekende” energie is slegs ‘n bitter klein deeltjie van al die energie wat tydens die oerknal (“big bang”) vrygestel is.  Meeste realiteit het in “dark Read more »

Gene vir God IV.

Hierdie is die laaste inskrywing in hierdie reeksie van inskrywings oor Gene vir God. Wat het ek geleer en neem ek saam hieruit?

Vir my beteken spiritualiteit (onderwerp van my een van my volgende inskrywings) ‘n wete of bewus wees van iets groter of “meer” as ons lewe hier op aarde soos wat ons dit dmv ons sintuie waar kan neem.  Hierdie “wete” kan dan vertaal word daarin dat ek bewus is of “weet” van ‘n God of Opperwese, en om dan in ‘n God te “glo”.  God is ‘n konsep wat in alle beskawings voorkom, en hierdie konsep, of konsep van iets meer as hierdie lewe op aarde, is al merkbaar in die heel oudste kulture.  Die uitdrukking in die tipe godsdiens wat ‘n mens beoefen, hang nou saam met die kultuur waarin jy groot geword het.

Daar is al navorsing gedoen op die moontlike redes of oorsprong, waarom mense oor die algemeen “spiritueel” is, in ‘n meer of mindere mate (sommige mense het dalk glad nie hierdie “gevoel” nie), en in ‘n God wil glo.   Een van die kernvrae is: wat het eerste gekom, God of die nodigheid om in ‘n God te glo? (Op een manier geïnterpreteer, bestaan God?).

Een stuk navorsing hieroor is deur ‘n genetikus wat op kanker navorsing doen, Dean Hamer, gepubliseer.  Hy het die resultate van sekere vrae in ‘n opname oor ‘n persoonlikheidskenmerk bekend as selftransendensie (self-transcendence)  gekorreleer met ’n variant van die geen bekend as VMAT2.  Mense met een van twee variante van die geen het effens hoër punte behaal in die selftransendensie vrae.  Dit was volgens Hamer ‘n konstante korrelasie. Die resultate en afleidings is nog net in sy boek, The God Gene: How Faith is Hardwired into our Genes, gepubliseer, en is nog nie deur ander wetenskaplikes  geredigeer of getoets nie (sover ek agter kon kom).  Hierdie bevinding is dus nog nie “bevestig” in die wetenskap nie, en Hamer het homself baie kritiek op die hals gehaal deur dit eintlik voortydig in ‘n boek te publiseer sonder om die resultaat van die navorsing eers in ‘n wetenskaplike tydskrif te publiseer. Flippiefanus gaan eers so ver om dit pseudo-wetenskap te noem, en hy is reg in so verre dit nie “goeie” wetenskap is nie.  Dus – daar is die moontlikheid dat ons geneties geneig kan wees om in God te glo, of spiritueel te wees, maar daar is nog te min daaroor nagevors om enige defnitiewe gevolgetrekkings te  maak.  Ek persoonlik dink ook nie dit gee regtig ‘n uitspraak daaroor of God bestaan of nie.

Na lees van ander bloginskrywings en gesprekke, het ek vir eers tot die gevolgtrekking gekom om te probeer redeneer of God bestaan of nie, is nie regtig moontlik nie, want ons kan dit nie “wetenskaplike toets” op hierdie stadium nie.  Dit is ‘n kwessie van geloof.  Jy glo daar is ‘n God, of jy glo daar is nie ’n God nie, of jy neem geen finale besluit daaroor nie. (Tussenwerpsel: dit is natuurlik moontlik om oor natuurlike prosesse soos die “bestaan” van evolusie te redeneer.)

Ek het ook tot die besluit gekom vir my eie soeke, dat die bestaan van God, en spesifiek in die konteks van ‘n christelike God, is in wese nie belangrik vir my eie geestelike of spirituele groei en vrae daar rondom op hierdie stadium nie.  Dit behoort my nie te rem nie.  Dit raak belangrik wanneer ek moet besluit of ek my spiritualiteit in ‘n spesifieke godsdiens, soos christen wees wil uitleef, of wanneer ek daartoe bekeer word.  Dit sal nog by my bly, maar ek moet dit nie die kern van my reis maak nie, want ek kan dit nie self oplos op hierdie stadium nie.  Dit beteken natuurlik nie dat ek nie meer daaroor moet wonder, vrae daaroor vra, of daaroor “navorsing” doen en lees nie.

Seker die belangrikste wat ek gekry het uit hierdie oefening is die bydraes van ander in gesprek, en veral in die vorm van boeke wat aan my voorgestel is wat die moeite werd is om te lees, deur Rosalind en Flippiefanus:

Nota: Ek sluit die koppelinge na die boeke by Amazon.com in, want daar is dikwels meer inligting, ook oor ander soortgelyke boeke, ingesluit.

     

Ego, arrogansie, hoogmoed, ydelheid

Hierdie is ‘n moeilike inskrywing.  Dit is baie moeilik om te verduidelik, en dit is baie persoonlik.  Dit is geen refleksie op enige iemand anders, behalwe ek self nie, want dit bedoel nie om middelmatigheid daar te stel nie.  Die gaan meer oor ‘n ingesteldheid.

Daar is hierdie alewige tweestryd in my gemoed.  Aan die een kant sukkel ek ook maar met selfbeeld probleme, maar aan die anderkant kan ek die arrogansie in  my soms letterlik voel regop staan.  Gebrek aan selfwaarde en ‘n swak selfbeeld is ‘n groot probleem.  Dit is waar.  Maar arrogansie, hoogmoed of ydelheid is eintlik die dinge wat in die pad van geestelike groei staan.  Hand-aan-hand hiermee loop die ego.  Daardie ego wat verdedig moet word, soms teen ‘n hoë prys.

Dit is ‘n moeilike ding om te bestry - arrogansie.  Ek kan darem met eerlikheid sê dat ek nie regtig dink ek is beter as ander mense nie, en nie op enige iemand neerkyk nie.  Ek is ook nie meer regtig arrogant oor my vermoëns nie, want daar is altyd iemand wat beter sal wees.  Hierdie tipe arrogansies is maklik om neer te lê en te bestry.  Die moeilike arrogansie is eintlik die een wat jou ego daar stel teenoor dinge wat jy moet leer maar wat nie by jou status of eie wil pas nie.  Snaaks genoeg rig dit in die binnekamer die grootste skade aan.  Is dit arrogansie wat ‘n mens keer om sommer net oor te gee en te glo?  En as ‘n mens glo, is dit arrogansie wat jou met meerderwaardigheid as verhewe bo diere en die natuur te stel?  Is dit arrogansie om te dink jou godsdiens is die enigste ware godsdiens?  Is dit arrogansie wanneer ‘n mens dink jy kan die werklikheid verander deur jou denke?  Hoe nederig moet ‘n mens wees? Hoeveel moet jy van jouself neerlê om by die waarheid uit te kom?

Dit het my gisteraand weer getref toe ek die inskrywing oor Louise Hay se boek getik het.  Terwyl ek geskryf het, het ek die hele tyd getwyfel en gehuiwer.  Moet ek regtig hier openbaar dat ek in soveel eenvoud soveel waarde vind?  Dit klink glad nie geleerd genoeg nie.  Hoe kan iets so eenvoudig so ‘n impak hê?  Die kern is nie regtig moeilik om te verstaan nie.  ‘n Mens moet dit net voel en doen.  Dit sou heelwat meer aansienlik wees om daaroor te redeneer.  Was ek bang ek sal nie “geleerd” genoeg lyk nie?  Gaan dit lyk asof ek nou sommer breinloos geraak het? Selfs terwyl ek nou hier skryf, wonder ek hoekom ek dit doen.  Is dit dalk om aandag te soek, my eie ego te streel, myself voor op te stel, mense te trek om my blog te kom lees? 

‘n Ander moeilike sy van die saak: ons moet ons self lief hê en voorop stel, daarvan is ek seker, maar wanneer word dit ‘n meerderwaardigheid? 

In die bybel het ek geleer ‘n  mens moet soos ‘n kind glo, maar ek vermoed ‘n mens moet ook soos ‘n kind wees om geestelik te groei.  Ek mag maar vra, maar dit moet wees sonder pretensies, sonder ego, sonder arrogansie, sonder hoogmoed, sonder ydelheid, net met ‘n oop en skoon gemoed.

Hoogmoed moet tot ‘n val kom, voordat ‘n mens by die waarheid uit kan kom.

Een van Sammi se inskrywings, “You don’t need to teach a seed to grow“, sluit goed aan by hierdie inskrywing van my.  Sy vra of God nie in elke dag se “klein” wonderwerke te sien is nie, terwyl ons hom moontlik net in groot dinge soek.  Mooi en opbouend om te lees.

En toe lees ek ook ‘n inskrywing van Nelba, “Geloof weerlê logika” waarin sy haar ervaring en aanvaarding van geloof regtig besonders weergee.